5 minute read

Winsgewende skaapboerdery deel 21: Lamhokstelsels in perspektief

Hoë lamvrektes word allerweë as ՚n knelpunt in die kleinveebedryf beskou en is een van die belangrikste oorsake van die lae winsgewendheid van skaapboerdery. Die omvang van lamverliese is ՚n maatstaf van die gehalte van die boer se bestuursvermoë. Lamhokke kan as ՚n strategiese bestuurshulpmiddel gebruik word om lamvrektes tot minder as 5% te beperk.

Redes vir die gebruik van lamhokke Lamhokke word al van die vroegste tye gebruik, maar dit is vroeër jare slegs vir "probleemgevalle" (byvoorbeeld ooie wat lammers weggooi) en vir beskerming teen elemente (byvoorbeeld uiterste koue, sneeu, ensovoorts) gebruik.

Advertisement

Lamhokke word hoofsaaklik gebruik om lamvrektes te beperk, veral in die geval van ooie met twee- of meerlinge; jongooie wat die eerste keer lam, ooie wat kunsmatig gesinchroniseer is en vir die beperking van ongedierte- en diefstalverliese, asook in die geval van baie waardevolle ooie.

Voordele van die gebruik van lamhokke

• Om maksimum lamoorlewing te verseker, moet suksesvolle binding tussen ՚n ooi en haar lammers plaasvind. Vir suksesvolle binding om in natuurlike omstandighede in die veld plaas te vind, moet die ooi haar net voordat sy lam afsonder van die res van die trop en haar lammers moet voldoende bies (20% van hulle liggaamsmassa/ dag) inneem want ՚n vol pens stimuleer binding.

• Lammers moet verder die geleentheid gegun word om die eerste dag na geboorte onbeperk en ongestoord te kan suip. Aangesien lamhokke hierdie natuurlike afsondering naboots, bevorder dit die bindingsproses tussen die ooi en haar lammers en dra dit grootliks daartoe by dat lamvrektes tot ՚n absolute minimum beperk word.

• Lamvrektes kan met lamhokke tot minder as 5% beperk word. Vir elke 5 meter wat ՚n ooi gedurende die eerste ses uur na geboorte van haar lam wegbeweeg, styg die lamvrektes met 5%.

• Lamhokke vergemaklik bestuur, rekordhouding, identifisering en toesig gedurende lamtyd en probleemgevalle kan spesiale en tydige aandag kry, wat lamoorlewing bevorder.

• Lamhokke verhoed die inmenging met en lamdiefstal van lammers van ooie wat besig is om te lam of wat pas gelam het deur ooie wat op die punt is om te lam.

• Lamhokke bevorder lamoorlewing tydens gure weersomstandighede asook van ooie met meerlinge en jongooie wat vir die eerste keer lam. Met die lamhoklamstelsel moet ooie dus vir dragtigheid en die aantal fetusse afgetas word.

• Lamhokke verhoed dat een van ՚n tweeling van die geboorteplek wegdwaal of nie saam met sy ma stap nie en so van sy ma geskei word. Voorspeense lamvrektes is baie hoog by lammers wat op dié manier van hulle moeders geskei word.

• Lamhokke maak dit ook makliker om ooie te identifiseer wat geboorte skenk aan dooie lammers; met geboorte gehelp moet word; lammers weggooi; min of geen melk het nie; speenprobleme het; ensovoorts. Hierdie ooie sowel as hulle lammers moet gemerk en uitgeskot word en nie vir verdere teling gebruik word nie.

• Lamhokke verhoed ook dat ongediertes pasgebore lammers vang.

Nadele van die gebruik van lamhokke

• Ooie kan mettertyd swak moedereienskappe ontwikkel indien ooie wat swak moedereienskappe openbaar nie summier saam met hulle lammers uitgeskot word nie.

• In alle lamstelsels moet gediskrimineer word teen ooie wat moeilik lam (geboorteprobleme); met geboorte gehelp moet word; geboorte skenk aan dooie of swak lewensvatbare lammers; lammers weggooi (al gooi hulle net een van ՚n tweeling weg); aggressief is teenoor lammers (lammers stamp); min of geen melk het nie; speenprobleme het (byvoorbeeld te groot of dik spene, taai melkers.

• Merk sowel hierdie ooie as hulle lammers met ՚n knippie in die oor sodat hulle nie later vir teling gebruik kan word nie. Ooie en veral ramme wat lammers met aangebore genetiese defekte gee (byvoorbeeld gebreklikheid, kriptorkidisme (versteekte testikels), tweeslagtigheid, ensovoorts), moet geïdentifiseer en nie vir verdere teling gebruik word nie.

• Hoë voer- en arbeidskoste is ՚n faktor, maar deur die gebruik van presisievoeding en deur ooie kunsmatig met sponse of beheerde interne progesteroonvrystelling (CDIR) te sinchroniseer, kan dit beperk word.

• Die koste van die oprigting van lamhokke word meestal binne twee jaar verhaal as gevolg van ՚n aansienlik hoër speenpersentasie. Hierdie koste kan beperk word deur bestaande infrastrukture te omskep.

Algemene riglyne vir lamhoklamstelsels

• Die gehalte van die lammerooirantsoen asook die aanpassing daarop is deurslaggewend belangrik vir die sukses van die lamhokstelsel.

• Deurvloeiproteïenaanvulling is uiters belangrik om optimale geboortemassa, uierontwikkeling en biesproduksie te verseker, asook vir die geboorte van gesonde en lewenskragtige lammers.

• Die voedingsprogram van laatdragtige ooie moet onder geen omstandighede korter as ses weke voor lam verander word nie, want dit kan domsiekte en melkkoors aanwakker of lei tot pasgelamde ooie met groot uiers (is soms geswel) met baie min of geen bies/melk daarin nie. Oormatige spannning kan ook tot laasgenoemde verskynsel lei, wat op sy beurt tot hoë lamvrektes lei.

• Voorsien voldoende, skoon en koel drinkwater in sowel die lamkampe as lamhokke.

• Normale bestuurspraktyke moet gedurende laatdragtigheid gevolg word, soos enting van ooie met ՚n multiklostridiale entstof wat pasteurella insluit; dosering met ՚n langwerkende breëspektrumdoseermiddel wat ook neuswurm beheer; aanvulling van spoorelemente, ensovoorts.

• Skeer ooie want kortwol vergemaklik die lamproses (nie korter as vier weke voor lam nie). Indien ooie nie geskeer word nie, moet ooie met langwol (langer as ses maande), gemikskeer en rondom die uier skoongeskeer word.

• Lamhokke moet vir minstens 2,25 m² per ooi voorsiening maak om te verhoed dat ooie die lammers beseer of doodlê. Die lamhokke moet so ontwerp wees dat lammers nie na aangrensende ooie kan deurkruip nie.

• Hoewel die lamhokke goed geventileer moet wees om longprobleme te voorkom, moet dit die lammers teen koue, wind en reën beskerm. Indien sinkplate as ՚n dak oor die lamhokke gebruik word en dit so laag is dat dit die ventilasie op sonnige dae belemmer, kan lamvrektes as gevolg van hitteuitputting voorkom.

• Lamhokke moet skoon en droog gehou word deur gereeld skoon strooi of saagsels in te gooi.

• Die doeltreffende beheer van vlieë in die lamhokke is belangrik om die verspreiding van siektes te voorkom.

• Die ooie en hulle lammers bly 10 tot 14 dae in lamhokke voordat hulle uitgeplaas word.

• Die finale tropgrootte moet verkieslik nie meer as 100 lammers en hulle moeders wees nie met

Lamhokke kan as 'n strategiese bestuurshulpmiddel gebruik word om lamvrektes tot minder as 5% te beperk. (Foto: RCH Ile de France) maksimum van 200 lammers en hulle moeders per trop. Kruipvoeding begin onmiddellik wanneer die eerste ooie met hulle lammers uitgeplaas word.

Samevatting

Volgens Carlos da Silva van Harrismith (2010) het die lamhokstelsel sy skaapboerdery weer ekonomies lewensvatbaar gemaak. Hy reken die grootste fout wat hy gemaak het, is dat hy nie vroeër met die lamhokstelsel begin het nie. Die lamhokstelsel word òf reg gedoen òf gelos; daar is geen kortpaaie nie.

Jy kry net een kans elke jaar om ՚n lammeroes in te samel en wins te maak–daarom moet jy dit die eerste keer reg doen.

Deur die voorgestelde riglyne so ver moontlik toe te pas, kan skaapboere daadwerklik die voorkoms van lamvrektes in hulle skaapkuddes beperk. Die byhou van volledige en akkurate rekords van die simptome en oorsake van lamvrektes kan ook nuttige inligting verskaf om aanpassings in die lamstelsel asook bestuur- en voedingspraktyke te maak om lamvrektes in die toekoms te beperk. Hoër winsgewendheid uit die skaapvertakking is sodoende moontlik.

ProAgri is dankbaar dat 'n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

Die Solitair 9 lugdruk planter is beskikbaar in ’n vaste balk of opvoubare semi-gemonteerde modelle, met beskikbare werkswydtes vanaf 3 tot 6 meter. Die lugdruk planter kan op sy eie, of in kombinasie met ’n wye reeks grond bewerkingsimplemente gekombineer word, dit skep ’n veeldoelige planter wat aangewend kan word in verskillende praktyke.

DRYFKRAG: JOU SUKSES!

ONS reeks grond bewerkingsimplemente

Meer inligting? Skandeer die kode!

This article is from: