5 minute read

Boer saam met die natuur: Roofdierbestuur deur 'n wyehoeklens

Veeverliese weens roofdiere is nie nuwe nuus nie. Veeboere in SuidAfrika en elders sukkel al dekades lank met roofdiere wat hulle kleinvee vang en, soos ՚n Karooboer op ՚n dag opgemerk het: “Die jakkalse vreet ons van ons plase af!”

Chavoux Luyt van die Cape Leopard Trust (CLT) en Jaco van Deventer van CapeNature het onlangs ՚n tweede ‘Boer saam met die Natuur’-slypskool by Bella de Karoo aangebied waartydens boere kon uitvind hoe hulle roofdiere op hulle plase kan bestuur.

Advertisement

Die slypskole is ՚n inisiatief deur die CLT in samewerking met vennote soos Herding Academy en CapeNature, en het ten doel om verligting van roofdierkonflik te bevorder en boerderybestuursmetodes aan te moedig wat die natuur beskerm en volhoubaarheid en produktiwiteit verhoog.

Die slypskool in April het gefokus op holistiese roofdierbestuur en besluitneming in die verband. Dis deur nege mense bygewoon, naamlik Tembelihle Mjamba, Jan Fourie, Robbie Roberts, Herman van der Walt, Tom Barry, Wayne Meyer, Carlo van Tonder, Louis Jordaan en Jaco Fourie. Die slypskool het bestaan uit afdelings wat fokus op die gedrag en ekologie van roofdiere, die metodes om roofdiergedrag te bestuur, die evaluasie van ՚n karkas om die skuldige roofdier te identifiseer, en praktiese gevallestudies.

Ken jou vyand

Luiperds, rooikatte en rooijakkalse word gewoonlik met veeverliese vereenselwig. As ՚n boer uit die roofdier se gewoontes en optrede weet met watter een hy te kampe het, kan hy voorkomend optree. Elkeen van die roofdiere kan onderskei word aan hulle spesifieke sosiale en gebiedsgedrag, voorkeurhabitat en -prooi, jag- en vreetgewoontes, aanteelgedrag en die invloed van hulle teenwoordigheid op ander roofdiere.

Luiperds en rooikatte

Luiperds en rooikatte verkies ruwe berg-agtige terrein of beboste gebiede. Hulle is alleenlopend en gebiedsgebonde. In sommige streke het luiperdmannetjies massiewe groot loopgebiede van tot 70 000 ha en hulle kan tot 200 km ver stap om vir hulleself ՚n nuwe loopgebied te soek. Ouer, dominante diere het gewoonlik groter loopgebiede as jongeres wat nog die gebied verken.

՚n Mannetjie se loopgebied kan met dié van ՚n paar wyfies oorvleuel en albei katsoorte teel heeljaar deur. Die ma maak haar kleintjies alleen groot en sodra hulle volwassenheid bereik, word hulle uitgestoot om hulle eie loopgebied te gaan soek.

Albei katspesies is spesialis-vleisvreters wat gewoonlik snags jag. Hulle vind die prooi deur van veral van hulle ore en oë gebruik te maak en bekruip dit. Waar volop wild as prooi beskikbaar is, maak vee minder as 10% van hulle dieet uit. Wanneer die weer omgeëllie is en dit koud of droog is, is hulle geneig om groter prooi te vang.

Jakkalse

Jakkalse vorm permanente teelpare wat ander jakkalse uit hulle gebied weghou. As daar baie prooi beskikbaar is en ander jakkalse onderdanigheid teenoor die dominante paar toon, word hulle toegelaat om te bly.

Hulle is dus nie so onverbiddelik gebiedsgebonde soos die twee katspesies nie en die gemiddelde loopgebied is tien maal kleiner as ՚n luiperdmannetjie s’n.

Jakkalse teel gewoonlik in die lente. Die jong jakkalsies van die vorige jaar bly soms by die dominante paar vir nog ՚n jaar om die nuwe werpsel te help grootmaak terwyl hulle hulle jagvernuf verder slyp. Wanneer die jongeres die ouers se loopgebied verlaat, kan hulle tot 150 km ver loop om ՚n nuwe gebied te vind.

Waar jakkalse gejag word, begin hulle op ՚n jonger ouderdom teel, het groter werpsels en kleiner loopgebiede as hulle eweknieë in gebiede waar hulle nie in konflik met die mens is nie.

Jakkalse is uiters aanpasbaar en opportunisties en tot 80% van hulle dieet bestaan uit plantmateriaal, hoofsaaklik bessies, asook insekte en knaagdiere.

In die lente het hulle meer vleis nodig om die kleintjies kos te gee. In die verlede het hulle veral springboklammers gevang, maar op Karooplase maak vee die grootste deel van hul dieet uit. Anders as die twee katspesies, vreet hulle ook aas en dit is nie altyd bekend

deur Tisha Steyn

Jakkalse is meestal verantwoordelik vir veeverliese. (Bron: Niël Viljoen) of hulle self vir die veevangste op die plase verantwoordelik was nie.

Luiperds maak rooikatte en jakkalse dood as hulle paaie kruis. Rooikatte en jakkalse maak ook mekaar se kleintjies dood as hulle die kans kry, so hulle bly maar uit mekaar se pad. Waar albei spesies voorkom, verkies die rooikatte die meer bergagtige of beboste dele, terwyl die jakkalse die ooptes en vlaktes met bietjie bos vir skuiling verkies.

Wanneer jakkalse of rooikatte in ՚n gebied uitgeroei is en die natuurlike balans versteur is, sal hulle mekaar se gebiede oorneem.

Bestuur dié diere

Verskillende dodelike en nie-dodelike metodes bestaan om vee teen roofdiere te beskerm en veeverliese te beperk. Veeverliese weens roofdiere is nie uniek aan Suid-Afrika nie en sowat veertig metodes is al wêreldwyd aangeteken. Sowat twintig metodes word in Suid-Afrika gebruik.

Voordele, nadele en beperkings

“Elke metode hou voordele in (the Good ), het nadele (the Bad ) en beperkings (the Ugly),” soos Chavoux dit noem.

“Daar bestaan geen metode wat voor die voet op alle plase gebruik kan word nie, want dit hang af van elke plaas se unieke omstandighede. Wanneer bestuursmetodes gekies word om predasie te beheer, moet die doeltreffendheid en volhoubaarheid daarvan oor die langtermyn in gedagte gehou word.”

Kyk na jou sak

Om te bepaal of ՚n metode kostedoeltreffend is, moet die doeltreffendheid daarvan korrek gemeet word. Die vraag is: Is die probleem die roofdiere as sodanig, of is die probleem veeverliese weens roofdiere?

Roofdiere is deel van die ekostelsel en veral as daar genoeg wild op die plaas is, help hulle om die ekostelsel as geheel gesond en in balans te hou. “Vir die boer is die belangrikste manier om die doeltreffendheid van predasiebestuursmetodes te meet, om na die verliese weens predasie en die speenpersentasies te kyk, eerder as hoeveel roofdiere doodgemaak is,” sê Chavoux.

Met ander woorde: Hoeveel van die lammers wat gebore word, word uiteindelik gespeen? Pasgebore lammers tot speenlammers is gewoonlik in jakkalse en rooikatte se visier.

Kry die groter prentjie

Die Cape Leopard Trust moedig ՚n holistiese benadering tot vee en predasiebestuur aan. Van die beskikbare metodes om vee te beskerm sluit in voltydse herders wat dag en nag by hulle vee is; diere-herders soos Anatoliese berghonde, alpakkas, donkies en selfs volstruise wat saam met die vee loop; roofdierbestande krale; halsbande wat vee beskerm, die roofdier afskrik of die boer waarsku; en ander afskrikmiddels soos die elektroniese ‘skaapwagter’, wat met ligte, klank en reuke die roofdiere verwilder.

Die voordeel van sommige metodes is dat die onderhoudskoste daarvan relatief laag is. Die nadele daarvan sluit in dat dit soms teenproduktief, duur en moeilik is om te gebruik of toe te pas.

Kyk na die karkas

Jaco van CapeNature het gewys hoe inligting wat by veekarkasse ingesamel word gebruik kan word om vas te stel of die dier deur ՚n luiperd, rooikat of jakkals gevang is, of deur rondloperhonde wat ook groot skade in baie gebiede aanrig.

Volgens Jaco moet die ‘misdaadtoneel’ ondersoek word vir leidrade soos spore, mis of bloedspatsels. Die karkas moet ondersoek word vir tandmerke en die vreetpatroon, want elke roofdier s’n is uniek.

Kursusgangers moes daarna aan die hand van foto’s self ontleed watter roofdier vir die vangs verantwoordelik was.

Rooikatte en jakkalse kom saam op plase voor, maar vermy mekaar se gebiede. (Bron: Niël Viljoen)

Nege persone het die tweede Boer saam met die Natuur-werkswinkel bygewoon. Voor: Chavoux Luyt van Cape Leopard Trust. Agter van links: Tom Barry, Tembelihle Mjamba, Jaco van Deventer, Louis Jordaan, Jan Fourie, Wayne Meyer, Carlo van Tonder en Robbie Roberts. Herman van der Walt moes ongelukkig vroeër vertrek. (Foto: Jaco Fourie)

Skaapwagters wat heeltyd by die vee is, bly die beste bestuursmetode. (Bron: Herding Academy)

In sommige streke het luiperdmannetjies massiewe groot loopgebiede van tot 70 000 ha. (Bron: Cape Leopard Trust)

Kontakbesonderhede

Vir meer inligting oor die Cape Leopard Trust, besoek die webtuiste by https://capeleopard.org.za/

Rig navrae oor die Boer saam met die Natuur-slypskole aan Chavoux Luyt by communityoutreach@ capeleopard.org.za

This article is from: