2 minute read

Selfoondata plaas polisielid naby moordtoneel

SELFOONDATA en die GPS-koördinate van die navigasiestelsel van ‘n polisievoertuig plaas ‘n Piketberg hofordonnans naby ‘n moordtoneel buite Wolseley.

Dié inligting vorm deel van die misdaadondersoek waarby a.o. Maurice Arries (43) betrek word. Hy word aangekla van moord, bedrog, korrupsie, vervalsing, uitgifte, regsverydeling en nou ook van intimidasie.

Advertisement

Arries is op 6 Desember op Piketberg gearresteer. Die ondersoekspan wat die Jainmoord in Maart 2021 buite Wolseley ondersoek, het hom by sy huis gearresteer.

Hy het op 23 Desember in die Porterville landdroshof verskyn waarna die saak tot 15 Februarie uitgestel is. Hy bly in aanhouding op Malmesbury.

Arries se verskyning hou verband met ‘n voorval waar hy ‘n gevangene en bendelid wat ondermeer vir moord gevangenisstraf uitdien by die Voorberg korrektiewe sentrum, in Maart 2021 gaan haal en onder vals voorwendsels uitgeboek het om in die hof te verskyn. Hy het glo dokumente vervals wat hom die nodige toestemming daarvoor sou gee.

Die gevangene is nie onmiddellik teruggeneem na die gevangenis nie.

Volgens hofstukke het die tronkowerhede vir Arries gevra waar die gevangene is waarna Arries die gevangene later inderhaas na die Voorberg gevangenis buite Porterville, teruggeneem het.

Uit hofstukke blyk dit ook dat Arries gereeld die gevangene onder vals voorwendsels teen betaling uitgeboek het. Die voorvalle het tussen Januarie en Augustus 2021 plaasgevind. Hy is ook by ‘n gastehuis ingeboek.

Digitale-spoor Selfoonseine en die GPS-koördinate wys dat Arries na die moord in die Wolseley en Tulbagh omgewing was. Die gesteelde Nissan voertuig is na die moord verlate naby die begraafplaas op Tulbagh gevind. Die meeste van die gesteelde items was in die voertuig gelos.

Twee mans aangekla

Twee mans van Tulbagh, Nolan Visagie (24) en Anthony Schippers (22), is in Mei 2022 deur die ondersoekspan in hegtenis geneem na ‘n gesamentlike polisie-optrede.

Die twee mans se arrestasie kom meer as ‘n jaar na die moord op 26 Maart 2021 van

Reneé Jain (51) van Kaapstad.

Hulle verskyn op klagtes van moord en roof met verswarende omstandighede. Visagie en Schippers bly in aanhouding en moet weer op 1 Maart in die Wolseley streekhof verskyn.

Goeie speurwerk deur speurders van Tulbagh in samewerking met lede van die Wes-Kaap polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad en positiewe DNS-leidrade wat op die misdaadtoneel buite Wolseley gevind is, het tot dié twee se arrestasies gelei.

Visagie en Schippers was deel van ‘n groep inbrekers wat die betrokke dag by die Jainegpaar se naweekhuis in die De Vierde Liefde privaat natuurreservaat buite Wolseley, ingebreek het. Jain was alleen by die huis toe sy vermoor is.

Na die moord is die mans omstreeks 23:45 na ‘n nabygeleë huis van ‘n Nederlandse egpaar in hul sewentigs waar hulle ‘n houtbeeld deur ‘n slaapkamervenster gegooi, die egpaar vasgebind en beroof het, voordat hulle in ‘n Nissan X-trail gevlug het met gesteelde tabletrekenaars, selfone en horlosies.

Talle vrae

Tydens die ondersoek het die polisie ook probeer vasstel hoekom die veiligheidskameras by die woning nie gewerk het nie, hoe die aanvallers by die privaat reservaat (daar is 14 huise) ingekom het wat byna 7 kilometer van die naaste teerpad geleë is.

Verder was daar skynbaar geen gedwonge toegang nie en daar is ‘n heining regom die perseel met ‘n elektroniese toegangshek.

This article is from: