Breederivier
Year 18 • 26 Augustus 2014 | Tel. 023 626 5212
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Onder die gaste by die oorhandiging van die mobiele kliniek was (van links) John Torr (Kaapse Wynland-Distriksmunisipaliteit), Helmut Pool (voorsitter van die direksie: Cape Lime), Jackie van der Heyden (Cape Lime nie-uitvoerende direkteur), Antoinette Steyn (uitvoerende burgemeester: Breedevallei Munisipaliteit), Kobus Marais, dr. Lisette Phillips (direkteur: Kaapse Wynland gesondheidsdepartement), Theuns Botha, Diana Gagiano (uitvoerende burgemeester: Langeberg Munisipaliteit) en John Levendal (onderburgemeester: Breedevallei Munisipaliteit).
Mobiele kliniek oorhandig HILDERINE SCHRÖDER
Gesondheidsorg in die Langeberg se landelike gebiede het verlede week ’n groot hupstoot gekry, danksy ’n nuwe mobiele kliniekeenheid wat verlede Vrydag aan die Langeberg sub-distrik oorhandig is. Die mobiele kliniek ter waarde van sowat R500 000, wat deur Cape Lime geskenk is, is die gevolg van maandelange samesprekings tussen dié maatskappy, die Wes-Kaapse departement van gesondheid, die departement van minerale, die LangebergMunisipaliteit en die Kaapse Wynland-Distriksmunisipaliteit. Die bydrae mag, in vergelyking
met die bedrae wat op provinsiale vlak aan gesondheidsorg bestee word, klein lyk, het die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Theuns Botha, gesê, maar dit het ’n reuse-impak. “Die uitkringeffek en waarde daarvan is enorm.” Die oorhandigingsgeleentheid, het hy bygevoeg, gaan nie net oor ’n donasie nie: “Dit gaan oor ’n medeverantwoordelikheid vir gesondheid. Sonder suksesvolle vennootskappe kan ons nie in dié departement ons doelwitte behaal nie.” Volgens dr. Lizette Phillips, direkteur van die Kaapse Wynland gesondheidsdepartement, sal die mobiele kliniek sowat 47 plase in die Robertson-Wes- en Robertson-Suidarea bedien.
Die doel van die eenhede, aldus Phillips, is om gesondheidsorg op plase te verbeter. Die nuwe eenheid is een van altesaam ses wat die Langeberg-area bedien. “Die fisiese toestand van die eenhede is een van ons grootste uitdagings en die vervanging van ’n eenheid vat lank, en juis daarom is ons geweldig dankbaar vir dié skenking,” het Phillips gesê. Die eenhede neem gesondheidsorg na afgeleë streke in die landelike gebied. “Die verpleegsters verdien ’n pluimpie omdat hulle die werk met waardigheid doen. Hulle bedien elke dag 40 tot 60 mense in moeilike omstandighede, soos uiterste temperature.” Ook Botha het dié toewyding geloof: “Ons kan hulle nie die geld gee
wat hulle verdien nie, maar ons kan hul omstandighede verbeter en hul omstandighede is baie moeilik. Wat hulle doen, kan geld nie koop nie.” Helmut Pool, voorsitter van die direksie van Cape Lime, het dit as ’n voorreg bestempel om by die streek se gesondheidsorg betrokke te raak. “Wetgewing verplig maatskappye om betrokke by die gemeenskap te wees. Dit noop mens om iets te soek wat werklik ’n verskil aan mense se lewens gaan maak. Ons (Cape Lime) wil vir ons personeel iets goeds gee – gesondheid – maar dit moet volhoubaar wees. Daarom moet jy ook uitreik na die gemeenskap om dit te bemagtig. Deur dié skenking glo ons dat ons belê in die gesondheid van die gemeenskap.”
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid spog met ’n nuwe mobiele kliniekeenheid danksy ’n skenking van Cape Lime aan die Langeberg-sub-distrik. Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Theuns Botha (middel), en Kobus Marais (DA-lid van die nasionale parlement), was voor in die ry om hul bloeddruk deur sr. Salmien Visser te laat toets. FOTO’S: HILDERINE SCHRÖDER