12 Mei

Page 1

THE APOSTOLIC FAITH MISSION OF SA DIE APOSTOLIESE GELOOFSENDING VAN SA

Nuusflits| 12 Mei 2017 Geagte Kollega, Daar is twee ernstige kwessies wat ek graag onder jou aandag wil bring vandag. Beide vereis gebed en voorbidding. COLIGNY SITUASIE EN DIE DIENSLEWERINGS BETOGINGS COLIGNY SITUASIE Die leierskap van die AGS van Suid-Afrika beskou die huidige situasie in Coligny as 'n saak van ernstige kommer. In hierdie verband stuur die AGS sy innige meegevoel aan die ouers, asook die hele Mosweu-familie, vir die tragiese verlies van hul seun Matlhomola Mosweu. Ons gebed is dat God jul pyn sal versag en jul sal versterk in die hantering van die rou periode. Ons harte gaan uit na almal wat skade en verlies gely het aan hul besigheid of privaat eiendomme. Ons gebed is dat hierdie eiendomme op een of ander manier weer herstel sal word. Ons doen ‘n beroep op alle inwoners van Coligny om in hul reaksies die maksimum selfbeheersing uit te oefen in die hangende saak van die 16-jarige Matlhomola Mosweu. Terwyl ons die verontwaardiging oor wat gebeur het ten volle verstaan, is dit uiters belangrik dat ons alles in ons vermoë doen om wet en orde in Coligny te herstel. Vandalisering en vernietiging van besigheids- en privaat eiendomme moet gestaak word. Ons is bewus dat die hof se besluit hersien word rondom die borgtog van die beskuldiges. Laat ons in hierdie verband die regsproses toelaat om sy gang te voltooi. Ons moedig aan dat alle pogings tot versoening, genesing en vernuwing in die dorp nagestreef word. DIENSLEWERINGS BETOGINGS Ons is bekommerd oor die betogings ten opsigte van dienslewering in baie van ons gemeenskappe. Ons is van mening dat hierdie betogings gemotiveer word deur onvervulde beloftes en ‘n gebrek aan basiese dienslewering. Ons politici moet beloftes vermy wat hulle nie kan nakom nie. Na 23 jaar van demokrasie is dit heeltemal onaanvaarbaar dat hierdie beloftes in baie van ons gemeenskappe nog nie gerealiseer het nie. Plaaslike regering behoort in hul beplanning behuising en die basiese behoeftes van die plaaslike gemeenskap as prioriteit te beskou. Gemeenskappe behoort gereelde kommunikasie van hul plaaslike regerings te ontvang ten opsigte van wanneer hierdie behoeftes aangespreek gaan word. Terwyl ons die reg aanvaar vir gemeenskappe om hul ontevredenheid oor beloftes uit te spreek, vra ons almal om dit vredeliewend te doen. Vernietiging van eiendomme en aanvalle op mede-burgers is totaal onaanvaarbaar en word veroordeel.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.