Breederivier
Year 17 • 26 November 2013 | Tel. 023 626 5212
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Splinternuwe biblioteek vir Nkqubela!
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, het gister (Maandag 25 November) in Nkqubela buite Robertson besoek afgelê om die splinternuwe munisipale biblioteek vir die inwoners te open. Die projek het altesaam R4,5 miljoen beloop. FOTO: ZELDA KLOPPERS
Staking by Langeberg sloer HILDERINE SCHRÖDER Meer as ’n week ná werkers by Langeberg & Ashton Foods op Ashton vir hoër lone begin staak het, kon onderhandelaars in die loongeskil nog nie tot ’n vergelyk kom nie. Gister (Maandag) was die betrokke partye steeds in samesprekings betrokke ná onderhandelinge verlede Vrydag (22 November) misluk het. Sowat 250 werknemers wat deur die vakbond Bawusa verteenwoordig word, eis ’n loonverhoging van 15%, sê Angus Syster, Bawusa-voorsitter.
Ander stakers, wat deur Solidariteit en die Food and Allied Workers Union (Fawu) verteenwoordig word, het wel ’n 8,25%-verhoging wat op die tafel geplaas is, aanvaar. Tussen 400 en 600 werkers is betrokke by die staking. Verlede Donderdag is werknemers tot laatnag binne die fabriek se perseel vasgekeer. Polisiebeamptes is in groot getalle ontplooi om orde te handhaaf en die situasie word steeds gemonitor. Volgens kapt. Sylvan Smith, woordvoerder van die Ashton-polisie, is twee betogers sedert die begin van die staking in hegtenis geneem. Sake van opsetlike saakbeskadiging, aanranding gewoon (wat verband
hou met verbale dreigemente) en die hou van ’n onwettige optog, word ondersoek. Volgens ’n senior werknemer van Langeberg & Ashton Foods het die staking nog nie ’n wesenlike impak op produksie gehad nie aangesien die eerste vragte vrugte eers later die week verwag word. Kommer heers egter onder produsente oor die gevolge indien daar nie binnekort ’n einde aan die staking kom nie. Volgens Koos du Toit, voorsitter van die Robertson-landbouvereniging, kan probleme ontstaan indien vragmotors vol vrugte nie toegang tot die fabrieksperseel kry nie. Vroeër het Landbouweekblad be-
rig dat werksgeleenthede vir seisoenwerkers ook bedreig word indien die staking nie vinnig beëindig word nie. “As ’n boer nie in staat gaan wees om vrugte te lewer nie, gaan hy nie seisoenale werkers haal en in diens neem om te pluk nie, en daardie mense gaan nie ’n inkomste verdien nie,” het Wiehan Victor, uitvoerende hoof van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV) aan die tydskrif gesê. “Die vrugte kan egter nie onbepaald aan bome bly nie, aangesien die gradering gaan daal soos wat dit ryper word,” aldus Victor. Volgens verskeie bronne waarmee die Gazette gepraat het, blyk dit dat
rolspelers moontlik binnekort tot ’n vergelyk kan kom. Só nie, sê Du Toit, het produsente reeds plan B in plek. Hy wou nie hieroor uitwei nie. Intussen, sê Burger Conradie, bestuurder van Raimondi’s op Robertson, het die staking wel verkope hiér geraak. “Baie mense wat hier aankope doen is huiwerig om deur Ashton te ry om hierheen te kom,” sê hy. Die staking het egter nie ’n direkte impak op dié groothandelaar nie, sê hy. Hoe langer die staking voortduur, hoe groter is die kans vir ander handelsname om ’n voet in die deur te kry, voeg hy by. Langeberg & Ashton Foods is deel van die Tiger Brands-groep.