Breederivier gazette 4 feb 2014

Page 1

Breederivier

Year 18 • 4 Februarie 2014 | Tel. 023 626 5212

www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi

Sypaadjies ’n hindernisbaan HILDERINE SCHRÖDER Wat vir Robertson se senior burgers ’n lekker aktiwiteit moet wees, kan maklik in ’n nagmerrie ontaard met ’n enkele verkeerde tree. Só glo Christoph Heidmann (81), ’n inwoner van Huis Malherbe wat baie bekommerd is oor die toestand van die dorp se sypaadjies. Ongelyke sypaadjies met gate, laaghangende takke wat die ouer garde dwing om gebukkend onderdeur te probeer loop en swak vakmanskap is besig om sypaadjies in hindernisbane te omskep, aldus Heidmann. Heidmann het, ná hy sedert verlede jaar nie meer kan bestuur nie, geen ander keuse as om te voet van plek tot plek te kom nie.

Sypaadjies wat op verskeie plekke ongelyk is en dele waar bome se takke laag hang skep ’n gevaar vir ouer mense wat nie meer so vas op hul voete is nie, sê Heidmann.

Dít is egter besig om ’n ál groter uitdaging te word, sê hy. Sypaadjies wat ongelyk is, is ’n groot gevaar vir die dorp se ouer inwoners wat net te voet oor die weg kan kom, meen Heidmann. “’n Mens se voet kan maklik aan een van die baie ongelyke plekke vashaak en dan val jy. Vir ’n ouer mens kan dít rampspoedig wees.” Hoewel die aanplant van bome op die sypaadjies vir hom verblydend is, kan dié bome ook vir ouer mense probleme skep indien instandhouding agterweë bly. Bome waarvan die takke laag hang of wat só geleë is dat mens met moeite daarby moet verby beweeg skep ’n gevaar vir diegene wat moeilik loop of in rolstoele is, sê Heidmann. Tydens ’n onlangse besoek aan die winkels het Heidmann boonop sy arm beseer ná hy nie ’n plaat duwweltjies op die sypaadjie gesien het nie en hy daarin beland het. Hy het sy balans verloor toe hy teen ’n tuinmuur geleun het om die duwweltjies uit sy skoene te probeer kry. “Ek wil hê die mense van die munisipaliteit moet self op hierdie sypaadjies kom stap en kyk hoe swak die vakmanskap is en hoe ongelyk dit is,” is Heidmann se uitdaging aan die Langeberg-munisipaliteit. “Mense word betaal om die sypaadjies in stand te hou, maar die gehalte van hul werk is regtig swak. Ek moet altyd op die grond loop en kyk, anders breek ek my nek.” Heidmann vind dit ook moeilik om sy vrou, Gwyneth, wat van ’n rolstoel afhanklik is, met die sypaadjies langs te stoot. Op die hoek van Adderley- en Barrystraat is ’n oorgang in só ’n swak toestand dat die rolstoel maklik daar kan omkantel, sê hy. Heidmann verkwalik die plaaslike munisipaliteit vir wat hy as gebrekkige instandhouding bestempel. “Daar gaan regtig iets dringend aan die saak gedoen moet word voor iemand dalk lelik seerkry,” meen hy. Die munisipaliteit is genader vir kommentaar, maar het teen druktyd steeds nie gereageer nie.

Oorgange soos dié hou volgens Heidmann veral ’n gevaar vir rolstoelgebruikers in. Christoph Heidmann van Robertson is bekommerd oor die toestand van die dorp se sypaadjie ná hy verlede week, in ’n poging om dié duwweltjies uit sy skoene te verwyder, sy balans verloor en sy arm beseer het. FOTO’S: HILDERINE SCHRÖDER


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.