Bories, Boreaals of Boreaans is 'n hipotetiese oertaalfamilie wat uit die Ou Steentydperk dateer (50,000 tot 12,000 jaar gelede). Deur middel van die historiese linguïstiek se komparatiewe metode is dit moontlik om vroeёre fases van bestaande tale te rekonstrueer. Latyn byvoorbeeld, kan rekonstrueer word deur Spaans, Frans, Italiaans en Roemeens te vergelyk. Proto-Germaans is rekonstrueer deur Duits, Engels, Nederlands, Goties, die Skandinawiese tale en ander te vergelyk. Deur die sistematiese vergelyking van sy afstammelinge Germaans, Kelties, Romaans (Italies), Balties en ander, is Proto-Indo-Europees gerekonstrueer.
So het dit duidelik geword dat hoewel hedendaagse tale drasties van mekaar mag verskil, hulle prototale sterk ooreenkomste toon. Dit mag wel lyk asof Afrikaans, Hongaars en Turks min in gemeen het, maar hulle onderskeie prototale (Proto-IndoEuropees, Proto-Oeraals en Proto-Altaïes) kom heelwat nader aan mekaar in terme van fonologie, leksikon en morfologiese patrone. Dit het dus moontlik geword om selfs ouer tale, die voorgangers van PIE, Proto-Oeraals en Proto-Altaïes, te rekonstrueer.
4