Mengtale ~ Mixed Languages

Page 1

1


Mengtale Albanies, Armeens, Engels, Maltees, Nihali

Pieter Uys


Mengtale Engels is die mees prominente voorbeeld van ‘n mengtaal - ’n taal waarvan die woordeskat meer leenwoorde as oorspronklike woorde bevat. Moderne Engels se woordeskat is 25% Germaans en twee derdes Romaans (veral Latyn en Frans). In die wetenskap en tegnologie het Engels ‘n enorme Griekse leenwoordkorpus. Die name van basiese konsepte spruit uit Angel-Saksies en Ou-Engels, sowel as die voorsetsels en konjunksies, en die voornaamwoorde behalwe they, their en them (Skandinawies). Engels bly egter ‘n Germaanse taal weens die kernwoordeskat (Swadeshlys) wat uit-en-uit Germaans is.

Albanies Albanies (shqip [ʃcip]) met sowat 7.5 miljoen sprekers wêreldwyd is 'n Indo-Europese taal wat hoofsaaklik in die Balkan gepraat word. Albanies is ‘n amptelike taal in Albaniё, Kosovo, Masedoniё, Serwiё, en Griekeland, en ‘n erkende minderheidstaal in Italiё, Montenegro en Kroasiё.


As ‘n onafhanklike tak van die Indo-Europese familie, is Albanies nie besonder naby verwant aan enige ander Indo-Europese taal nie. Dit stam waarskynlik uit die Illiriese taal wat in dieselfde gebied gepraat is in Romeinse tye. Die hoof- dialekgroepe is die noordelike Gheg en suidelike Tosk, met die Shkumbinrivier as grens. Standaard-Albanies is op Tosk gebasser. Deur die eeue is ‘n aansienlike deel van die Albaniese leksikon deur leenwoorde vervang; die persentasie word op meer as 80% geskat. Die mees omvangryke influks het in die Klassieke Era uit Latyn gekom. Sowat 60% van die leksikon bestaan uit Latynse stamme. Ander leenwoorde kom uit Italiaans, Grieks, Suid-Slawies en Turks. Standaard-Albanies het 29 konsonante en sewe klinkers. Die mees algemene woordorde is OnderwerpWerkwoord-Voorwerp. Naamwoorde is manlik, vroulik of onsydig, en word verbuig vir enkel- en meervoud en vir naamval: nominatief, akkusatief, genitief, datief, ablatief en lokatief in sekere dialekte. Die werkwoord-struktuur is analities wat uit ‘n vroeёre sintetiese vorm ontwikkel het; die werkwoord het agt tenses en ses modale vorme. Van die tweede eeu vC tot die vyfde eeu nC was daar intense kontak tussen Albanies en Latyn. Tussen die sewende en negende eeue het Albanies baie by Suid-Slawies geleen, en van die negende eeu af het Roemeens grootskaals by Albanies geleen. Albanies en Roemeens deel fonologiese, morfologiese en sintaktiese kenmerke en idiome, wat op intieme en langdurige kontak dui.


Maltees Maltees (Malti) is die nasionale taal van Malta en die enigste Semitiese taal wat ‘n amptelike taal van die Europese Unie is. Maltees het sowat 532,000 sprekers waarvan 380,000 op Malta, Gozo en Comino woon. Maltees stam af van Siciliaanse Arabies wat dateer uit die Emiraat van Siciliё (831 – 1091). Siciliaanse Arabies was ‘n Maghrebi-dialek uit Tunisiё. Sedert die Normandiese verowering van Siciliё in 1091 het Maltees afsonderlik van Klassieke Arabies ontwikkel. Die taal is dus anders as die 30 variёteite waaruit die moderne Arabiese makrotaal bestaan. Die morfologie van Maltees is hewig deur Italiaans en Siciliaans beïnvloed.

Die kernwoordeskat van Maltees is Semities: Die Arabiese fondament maak sowat een-derde van die leksikon uit, te wete woorde vir basiese konsepte soos raġel (man), mara (vrou), tifel (seun), dar (huis), xemx (son), sajf (somer).


Omtrent 50% van die Maltese leksikon kom uit standaard-Italiaans en Sicilies. Die plattelandse dialekte is nader aan Siculo-Arabies as die stedelikes en Standaard-Maltees. Maltees is die enigste Semitiese taal wat in die Latynse alfabet geskryf word. Maltees het vyf kort klinkers, /ɐ ɛ ɪ ɔ ʊ/, geskryf as: a e i o u; ses lang klinkers, /ɐː ɛː ɪː iː ɔː ʊː/, geskryf: a, e, ie, i, o, u. Oorspronklike Arabiese konsonante soos /d/, /ð/, and /dˤ/ is in Maltees vereenvoudig tot /d/. Werkwoorde het die kenmerkende Arabiese patroon van drie stamkonsonante, en neem prefikse, suffikse en infikse. Soos Arabies het Maltees twee tenses: teenwoordig / toekomstig vs voltooide tyd.


Armeens Armeens word deur sowat sewe miljoen mense wêreldwyd gepaat. Die twee hoof- dialektiese groepe is Wes- en Oos-Armeens. Oos-Armeens word hoofsaaklik in die Republiek van Armeniё en Artsakh, Iran en Rusland gepraat. Wes-Armeense dialekte word in Armeniё, in Samtskhe–Javakheti provinsie van Georgiё, en in Abkhazia gepraat, en in die Armeense diaspora. Armeens bevat verskillende lae van Iraanse leenwoorde, veral uit Middel-Persies en Parthies, en wat tot by die tyd van die Persiese Ryk terugstrek. Die taal beskik ook oor leenwoorde uit die antieke Anatoliese tale soos Luwies, en ander antieke en moderne tale soos Akkadies, Horities, Oerarties, Grieks, Aramees en Turks.

Die Hoofstad van Armeniё, Yerevan, se oorsprong is ‘n militêre fort Erebuni wat in in 782 BC deur Koning Argishti I (r. ca. 785–753 BC) van Biainili (Urartu) gestig is.


Moderne Armeens het agt klinkers en 31 konsonante, waarvan die uitspraak verskil tussen die Westerse en Oosterse dialekgroepe. In struktuur kom Armeens met ander Indo-Europese tale ooreen, maar dit deel ook klanke en morfologiese elemente met Georgies en die Nakh-Dagestaanse tale van die Kaukasus, soos ejektiewe konsonante. Die taal het komplekse konsonantstapeling aan die begin en in die middel van woorde. e.g., t’rchun ‘voёl’ en tsnvum ‘gebore’. In die Indo-Europese konteks word Armeens, Grieks en Indo-Iraans as ‘n subgroep saamgroepeer.


Nihali Nihali (ook Nehali, Nehari of Nahali)) word in die Satpuraheuwels van Madhya Pradesh en die Buldhanadistrik in Maharashtra gepraat, deur sowat 3,000 individue. Dis reg in die middel van die Indiese subkoninent. Hulle eiebenaming is Kalto en die taal kalʈo manɖi. Byna al die manssprekers is tweetalig in die Mundataal Korku en/of Marathi. Die geheim van Nihali is sy misterieuse kern en tot dusverre onklassifiseerbaarheid. Die leksikon en die morfologie van Nihali toon ‘n massiewe invloed van byna al die taalfamilies waarmee dit in kontak gekom het. Kuiper (1962) skat dat die leksikon van Nihali uit sowat 40% Munda-elemente bestaan, 9% Drawidies, 20% Indo-Aries (Hindi en Marathi) en 25% wat onbekend is. Die Nihal het in die 1800s onder die Britse koloniale regering, en voor die tyd, ‘n reputasie gehad as rowers. Van 1896 tot 1899 het die mense swaar verliese gely weens siekte en hongersnood. Daarna het die oorlewendes ‘n heenkome by vredeliewende landbouers, die Korku gevind. Nihalisprekers woon tipies as minderhede in die dorpies van die Korku. Hulle is seisoenale vryskut-woudwerkers of staan in diens van die Korku.


Geen ondertrouery vind plaas nie, en die Korku- en Marathi-sprekers bejeën die Nihali met ‘n mate van agterdog, ook weens ‘n reputasie vir toordery. Alle Nihalimans is minstens tweetalig met Korku, en soms drietalig met ‘n Marathidialek as derde taal. ‘n Drawidiese taal, Gondi, word ook in die gebied gepraat. Korku is ‘n Austro-Asiatiese taal van die noordelike Mundatak, met naaste verwante Mundari en Santali na die ooste. Die grootste bydraer tot die Nihali leksikon is Korku, gevolg deur plaaslike dialekte van Marathi en Hindi, te wete Varhadi en Nimari. Die Drawidiese laag sluit meer as die nabygelee Gondi in, terwyl ander, veral suidelike Mundatale, ook tot die antieke laag bygedra het. Dan bly daar nog 24% leksikale items oor wat geen verband hou met ander tale van Indië nie. Die algemene opinie in die verlede was om Nihali as ‘n Mundataal te beskou, maar daar is aspekte aan Nihali-grammatika wat drasties van Munda verskil. Sekere leksikale en strukturele eienskappe kom glad nie in Austro-Asiatiese tale voor nie. Historiese linguïste huldig deesdae uiteenlopende menings, onder meer dat Nihali ‘n band met Ainu van Japan het, terwyl ander weer vermoed dat daar ‘n konneksie met Kusunda van Nepal of selfs met Afro-Asiatiese tale in Oos-Afrika kan wees.


Bibliografie Blažek, Václav. 1996. Seeking the relatives of Nihali. Mother Tongue, Issue 11, December 1996. Hamp, Eric P. "Albanian", in Encyclopedia of Language and Linguistics. 2 vols. Edited by R. E. Asher. Oxford: Pergamon, 1994, pp. 1:65–7. Ivanov, Vyacheslav V. The Indo-European Homeland in the Near East: New Evidence. Bulletin Of The Georgian National Academy Of Sciences, vol. 175, no. 3, 2007. Kozintsev, Alexander. 2019. Proto-Indo-Europeans: The Prologue. Journal of Indo-European Studies, vol 47. Nagaraja, K S. The Nihali Language : Grammar, Texts And Vocabulary [PDF] Petrosyan, Armen Petrosyan. 2005. Problems Of Armenian Prehistory. Gitutyun Publishing House, Yerevan. Ramón, José Luis García. 2017. Old Indo-Aryan Lexicon in the Ancient Near East: Proto-Indo-European, Anatolian and Core IndoEuropean. Atti del Sodalizio Glottologico Milanese. Milan. Samuelian, Thomas J. Armenian Origins: An Overview of Ancient and Modern Sources and Theories. Whitehouse, Paul. External relations of Nihali and Kusunda. In: Mother Tongue, Journal of the Assoc for the Study of Language in Prehistory, issue III, Dec 1997. Wescott, Roger Williams. Nihali phonemes. In: Mother Tongue, Journal of the Assoc for the Study of Language in Prehistory, issue III, Dec 1997. Zide, Norman. On Nihali. Mother Tongue, Issue 11, December 1996.

Pieter Uys, Orchards, 2021

Albanian Armenian English Maltese Nihali loanwords lexicon mixed languages Iranian Parthian Latin Italian Arabic Munda phonology Semitic language contact Indo-European Middle Persian Gheg Tosk


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.