1 minute read
Aard van Proto-Eurasiaties
from Eurasiaties
by Pietertoypom
Proto-Eurasiaties was ‘n aglutinerende taal wat hoofsaaklik agtervoegsels en agtersetsels by beide die naam- en werkwoord gebruik het. Suffikse is aan ‘n stam of ‘n uitgang geheg om
lekseme uit te brei en funksies aan te vul.
Advertisement
Die voorvermelde /m-/ en /t-/-patroon by die eerste- en tweedepersoon voornaamwoorde het die bynaam “Mitian” aan Eurasiaties besorg.
Vokaalharmonie word by Oeralies (bv Fins en Hongaars) aangetref en is ook ‘n kern-eienskap van die Mongoliese en Turkiese tale. Dit beteken gewoonlik dat net voorvokale soos i, ö, ä of ü, of net agtervokale soos a, o, u, ı in ‘n woord mag verskyn. By tale soos Fins is /e/ en/of /i / neutraal en dien in beide stelsels, sodat /e/ en/of /i/ saam met albei groepe gebruik kan word. Vokaalhaarmonie kan ook tongposisie, ronding en ander faktore in ‘n stelsel behels.
Joseph Greenberg beskou vokaalharmonie as die oorsprong van die Proto-Indo-Europese ablautstelsel, waardeur klinkerwisseling in ‘n stam die betekenis verander, soos Afrikaans: sing en sang of Engels swim, swam, swum.
Een van die meer as 600 woordstamme wat regdeur Eurasiaties voorkom, is woorde vir “roep”, “praat” of “tong”: Proto-Indo-Europees *gal /roep/, Proto-Oeralies *keele /tong/," Proto-Altaïes *khӓӓlӓ /tong, praat/, Kamchadal kel /gil/ Proto-Eskimo *kələɣ /vertel/.
Meer as 70 grammatiese elemente en die vorme wat hulle in die afstammelinge van Eurasiaties aanneem, word deur Greenberg bespreek in sy seminale werk, Proto-IndoEuropean and its closest relatives: The Eurasiatic Language Family.
Die verwantskap van Japonies, Koreaans, Mongolies, Toengoes en Turks in ‘n “Transeurasiese” familie is deur Martine Robbeets bewys, terwyl Michael Fortescue die UraloSiberiese familie van Oeraals, Joekaghir, Chukotko-Kamchatkan, Eskimo-Aleut en Nivkh (Gilyak) uiteengesit het.