Breederivier
Year 17 • 22 Januarie 2013 | Tel. 023 626 5212
Begin van 2013oes gevier
Werkers van die Graham Beck-landgoed het Vrydag die eerste druiwe van die seisoen gevier tydens ’n vrolike optog na die kelder. Dit was deel van die jaarlikse oesfees-geselligheid. Sien nog foto’s op bl. 2. FOTO: DALEEN FOUCHÉ
Ontevrede ouers ruk ook op DALEEN FOUCHÉ Massa-optrede is nie net die afgelope paar weke in die landbousektor ervaar nie. Ontevrede ouers het ook ’n demonstrasie na Hoërskool Bonnievale gelei om hul misnoeë te kenne te gee met die wegwys van kinders by dié skool. Die demonstrasie, waaraan sowat 50 ouers en lede van die Bonnievale-gemeenskap verlede Woensdag (16 Januarie) deelgeneem het, is voorafgegaan deur twee gemeenskapsvergaderings. Die demonstrasie was vreedsaam. Errol Vollenhoven, woordvoerder van die Beter Bonnievale Inisiatief, ’n plaaslike gemeenskapsorganisasie, sê voornemende gr. 10leerlinge van Bonnievale Primêr is nie in Hoërskool Bonnievale opgeneem nie weens ’n tekort aan ruimte. Bonnievale Primêr bied onderrig
aan tot en met gr. 9, waarna leerlinge tradisioneel by Hoërskool Bonnievale opgeneem word. Maar vanjaar het die skool 16 leerlinge op ’n waglys geplaas, wat ouers onseker gemaak het oor hul kinders se verdere skoolloopbaan. Hoewel ouers Maandag 14 Januarie reeds met die departement van onderwys vergader het en ’n oplossing vir die huidige toedrag van sake gevind is, het hulle steeds na die skool gemarsjeer om klem op die behoefte aan langtermyn-oplossings te plaas. Bronagh Casey, woordvoerder van Donald Grant, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, sê al 16 leerlinge is nou by Ashton Sekondêr ingeskryf. Die leerlinge het ’n keuse gehad om met departementele vervoer na die skool geneem te word, of in die koshuis opgeneem te word. “Ons kan bevestig dat ons met al 16 leerlinge se ouers gepraat het en hulle het almal ingestem dat hulle kinders vervoer word na Ashton
Sekondêr.” Die vervoer word betaal deur die departement. Niel Stemmet, voorsitter van Hoërskool Bonnievale se beheerliggaam, sê die skool is geensins ontwrig tydens die betoging nie. Hy sê die beheerliggaam, wat die finale besluit oor skooltoelating neem, werk streng volgens die standaard toelatingsdokument. Dit vorm die toelatingsriglyne by die meeste skole. Ouers en ander inwoners is welkom om die dokument by die skool aan te vra en te bestudeer. Stemmet sê verder dat dit die beheerliggaam se mandaat is om vas te stel wanneer ’n skool sy kapasiteit bereik het. Volgens hom het Hoërskool Bonnievale plek vir slegs 75 gr. 10-leerlinge, maar is 80 reeds aanvaar. “Ons is ten gunste daarvan dat almal toelating kry,” sê Stemmet. Maar hy voel dit kan nie gebeur indien die WesKaapse departement van onderwys nie die skool se kapasiteit vergroot nie.
Stemmet verwys na die hofuitspraak in November verlede jaar oor Rivonia Primêr waarin daar beslis is dat dit die beheerliggaam se funksie is om toelating en kapasiteit te bepaal en nie dié van die departement nie. Hy beskuldig die departement van kortsigtigheid omdat daar nie voorsiening gemaak is vir die groei in die dorp nie. Ook Vollenhoven kritiseer die departement omdat dit nie met ’n langtermynplan vorendag kom nie. Hy sê Bonnievale Primêr “bars uit sy nate” en stel voor dat daar ’n meer gelyke verspeiding tussen die primêre en hoërskool plaasvind. Casey sê die departement is tans besig om moontlike oplossings te ondersoek. Daar is glo tans planne om die tydelike strukture van Bonnievale Primêr te vervang met baksteengeboue. “Die departement sal ouers help wat steeds hulp benodig om hulle kinders in ’n skool te registreer.”