Breederivier gazette 3 dec 2013

Page 1

Breederivier

Year 17 • 3 Desember 2013 | Tel. 023 626 5212

Tersiêre studie nou moontlik in Vallei

HILDERINE SCHRÖDER

Valleiers sal van aanstaande jaar af op eie bodem hul tersiêre opleiding kan bevorder. Dít volg na ’n ooreenkoms tussen die Robertson Logos Christian School en Cornerstone Christian Institute of Higher Education. Danksy dié ooreenkoms kan Valleiers van Julie aanstaande jaar af uitsien na afstandonderrig in ’n wye reeks kursusse en dít boonop op hul tuisdorp. Logos sal die lesinglokale aan studente verskaf, terwyl Cornerstone die onderrig en leermateriaal verskaf. Studente sal kan kies uit kursusse in ondernemingsbestuur, binneshuise ontwerp, teologie, onderwys, skone kunste en kuns en sosiale studies. Die geakkrediteerde studierigtings bied aan Valleiers die geleentheid om ’n graad of diploma teen ’n bekostigbare prys te bekom, sê Talita Lloyd, hoof van die Robertson Logos Christian School. “Hierdie kans aan studente gaan ’n geweldige positiewe impak op die gemeenskap hê.” Studente ontvang met hul registrasie tablette wat ingespan word vir die verskaf van studiemateriaal, inhandig van take en wedersydse korrespondensie, terwyl studente ook via

videokonferensies onderrig sal ontvang. Cornerstone het reeds ’n samewerkingsooreenkoms met ’n gemeente op Worcester. Plaaslike studente kan reeds in Januarie vir kursusse hiér inskryf en dan in Julie oorskakel na Robertson, sê Lloyd. Volgens Lloyd is hul verbintenis met Cornerstone ook vir die skool belangrik omdat dit aan leerders die geleentheid bied om hul studies voort te sit in ’n omgewing met dieselfde etos waaraan hulle gewoond is. Hulle is geweldig opgewonde oor die geleenthede wat Cornerstone aan plaaslike inwoners gaan bied, sê Lloyd. “Maar ons besef dis ’n groot ding om aan te pak. Jy sit met jongmense se lewe in jou hande en ons neem dít nie ligtelik op nie.” Omdat die kursusse baie goedkoper is as dié by hoofstroom-instellings, sal dit plaaslike ondernemings in staat stel om jongmense te borg om hul studies voort te sit, meen Lloyd. “Ons hoop regtig ondernemings gaan dié geleentheid aangryp.” Valleiers wat belangstel om deur Cornerstone te studeer kan ’n SMS na 082 797 9006 of ’n e-pos na clc@cornerstone.ac.za stuur. Vir meer inligting oor Cornerstone en die kursusse wat dié instelling aanbied, besoek sy webtuiste by www.cornerstone.ac.za.

www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi

Eseltjiesrus­donkies is weer tuis

Daar is die afgelope maande hard gewerk om die “nuwe” Eseltjiesrus op die Robertson-McGregor-pad in gereedheid te bring en verlede week kon die donkies hul intrek in hul nuwe kampe neem. Die ouer donkies is per sleepwa na hul nuwe blyplek geneem, maar die jongeres kon die sowat 2 km na hul nuwe tuiste stap. Lees die volledige berig op bl. 4. FOTO: VERSKAF


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
Breederivier gazette 3 dec 2013 by Boland Gazette - Issuu