1 minute read
Inleiding
from Eurasiaties
by Pietertoypom
Afrikaans en Engels is dogtertale van Germaans, wat op sy beurt ‘n lid van die Indo-Europese taalfamilie is op dieselfde vlak as die prototale Kelties, Italies (Romaans), Indo-Iraans, en Balto-Slawies.
Die Deense linguïs Holger Pedersen (1867 – 1953) het in 1903 die taalfamilie Nostraties identifiseer as die oorsprong van onder meer Indo-Europees, AfroAsiaties (Semitiese tale, Berber, Egipties en ander), Altaïes (bv Turkies, Mongolies, Toengoes), Oeralies (Fins, Estnies, Hongaars), Kartveels (Georgies et al) en Elamo-Drawidies (Tamil, Telugu et al).
Advertisement
Die Nostratiese hipotese is tydens die jare 60 deur linguïste soos Vladislav IllichSvitych en Aharon Dolgopolsky van die Moskou-Skool uitgebrei, en geniet hernieude aandag sedert die 1990s. Intussen het dit duidelik geword dat AfroAsiaties ‘n besonder ou groepering is, wat op ‘n dieper vlak as die ander bovermelde families aan Indo-Europees verwant is.
Kartveels en Elamo-Drawidies blyk ook om meer verlangse verwante van dié taalgroep te wees, wat bestaan uit ‘n hegte verwantskap tussen Indo-Europees, Altaïes, Oeralies en sekere kleiner groepe van Siberië en Oos-Asië. Nostraties wat Afro-Asiaties, Elamo-Drawidies en Kartveels insluit, sou dus ‘n taksonomiese entiteit op ‘n hoër en ouer vlak wees.
Die hegter groep binne Nostraties word Eurasiaties genoem, en oor die omvang daarvan bestaan daar nie absolute eensgesindheid nie. Volgens Professor Joseph Greenberg sluit Eurasiaties die volgende groepe in, te wete ChukchiKamchadaal, Eskimo-Aleoet, Indo-Europees, Oeraals, Turkies, Mongolies, Toengoes, Nivkh (Gilyak), Joekaghir en “Koreaans- Japanees-Ainu.”
Die Eurasiatiese familie word onderskei deur /m/ in die eerstepersoon- en /t/ in die tweedepersoon-voornaamwoord, byvoorbeeld Engels /me/ en /thee/, Spaans /me/ en /te/, Fins /minӓ/ en /te/, sowel as ‘n meervoud wat met die suffiks /-t/ aan die naamwoordstam gevorm word, en ‘n dualis gevorm deur die suffiks /-k/. Hierdie patrone word nie in tale buite Eurasiaties gevind nie.