1 minute read
Taalrekonstruksie
Bories, Boreaals of Boreaans is 'n hipotetiese oertaalfamilie wat uit die Ou Steentydperk dateer (50,000 tot 12,000 jaar gelede). Deur middel van die historiese linguïstiek se komparatiewe metode is dit moontlik om vroeёre fases van bestaande tale te rekonstrueer. Latyn byvoorbeeld, kan rekonstrueer word deur Spaans, Frans, Italiaans en Roemeens te vergelyk. Proto-Germaans is rekonstrueer deur Duits, Engels, Nederlands, Goties, die Skandinawiese tale en ander te vergelyk. Deur die sistematiese vergelyking van sy afstammelinge Germaans, Kelties, Romaans (Italies), Balties en ander, is Proto-Indo-Europees gerekonstrueer.
So het dit duidelik geword dat hoewel hedendaagse tale drasties van mekaar mag verskil, hulle prototale sterk ooreenkomste toon. Dit mag wel lyk asof Afrikaans, Hongaars en Turks min in gemeen het, maar hulle onderskeie prototale (Proto-IndoEuropees, Proto-Oeraals en Proto-Altaïes) kom heelwat nader aan mekaar in terme van fonologie, leksikon en morfologiese patrone. Dit het dus moontlik geword om selfs ouer tale, die voorgangers van PIE, Proto-Oeraals en Proto-Altaïes, te rekonstrueer.
Advertisement
Op hierdie manier is prototale soos Eurasiaties/Nostraties, Dene-Sino-Kaukasies, Austries, Afro-Asiaties en Amerindies geïdentifiseer, die prototale waarvan die afstammelinge deur meer as 90% van die wêreldbevolking gepraat word. Nie een van hulle is nog in soveel besonderhede as Proto-Indo-Europees of Proto-Oeraals ontleed nie, maar die werk duur voort, en die grootste deurbraak van die laaste twee dekades was die identifisering van Bories.
Indien dit onmoontlik word om ‘n prototaal in detail te rekonstrueer weens gebrek aan data, is dit steeds moontlik om ‘n oorsigtelike beeld van taal-evolusie te verkry deur die analise van die data wat wel beskikbaar is. Dis die kernwoordeskat wat die beste resultate oplewer, die sogenaamde Swadesh-lyste van basiese woorde in die prototale. Dié kernwoordeskat is die beste bestand teen verandering en bevat min leenwoorde. So het linguïste reeds meer as ‘n duisend etimons (soortgelyke ouer vorme) in die prototale identifiseer, waaruit die snelgroeiende Boriese inventaris bestaan.