Breederivier gazette 19 nov 2013

Page 1

Breederivier

Year 17 • 19 November 2013 | Tel. 023 626 5212

www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi

Hengelaars op die oewer van die Breederivier het ’n verrassing gekry toe hulle vroegoggend wou gaan visvang en daar ’n voertuig in die rivier gelê het. FOTO’S: HILDERINE SCHRÖDER

Rowers stoot kar in rivier HILDERINE SCHRÖDER Hengelaars op die oewer van die Breederivier buite Robertson was verlede Donderdag (14 November) stomgeslaan toe hulle ’n kar in die rivier aangetref het. Die kar is vroeër die oggend tydens ’n gewapende rooftog in Montagu gebuit. Volgens kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, is ’n inwoner, wie se naam nog nie aan die media bekend gemaak is nie, vroegoggend deur drie mans, een gewapen met ’n mes en ’n ander met ’n vuurwapen, oorval. Die slagoffer is gedwing om sy kluis oop te sluit waarop die rowers ’n vuurwapen, juwele en ’n onbekende hoeveelheid geld gebuit het. Hierna het hulle hom gedwing om hulle

na sy onderneming te neem waar hulle ook geld uit die kluis gesteel het. Die rowers het die man terug na sy huis geneem waar hulle hom vasgebind in ’n kamer gelaat het en met sy wit Volkswagen Polo gevlug het. Hulle het die voertuig by ’n piekniekplek op die McGregor-pad in die rivier gestoot. Die rede vir dié stap is in dié stadium onbekend. Omstanders het vir ure op die toneel saamgedrom terwyl beamptes van die polisie se forensiese eenheid die toneel vir leidrade gefynkam het. Polisieduikers het ook die kar ondersoek en gou gerugte dat iemand in die voertuig vasgekeer was, die nek ingeslaan. Die voertuig se voorste ruite en die kattebak was oop en die sleutel was steeds in die aansitter toe die rowers dit die rivier ingestoot het.

Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof en voertuigdiefstal. Intussen het ’n lid van die Montagu-polisiëringsforum gesê so ver bekend is dié een van die eerste gewapende rooftogte in dié dorp. Daar word vermoed dat die boewe die slagoffer vooraf dopgehou het om sy roetine vas te stel. Die forum doen ’n ernstige beroep op eienaars van ondernemings om nie groot bedrae kontant op hul persele te hou nie, hul roetine te wissel en ook kennisgewings opsigtelik te vertoon waarin dit duidelik gestel word dat die onderneming se kluissleutels nie op die perseel gehou word nie. Intussen word enigeen wat die voorval gesien het of enige inligting daaroor het, versoek om die Montagu-polisie by 023 614 8300 te bel.

Die Volkswagen Polo was heeltemal onder water met slegs ’n gedeelte van die bagasieruim wat by tye uitgesteek het.

Polisieduikers het die voertuig gefynkam vir enige insittendes. Dit blyk egter die kar was leeg toe dit in die rivier gestoot is.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.