Breederivier gazette 29 jul 2014

Page 1

Breederivier

Year 18 • 29 Julie 2014 | Tel. 023 626 5212

www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi

Herberg huldig geliefde seun HILDERINE SCHRÖDER

Herberg het ’n seun verloor. Robertson het ’n seun verloor. Die verlies van ’n geliefde was verlede Dinsdag (22 Julie) tasbaar in die NG Robertson-Oosgemeente waar daar vir oulaas van Fabian Rassie afskeid geneem is. Oud en jonk, mense uit alle vlakke van die samelewing, van skoolkinders tot wetstoepassers, het dié diens bygewoon om hulde aan hul held te bring. Fabian se dood tydens ’n stoeiwedstryd op 4 Julie het skokgolwe deur die Vallei gestuur. Hy was maar net 16 jaar oud. Fabian was by die Suid-Afrikaanse stoeikampioenskapstoernooi in Pretoria toe hy vermoedelik aan ’n hartaanval dood is. Dit is egter nie sy dood wat verlede week onthou is nie, maar die geweldige impak wat hy op elke persoon gehad het wat sy pad gekruis het. “Hierdie is nie ’n huldeblyk aan Fabian nie. Fabian ís die huldeblyk,” het Kurt Herzog, Fabian se stoeiafrigter, gesê. Fabian, het hy bygevoeg, sal nie net as die grapjas van die span onthou word nie, maar ook die een wat elkeen van sy spanmaats geïnspireer het. “Hy was die een na wie opgekyk is.” Volgens Herzog het Fabian ál die eienskappe van ’n goeie stoeier, waaronder deursettingsvermoë, nederigheid en moed, gehad en het hy dít nie net op die stoeimat nie, maar ook in sy eie lewe uitgeleef. Op sy beurt het Hein Gonzalez, hoof van die Hoërskool Robertson waar Fabian ’n leerder was, gesê Fabian sal onthou word as saggeaard, vriendelik en goed gemanierd. “Hy het altyd ’n glimlag en deernis met sy medemens gedeel, ten spyte van sy eie terugslae. Hy was selfs bereid om sy plek in die stoeispan af te staan sodat iemand anders kan gaan. Hy het elke geleentheid na die beste van sy vermoë aangegryp en was altyd positief.” Dit is dalk die woorde van ds. Ken Pritchard wat Fabian die beste opsom: “Fabian, ons groet jou. Robertson groet hou. Jou vriende, skool, spanmaats, Herberg en familie groet jou, maar jou vergeet sal ons nóóit. Jou voorbeeld leef voort.”

Fabian Rassie, wat vroeër die maand oorlede is, is verlede week vir oulaas deur vriende en geliefdes gegroet.

FOTO: HILDERINE SCHRÖDER


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.