2 September

Page 1

• 3de KWARTAAL 2016 • DIE APOSTOLIESE GELOOFSENDING VAN SUID-AFRIKA NASIONALE KANTOOR Gebou nr. 14, Central Office Park, Jeanlaan 257, Centurion, Gauteng, Suid-Afrika Posbus 9450, Centurion 0046 Tel: 27 12 644-0490 | Faks: 27 12 644-0732/4 www.afm-ags.org https://issuu.com/afm_ags

Geagte kollega,

INHOUD • My geagte kollega - 1 • Onthou watter voorreg en eer die Here aan ons bewys het om ons as herders van sy kudde te roep - 2 • Onthou waar die AGS vandaan kom 2-3 • Onthou ons primêre roeping en opdrag - 3-5 • Onthou ons respek en aanvaarding van die Bybel as God se primêre openbaring vir alle tye- 5 • Onthou die vrees van die Here - 6 • Onthou ons eenheid - 6 • Dankie!! - 6-8

Dit is die laaste keer dat ek die voorreg het om jou in hierdie hoedanigheid en d.m.v. hierdie skrywe te groet. Alhoewel die pastorale brief grootliks 'n eenrigting-kommunikasie was, het ek nogtans probeer om kwartaalliks die belangrikste tendense en relevante inligting onder ons pastore se aandag te bring. Oor die 28 jaar van my leierskap het die wêreld waarin, en die manier waarop ons kerk is, baie verander. Die uitdagings het verander, maar sekerlik het die geleenthede om gesante en ambassadeurs van Christus te wees nie minder geword nie. Ek wil vir oulaas 'n paar belangrike waarhede agterlaat met die vertroue dat dit tenminste deur sommige onthou sal word.

Spesiale GBM Uitgawe SEPT 2016


1 - ONTHOU WATTER VOORREG EN EER DIE HERE AAN ONS BEWYS HET OM ONS AS HERDERS VAN SY KUDDE TE ROEP. Die tendens is daar dat die bediening vir al hoe meer pastore/predikante 'n beroep en nie 'n roeping is nie. Wanneer mens dit so sien, is daar baie dinge om oor te kla en raak menseregte vir jou belangriker as offervaardigheid en diensbaarheid. Die plaaslike gemeente is en bly vir my die primêre openbaring van die Kerk van Christus en die bediening en roeping van die plaaslike herder die hoogste en edelste in die kerk. In die politieke wêreld is leierskap en posisie dikwels 'n geleentheid om mag te verkry en jouself (ook finansieël) te bevoordeel, 'n euwel. Dit mag nooit die geval in die kerk wees nie! Die Kerk van Jesus Christus is 'n unieke en dinamiese organisme wat deur dienskneg-leiers gelei word en volgens Bybelse beginsels bedryf word - beginsels wat dikwels ook in die korporatiewe- en sakewêreld toegepas kan word. Teen hierdie agtergrond wil ek dan aan al ons pastore en gemeenteleiers - van die grootste tot die kleinste gemeente - uit die diepste van my hart dankie sê vir getroue diens, die bereidheid om op te offer en jouself soms te kort te doen ter wille van die kudde van die Here. Of jy 'n vyf-talent mens is of 'n een-talent mens, of jy groot stad-gemeentes of klein plattelandse gemeentes bedien het - dankie dat jy steeds getrou aan jou Goddelike roeping is!

“Die plaaslike gemeente is en bly vir my die primêre openbaring van die Kerk van Christus ...”

2 - ONTHOU WAAR DIE AGS VANDAAN KOM Terwyl ons nie moet vergeet dat God ons geroep het vir die bediening waarin ons staan nie, moet ons eweneens in gedagte hou wat 'n voorrreg dit is om vir Hom te kan werk in en vanuit die AGS. Ons eien nie vir die AGS 'n verhewe plek op in die raamwerk van die groter Kerk van die Here nie. -2-


ONTHOU WAAR DIE AGS VANDAAN KOM verv. Sonder om my oor die ontstaan en geskiedenis van enige ander kerk uit te laat, kan ons egter met ootmoed bely dat hierdie denominasie 'n planting van die Here is. Ons is nie die produk van 'n kerklik-leerstellige skeuring of 'n ontevrede kerklike persoonlikheid wat sy eie "ding" wou doen nie. Die AGS as die eerste en oudste klassieke Pinksterkerk op die kontinent van Afrika, is die resultaat van 'n soewereine en onkeerbare werk van die Heilige Gees. As bestaande historiese kerke van destyds ruimte wou maak vir die beweging van die Heilige Gees en die herstel van Sy werkinge en gawes, sou die AGS waarskynlik nie ontstaan het nie. Helaas, dit was nie die geval nie.

“... kan ons egter met ootmoed bely dat hierdie denominasie 'n planting van die Here is.”

3 - ONTHOU ONS PRIMÊRE ROEPING EN OPDRAG (Redemptive Calling and Purpose) In die lig van die vorige punt is die groot vraag en verantwoordelikheid vir ons almal vandag, of ons nog getrou is aan die oorspronklike gronde van ons ontstaan? Die kerkgeskiedenis leer ons sedert die eerste kerk dat dit vir enige nuwe beweging 'n groot uitdaging is om na die eerste geslag steeds sy oorspronklike waardes en passie te behou. Dink maar aan die gemeente van Efese wat na 43 jr. van Jesus sélf moes hoor: "Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het." (Open. 2:4)

-3-


ONTHOU ONS PRIMÊRE ROEPING EN OPDRAG verv.

Ons uniekheid, dit wat ons van die begin af onderskei het as kerk, was die Persoon en werk van die Heilige Gees. Alle kerke glo aan die Heilige Gees, maar die Pinksterbeweging het Sy werk geken en beleef. Eerstens was daar die doop in die Gees met die inisiële teken van spreke in ander tale. Dit is nog steeds internasionaal die onderskeidende kenmerk van die Pinksterbeweging. Dit staan ook steeds in ons geloofsbelydenis opgeteken.

“Ons uniekheid, dit wat ons van die begin af onderskei het as kerk, was die Persoon en werk van die Heilige Gees.” Die vraag is egter: Tot watter mate glo en beleef ons dit nog vandag? Hoe gereeld praat ons self nog in tale? Verkondig ons dit nog? Bid ons nog gereeld vir mense vir die doop in die Gees? Is die leiers in ons gemeente tenminste gevul met die Gees? Vier ons nog Pinkster? En die belangrikste van alles - Hoedanig is die vrug en resultate van die vervulling van die Gees in ons en ons lidmate se lewens? Gepaardgaande met bogenoemde gaan die werkinge van die Heilige Gees. Sien ons kans om eerlike en lastige vrae hieroor aan onsself te vra. Hoeveel van die gawes van die Gees word in ons lewens en dienste gesien en ervaar? Maak ons ruimte daarvoor? Wanneer laas was ons getuie van 'n egte en onweerlegbare Goddelike genesing? In kort, is dit wat ons aan die begin as Pinksterbeweging onderskei het, nog op ons van

toepassing? Is ons nog getrou aan die erflating van John G Lake?

“... gekenmerk aan mense met 'n passie vir siele.” Naas die doop in die Gees en Sy werkinge, is die AGS van sy beginjare gekenmerk aan mense met 'n passie vir siele. Ek kan met ootmoedigheid sê dat daar vir jare geen kerk in Suid-Afrika was wat meer hiervoor bekend was nie. Een-op-een getuienis, opelugdienste, tentdienste, Evangeliedienste met 'n uitnodiging na die boetelingsbank - almal het dit met die AGS verbind.

Dis waarom ons met ons One AFM Game Plan soveel klem lê op ons missionale roeping en verantwoordelikheid. Dis wie ons is - of tenminste veronderstel is om te wees. Elke lidmaat moet opnuut weer tot hierdie besef kom en vervul wees met die Heilige Gees sodat hulle ware Apostoliese agente van Sy Koninkryk kan wees. En die sleutel hiertoe is grootliks ons as pastore. Die doop in die Gees, en die drang om te getuig, is nie sonder rede die uitstaande kenmerke van die Pinksterbeweging nie. Die Bybel sélf verbind hierdie twee kenmerke met mekaar - "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees..." (Hand. 1:8)

-4-


“Elke lidmaat moet opnuut weer tot hierdie besef kom en vervul wees met die Heilige Gees sodat hulle ware Apostoliese agente van Sy Koninkryk kan wees.” Met bogenoemde in gedagte wil ek ons leierskap op alle vlakke en al ons pastore oproep om ons One AFM Game Plan van harte te omhels en met alle krag na te volg! Ek het geen twyfel dat hierdie strategiese plan van die Here is en dat dit grootliks sal dien om ons eenheid en verbintenis met mekaar te versterk, maar ook om ons te mobiliseer en te bemagtig om ons oorspronklike Godgegewe roeping as kerk te vervul. Sorg asseblief dat jy deel hiervan is!

4 - ONTHOU ONS RESPEK EN AANVAARDING VAN DIE BYBEL AS GOD SE PRIMÊRE OPENBARING VIR ALLE TYE Een van die kenmerke van ons tyd - veral onder die Westerse segment van ons samelewing - is 'n toenemende ondermyning van die gesag en integriteit van die Bybel. Onder die dekmantel van die "wetenskaplike" realiteite van ons dag, word letterlik alles wat bonatuurlik in die Bybel is, as antieke mites en legendes afgemaak. Hierdie sekulêr-humanistiese omgang met die Skrif is besig om die sosiaal-polities aanvaarde benadering te word en waar hierdie sienswyses nie onderskryf word nie, word die etiket van "fundamentalisme" en selfs "fanatisme" maklik uitgedeel. Die gevaar is dat hierdie tendens mettertyd ook sy kop in ons geledere kan uitsteek - veral by diegene wat nie 'n outentieke ondervinding met God gehad het nie.

“Die AGS buig onvoorwaardelik voor die gesag van die Bybel .” Terwyl ons die Skrif sekerlik moet verstaan en interpreteer binne die tyds- en kulturele konteks van sy ontstaan, is God se openbaring oor Wie Hy is, asook oor elke aspek van ons lewe, ons saligheid en die toekoms, ondubbelsinnig en duidelik om te verstaan selfs vir eenvoudige mense. Ons bely dat die Heilige Gees op 'n besondere manier werksaam was by die optekening van die Skrif en dat ons Sy inspirasie en openbaring in die Bybel heelhartig aanvaar. Die AGS buig onvoorwaardelik voor die gesag van die Bybel en moet strewe om daarvolgens te leer en te lewe.

-5-


5 - ONTHOU DIE VREES VAN DIE HERE Die vrees van die Here is nie 'n negatiewe vrees nie, maar 'n diepe respek vir God - 'n respek vir Sy liefde, 'n respek vir Sy almag en 'n respek vir Sy oordeel. In ons tyd is daar baie klem op die genade en liefde van die Here en hierdie kwaliteite kan kwalik oorbeklemtoon word. Wanneer ek egter oplet na die optredes en dissiplinêre kwessies waarby sommige van ons pastore betrokke is, kan ek nie anders as om tot die slotsom te kom dat sommige van ons nie meer die vrees van die Here ken nie. Ek dink een van die hoofredes daarvoor is die afwesigheid van 'n egte ondervinding met God en 'n wandel deur die Gees. In die Nuwe Testament lees ons dikwels dat 'n "groot vrees" oor die mense gekom het nadat Jesus iet s bonatuurliks in hulle midde gedoen het. As ons weer die teenwoordigheid en die heiligheid van God beleef, sal respek vir Hom spontaan in ons lewe kom.

6 - ONTHOU ONS EENHEID Een van die belangrikste gebeure in die geskiedenis van die AGS, was toe ons in 1996 na dekades van rasgebaseerde verdeeldheid, één struktuur geword het. Ek is só dankbaar dat ons destyds gehoorsaam aan die leiding van die Here was.

“Vanjaar vier ons 20 jaar van kerkeenheid.” Vanjaar vier ons 20 jaar van kerkeenheid. Ek is bewus dat daar nog kwelpunte is en aspekte van ons eenheid wat nie volkome is nie, maar ons het ver gekom. Die leierskap en samestelling van ons kerk op nasionale-, streeks- en in sommige gevalle selfs op plaaslike vlak, weerspieël ons eenheid. Talle

gemeentes het afhangende van veranderende demografiese en taalfaktore reeds 'n ongedwonge, spontane en merkwaardige eenheid bereik. In 'n land waar die tromme van rasse-verdeeldheid en polarisasie al harder geslaan word, het ons nie alleen in dié verband 'n getuienis om uit te dra nie, maar ook 'n belangrike roeping om aan hierdie stukkende land van ons te demonstreer dat dit anders lyk waar God regeer. Ons moet steeds meer die veelvuldigheid en diversiteit van ons land en sy mense waardeer en besef dat ons kultuur en gebruike van mekaar kan verskil, maar dat ons die nederigheid sal hê om andere te respekteer. Ons visie-stelling begin immers met die woorde: "We see a church accessible to all people, celebrating our unity and God given diversity..." Ons kerk is verryk deur ons eenwording en ons het alle rede om dit met dankbaarheid te vier!

DANKIE!! En so kom ek dan aan die einde van my amptelike bediening as president van die AGS. Dit was my eer om die 7e president van die AGS in 108 jaar te wees en hierdie verantwoordelikheid sedert April 1988 te kon vervul. Ek kan eerlik sê dat ek nie daarna gesoek het nie. Inteendeel, toe ek destyds met die dag van die verkiesing hoor hoe die wind waai, wou ek hiervan wegvlug. Elkeen wat my ken, weet ook dat ek nooit oor die jare enige voorbrand vir myself gemaak het of in enige kerklike gekoukus betrokke was nie. Ek was altyd onder die diepe indruk dat ek waarskynlik aan sommige belangrike leierskaps-eienskappe ontbreek. Tog was ek nooit deur iemand bedreig nie en geen ander leier kan vandag sê dat ek hom of haar gekelder of ondermyn het nie. -6-


DANKIE!! verv. Al wat ek kan dink en glo, is dat die Here vir 'n tyd soos hierdie my wou gebruik vir dit wat ons kerk tydens hierdie fase nodig gehad het - veral die genade om te help om 'n verdeelde kerk tot eenheid te lei en daarna die verskille en diversiteite binne een struktuur te help akkommodeer. Ek wil dankie sê aan my ampsdraer-kollegas sedert 1988 wat my tenspyte van my tekortkominge en gebreke verdra en gerespekteer het. Oor die jare tot vandag toe, het hierdie manne gehelp om my las ligter te maak. Dankie aan almal wat oor 30 jaar saam met my op die NLF (Uitvoerende Raad) gedien het. 'n Hele aantal van hulle moes ek al oor die jare begrawe. Oor hierdie tyd het daar besondere verhoudinge en vriendskappe ontstaan. Dankie dat julle tot so 'n mate my leierskap aanvaar het. Dankie vir die geleenthede waar julle my so tegemoetgekom en ondersteun het, bv. na my seun se ernstige ongeluk en verlede jaar na my groot ope-hart operasie. Ek wil dankie sê aan al my kollegas - elkeen van ons pastore en leiers op elke vlak, vir die welwillendheid en goeie gesindheid en die respek wat so spontaan oor die jare geopenbaar is. Ek is dankbaar dat ons steeds kollegas en vriende kan bly. Ek voel om spesifiek vir my Swart, Bruin en Indiër kollegas dankie te sê vir die wyse waarop julle my aanvaar, vertrou, gerespekteer en ondersteun het. Ek is met diepe ootmoet en nederigheid vervul, dat julle wat getallegewys so 'n groot meerderheid is, nie die kerk met politieke agendas probeer beheer het nie, maar die belange van die Koninkryk bo alles gestel het. Aan my vrou, Heletia, en ons drie kinders en twee skoonkinders, kan ek ook net 'n groot dankie sê vir hulle liefde, lojaliteit en ondersteuning oor al die jare. Die kerk en die bediening was grootliks baie goed vir ons as gesin. Ek tree nie uit met gesinslede wat griewe en negatiewe gevoelens oor die kerk het nie. Die Here was vir ons goed, en die AGS was vir ons goed. Ons is dankbaar. Bo alles en almal wil ek my hoogste dankoffer aan Hom bring wat my geroep en bewaar het, wat my oneindig geseën het en toegerus het met die talente, gawes en geleenthede om aan die einde van hierdie pad te kan sê: "Die werk wat U my gegee het om te doen, het ek volbring." Dit was al die jare my voorneme en hoogste eer om nooit die naam van die Here en Sy kerk oneer aan te bring nie. Ek is vervul met diepe ootmoed en dankbaarheid dat ek deur Sy genade Sy banier hoog kon hou en op hierdie noot kan uittree. My voorganger, dr. FP Möller het destyds met grasie uitgetree en nooit op enige manier ingemeng met my leierskap nie, selfs al het hy dalk nie altyd met alles saamgestem nie. Ek het hom altyd daarvoor geëer. Ek wil graag dieselfde doen. Ek vertrou die Here dat die regte leiers vir hierdie geliefde kerk vir 'n tyd soos hierdie in plek sal kom.

-7-


DANKIE!! verv. Ek sal op geen manier oor skouers loer of probeer inmeng nie. By vergaderings sal ek selde indien ooit gesien word. Ek reken ek het my deel gehad. Dit beteken nie dat my roeping en bediening verby is nie. Terwyl my bediening vir jare reeds veel wyer as die AGS is, sal die AGS altyd my kerk bly waaraan ek lojaal is. My gesondheid is genadiglik beter as in jare. Ek is fiks en energiek. Die Here het vir my platforms geskep en geleenthede gegee om my tenvolle uit te leef. Dit gaan ek doen. Al verskil is (en dis seker die voorreg van 'n uitgetredene) dat ek my nou hoofsaaklik besig sal kan hou met die dinge wat my energie verskaf (energize) en nie dié dinge wat my dreineer nie. Nou sê ek vir jou nogeens dankie vir die voorreg om jou broer en kollega te kan wees en groet ek jou vir die laaste keer in hierdie hoedanigheid! SHALOM!! Isak Burger

“En so kom ek dan aan die einde van my amptelike bediening as president van die AGS.”

Van Links na Regs: Die Burger Familie Isak Burger Nationale Leierskaps Forum Game Plan Bekendstelling NLF 2013 NOB Lede Game Plan Fasilitering Nuut Aangestelde Ampsdraers 1996 Isak Burger Junie 1996 Julie NLF 2016 Afskeid -88--


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.