6 minute read

Lamvrektes vreet winste

Aangesien ongeveer 90% van alle lamvrektes gedurende die perinatale periode voorkom, is dit belangrik dat boere hulle bestuur-, voeding-, seleksieen gesondheidsprogramme voortdurend aanpas en opskerp in ’n poging om lamverliese te beperk en winsgewendheid van skaapboerdery te verhoog.

Perinatale lamvrektes (voor, tydens en na lam) wissel van 9 tot 41% en is waarskynlik die grootste enkele bron van ondoeltreffendheid in skaapproduksie.

Advertisement

Die oorlewing van lammers hang af van die suksesvolle wisselwerking tussen die ooi en haar lam(mers) kort na geboorte en die vinnige inname van energie en immunoglobulienes (teenliggaampies) deur die inname van biesmelk. Onvoldoende biesmelk kan dus die lam se kanse op oorlewing beïnvloed omdat dit die hoofbron van energie na geboorte is, asook die enigste bron van teenliggaampies en water. Dit is veral die geval waar daar ’n hoë persentasie meerlinggeboortes in ’n kudde is en/of ongure weer (byvoorbeeld koue, hitte en/of wind) tydens lamtyd.

Produksie van biesmelk is baie gevoelig vir ’n tekort aan sowel deurvloeiproteïen as energie, terwyl die aanvang van laktasie ook daardeur vertraag word. Biesmelkproduksie word ook nadelig beïnvloed deur die kondisie van ’n ooi omdat ooie in ’n skraal kondisie ’n laer biesproduksie het.

Voedingsaanvullings wat hoë vlakke van deurvloeiproteïen en energie voorsien, het die vermoë om die hoeveelheid biesmelk met geboorte, asook die daaropvolgende melkproduksie, te verhoog en dus die potensiaal om lamoorlewing te verbeter.

Dit is baie belangrik dat hierdie aanvullings minstens die laaste vier weke voor lam voorsien word om uierontwikkeling te bevorder.

Dit sal verseker dat soveel as moontlik biesmelk voor geboorte in die uier versamel sodat daar vir die pasgebore lam(mers) onmiddellik na geboorte voldoende biesmelk beskikbaar is, wat hulle kanse op oorlewing sal vergroot. Daar word beraam dat die pasgebore lam wat buite in die veld gebore word die eerste 18 uur na geboorte 280 ml biesmelk per kg geboortemassa benodig om ’n goeie kans te hê om te oorleef.

Volgens Australiese navorsers produseer ouer ooie meer biesmelk as jongooie. Hulle is daarom van mening dat lekaanvulling vir jongoooie wat vir die eerste keer lam, belangriker en noodsaakliker is om lamoorlewing te verhoog as vir ouer ooie.

Toesighouding tydens lamtyd

Daar word algemeen geglo dat menslike toesighouding en ingryping lamvrektes sal beperk en dus lamoorlewing sal verbeter. Die voorsiening van hoëdeurvloeiproteïenlekke verminder ook geboorteprobleme, versnel die geboorteproses en verhoog die lewenskragtigheid van lammers.

Navorsing deur dr Schalk Cloete van Elsenburg, asook Australiese navorsers, toon dat toesig wat slegs gedurende daglig geskied slegs gedeeltelik suksesvol sal wees om lamoorlewing te verbeter omdat 42 tot 45, 2% van die ooie gedurende die nag (18:00 tot 06:00) lam. Waar ooie in skure lam, kan naglammings drasties verminder word indien hulle in die oggend gevoer word, maar in weidende diere blyk dit ’n hoogs onwaarskynlike opsie te wees.

Navorsinginligting toon dat ooie verkies om op hoërliggende gebiede te lam en hulle konsentreer soms ook meer by kampgrensdrade in ’n poging om hulle te isoleer kort voor en tydens die geboorteproses. In hierdie verband is dit ook uiters belangrik dat ooie in gelyke en beskutte kampe lam wanneer dit koud, nat en winderig is of in kampe met voldoende skaduwee tydens warm weerstoestande.

Voldoende toesighouding tydens lamtyd is ’n voorvereiste om hoë lamoorlewing te verseker, op voorwaarde dat dit kalm en rustig geskied. Ooie moet so min as moontlik tydens lamtyd gesteur word en hantering van ooie en pasgebore lammers moet tot ’n minimum beperk word. Enige inmenging (byvoorbeeld van mense of ander ooie wat op die punt is om te lam) wat veroorsaak dat die ooi en haar pasgebore lam(mers) geskei word voordat ’n sterk ooilamband gevorm is, kan tot hoë lamvrektes lei.

Cloete en medewerkers is van mening dat lammers met hoë lewenskragtigheid moederlike belangstelling prikkel, wat bevorderlik is vir lamoorlewing. Sulke lammers staan baie gou na geboorte op om te suip, wat baie bevorderlik is vir die vorming van ’n sterk ooilamband reeds in ’n vroeë stadium.

Navorsing bevind ook dat lammers wat dik gesuip is, die vorming van die ooilamband bevorder wat weer die belangrikheid van die voorsiening van lekke beklemtoon om ’n voldoende hoeveelheid biesmelk met geboorte daar te stel.

Indien laatdragtige en lammerooie voldoende deurvloeiproteïen asook minerale en vitamines via lekke inneem om tekorte aan te vul en wanbalanse reg te stel, moet alle ooie wat gelam het, maar nie ’n lam speen nie, uitgeskot word en nie vir verdere teling gebruik word nie.

Merk ook ooie wat met geboorte gehelp is asook hulle lam(mers) en skot sowel die ooi as haar lam(mers) uit sodat hulle nie vir verdere teling gebruik word nie. In hierdie verband is dit noodsaaklik dat teelramme slegs geselekteer word uit ooie wat al hulle lammers suksesvol grootgemaak het.

Deur streng by hierdie seleksiestrategie te hou, het Nieu-Seelandse navorsers die voorkoms van geboorteprobleme in ’n ooikudde binne vier jaar van 20 tot 31% na minder as 4% verlaag.

Vasstelling van oorsake van lamvrektes

Die ideaal is om ’n nadoodse ondersoek op alle lammers wat vrek te doen om die oorsaak van die vrektes te probeer vasstel. Indien die oorsake van vrektes bekend is, kan bestuursmaatreëls in plek gestel word om dit te beperk. ’n Basiese kennis is nodig om die ooglopende oorsake te diagnoseer. Indien daar onsekerheid is oor die oorsake, moet die hulp van ’n veearts ingeroep word, veral as lamvrektes hoog is. In hierdie verband is dit belangrik dat vars, dooie lammers met die nageboorte so gou moontlik na ’n veearts geneem word.

Die volgende inligting kan van waarde wees in die vasstelling van die oorsaak van lamvrektes:

• Dooie lammers moet geweeg word. Die ideale geboortemassa is 3,5 tot 5,5 kg. Die persentasie doodgebore lammers neem toe by ’n geboortemassa minder as 3,5 kg en meer as 5,5 kg. In hierdie verband is gevind dat ligte meerlinglammers (minder as 3,5 kg) meestal doodgebore word of kort na geboorte vrek weens hulle onvermoë om genoeg melk in te neem.

• Vrektes as gevolg van moeilike geboortes (distokie) kom weer meer algemeen by te swaar (meer as 5,5 kg) lammers, veral enkelinge, voor. Te ligte lammers is dikwels die gevolg van ooie wat nie tydens paring in die regte kondisie was nie en/of wat te veel kondisie gedurende dragtigheid verloor het.

• Lammers wat doodgebore is, het geen biesmelk in die melkpens nie en dikwels is die vrugvliese nie gebreek nie en lê die lam steeds in die “geboortesak.” Doodgebore lammers se kloue is sag en het nie grond aan die onderkant nie omdat hulle nog nie geloop het nie.

• Geboorteprobleme (distokie) lei tot geboortebeserings (byvoorbeeld bloeding op brein en ruggraat) en geboortespanning (lammers wat met ’n geel, groen of bruin geboortekleed gebore word).

• Die mees algemene oorsaak van geboorteprobleme is subkliniese melkkoors as gevolg van ’n deurvloeiproteïen- en kalsiumtekort, te klein pelvisopening of verkeerde ligging van die lam of sy ledemate in die geboortekanaal. In laasgenoemde geval moet die ooie met die geboorte gehelp word om te voorkom dat die lammers en soms die ooie vrek.

• 'n Lam wat nie wel lyk nie se temperatuur kan gemeet word deur ’n koorspennetjie by sy anus in te druk. Die normale temperatuur is 39 °C. Indien dit hoër is, dui dit op ’n koorsreaksie wat heel waarskynlik deur ’n siektetoestand veroorsaak word. Temperature laer as 39 °C, maar hoër as 37 °C is ’n aanduiding dat die lam effens verkluim is.

• Om te voorkom dat hierdie lammers verkluim, moet hulle dadelik saam met die ooi in ’n beskutte plek gesit word. Hierdie lammers moet dopgehou word en indien hulle nie suip nie, moet hulle met behulp van ’n maagbuis van die ooi of ’n koei se biesmelk gevoer word. Indien ’n lam se temperatuur met twee tot drie grade (tot 37 °C of laer) val, verloor die lam sy suiprefleks. Hy kan dan nie die melk sluk nie en hy moet met ’n maagbuis gevoed word om hom te red.

• Enkel-, twee- en drielinglammers behoort drie keer per dag onderskeidelik 200, 150 en 100 ml biesmelk gevoer te word. Indien die lam se temperatuur laer as 37 °C is, is die lam besig om te verkluim.

Samevatting

Om die geboorteproses te oorleef en voldoende biesmelk onmiddellik na geboorte in te neem, is die twee belangrikste “hekkies” wat die pasgebore lam moet oorkom. Indien lammers ’n “voldoende” geboortemassa (3,5 tot 5,5 kg) het, normaal gebore word sonder komplikasies, ’n voldoende hoeveelheid energie en teenliggaampies via die biesmelk inneem en ’n sterk band met hulle moeder ontwikkel, is hulle kanse vir oorlewing uitstekend.

Om dit te verseker, moet die bestuur, versorging en voeding van ooie regdeur dragtigheid en die toesig gedurende lamtyd op ’n hoë vlak wees. Daarmee saam moet alle ooie wat gelam het en nie ’n lam speen nie, summier geprul word terwyl die gebruik van teelramme wat gebore is uit ooie wat al hulle lammers suksesvol tot speen grootgemaak het as ’n vereiste gestel word.

ProAgri is dankbaar dat 'n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

This article is from: