Breederivier gazette 10 dec 2013

Page 1

Só moet ons voortbou

HILDERINE SCHRÖDER

Nobelprys-wenner, leier, vryheidsvegter en een van die wêreld se grootste ikone. Die nalatenskap van oudpresident Nelson Rolihlahla Mandela is een wat nie maklik geëwenaar sal word nie. Sedert sy dood verlede Donderdag (5 Desember) in die rype ouderdom van 95 is Madiba se naam en bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis wêreldwyd ’n besprekingspunt. Terwyl die land gereed maak vir wat waarskynlik een van die grootste begrafnisse in die wêreldgeskiedenis gaan wees, word daar ook in die Langeberg gedink aan ’n toekoms sonder die man wat dikwels as die land se morele kompas beskryf is. Die heel grootste geskenk wat Madiba gelaat het, sê past. Livingstone Ngunda, was die eenheid wat hy bewerkstellig het. “Madiba het die land verenig. Nou is dit ons beurt om daarop voort te bou deur wedersydse respek. Dit is ons plig om saam te werk om die nasie te verenig.” Dít word deur ds. Walter van Eck van die Robertson VGK beaam. “Hy het baie dinge gedoen, maar dít staan uit bo alles. Ons moet almal, ieder en elk, in sy spore volg, anders gaan dit chaos wees in die land,” sê hy. “Ons het ’n groot man verloor. Hy het reggekry waaroor baie net praat. Hy is sinoniem met vergifnis

Vyf lokale is in die Langeberg munisipale area beskikbaar waar Valleiers hulde aan wyle Nelson Mandela kan bring.

FOTO: HILDERINE SCHRÖDER

en geregtigheid. Hy het ’n verskil gemaak.” Vanuit ’n opvoedkundige oogpunt, sê dr. Adriaan Landman, hoof van die Langeberg Sekondêre Skool, is dit veral Madiba se uit-

sprake ten opsigte van onderrig waarop daar voortgebou moet word. “Sy uitsprake dat ’n land geken word aan die wyse hoe hy sy kinders opvoed en dat opvoeding die

enigste manier is om kinders uit armoede te bevry staan veral uit,” sê Landman. “Dit is veral nou belangrik dat mense hierop voortbou en onstuitbaar sal veg vir hoë kwaliteit onderwys.”

As elkeen in Suid-Afrika Madiba se voorbeeld nastreef en uitleef, kan die toekoms net mooi wees, meen Hein Gonzales, hoof van die Hoërskool Robertson. “Almal weet kinders het hom na aan die hart gelê en hy het in die openbaar baie duidelik gewys dat kinders die toekoms van die land is en daar mooi vir hulle gesorg moet word. Dít is iets wat in die onderwys ook gedoen moet word,” sê hy. ’n Goeie voorbeeld wat Madiba gestel het, sê ds. Marius Joubert van die Robertson Moedergemeente, is die vermoë om nee te kon sê vir nog ’n tydperk van mag. “Hy is die enigste Afrikaleier wat nog ooit nee gesê het vir nog ’n regeringstermyn. Hy het die rede belangriker as homself geag,” sê hy. “Hy is vir almal ’n voorbeeld dat ’n mens moet leef vir iets groter as homself en só weg te kyk van homself na ander mense om só sy roeping te vervul.” Die Langeberg Munisipaliteit het in ’n persverklaring sy diepste meegevoel met wyle Mandela se familie en vriende betuig. Intussen is daar vyf lokale in die Langeberg munisipale area waar Valleiers hulde aan Madiba kan gaan betoon. Dit sluit in die Chris van Zyl-saal in Bonnievale, die Ashton Stadsaal, die McGregor munisipale kantore, die Willem Thys-saal in Montagu en die Robertson Stadsaal. Die lokale sal vir tien dae van 08:00 tot 18:00 oop wees vir die publiek. Dit sal egter gesluit wees gedurende Madiba se roudiens en sy staatsbegrafnis.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
Breederivier gazette 10 dec 2013 by Boland Gazette - Issuu