tame TIMES
two time winner of the annual Ekurhuleni awards: Best Print media
Alberton
FRESH APPROACH TO LOCAL NEWS
Annzuette groet na 23 jaar
Volume 05, 21 January 2014, Week 04
Delivered every Tuesday
Tel: 011 862 8500 Fax: 011 869 7335
Amy-Mae Campbell
amymae.campbell@tametimes.co.za
VOORSPOED: Annzuette Erasmus. Die Alberton-polisiestasie sê totsiens vir een van hul mees geliefde kollegas, Annzuette Erasmus. Annzuette het in 1991 op Klerksdorp haar polisieloopbaan afgeskop, waarna sy in 1998 by die Alberton-polisiespan aangesluit het. Sy het in Desember laas jaar, op 41-jarige ouderdom en met 23 jaar diens op haar naam, besluit om haar uniform op te hang en ‘n nuwe werk met nuwe uitdagings aan
te pak. Na ‘n bedrywige lewe van verdagtes vang en agter tralies sit, het Annzuette hierdie jaar met haar nuwe werk by die sekuriteitsmaatskappy Ntamo Technologies in Alberton begin. Ntamo Technologies verskaf tegnologiese sekuriteitsprodukte, soos alarms en kameras, aan besighede in die elektriese- en spoorwegindustrie. Annzuette is aangewys as die algemene bestuurder van die kontrolekamer. Sy is egter baie opgewonde om vir die eerste keer in haar lewe kantoorure te hê. “Elke dag [in die polisie] is ‘n nuwe ding; jy kan nie dagboek hou nie,” verduidelik sy. “Ek was 24/7 beskikbaar vir die gemeenskap. Ek het absoluut gelewe vir my werk.” Annzuette het drie kinders, waarvan die jongste 15-jaar-oud is, en haar kinders het almal grootgeword met ‘n polisievrou-ma wat baie tyd saam met hulle moes opoffer om die gemeenskap op te pas. Annzuette sien uit om met haar nuwe werk meer tyd vir haar persoonlike lewe te hê, maar sy gaan nog af en toe uitgaan op patrollies oor naweke. “Dit sal altyd in my bloed wees,” sê sy ferm.
Annzuette beskryf haar polisieloopbaan as ‘n groot avontuur. Sy het al talle verdagtes gevang en gearresteer, in hofsake getuig, misdaadtonele gesien, skooldeursoekings gelei en sy was ook ‘n paar keer al betrokke by skietery. Sy beskryf met oorgawe hoe sy al alleen in die polisievoertuig verdagtes, wat met gesteelde motors probeer wegjaag het, gejaag het. Hulle het ‘n metropolisieman doodgery en ander motors van die pad af gedruk. Sy moes uiteindelik op die verdagtes skiet om die arrestasie te kon uitvoer, en sy het al drie die verdagtes self gearresteer. “Dit was seker vir my die mees opwindendste skietery waarin ek al betrokke was,” vertel sy opgewonde. Bo alles was haar grootste dryfkrag die wete dat sy ‘n verskil in die gemeenskap maak. Sy was veral diep geraak deur gesinsgeweld en kindermishandelingsake waarby sy betrokke was in die sosiale misdaadvoorkomingsafdeling. Sy het in hierdie afdeling die Alberton polisie se traumasentrum help opbou en gedurende haar tyd daar is dit al twee keer aangewys as die beste traumasentrum in Gauteng. Annzuette was self ook al benoem as die beste kommunikasiebeampte van die jaar in Gauteng. Haar beste vriendin en kollega by Alberton polisie, Amanda Hattingh glo dat dit juis Annzuette se klein hartjie en haar bereidwilligheid om te help is wat haar so ‘n goeie polisievrou gemaak het. “Sy was altyd daar vir backup,” verduidelik sy. Almal by Alberton-polisie is baie hartseer om vir Annzuette te groet, maar hulle is dankbaar vir haar groot bydrae tot gemeenskapsveiligheid in Alberton. “Daar is niemand wat haar ‘bootse’ kan volstaan nie,” sê Amanda tussendeur haar trane.
back to
school
My First day
P4
cRIME
cHOP SHOP uncovered
P8
sPORT Sithole conquers Australia