Breederivier
Year 18 • 5 Augustus 2014 | Tel. 023 626 5212
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Man sterf, 5 leerders beseer toe bakkie bus tref HILDERINE SCHRÖDER ’n Man is op slag dood en vyf leerders is beseer in ’n botsing tussen ’n bakkie en skoolbus gisteroggend (Maandag). Die botsing het omstreeks 06:40 gebeur toe die bestuurder van ’n Fort Bantam-bakkie, wat van Ashton in die rigting van Robertson op pad was, in ’n skoolbus wat besig was om vanaf die Arabella-aansluiting na Ashton te draai, vasgery het. Die grootste gedeelte van die bestuurderkajuit van die bakkie was weens die impak van die botsing onder die bus vasgepen, terwyl dit die een as van die bus gebuig en een van
die vensters in die bus laat breek het. “Ek het net die kinders gehoor roep, maar hulle waarskuwing en die slag was presies op dieselfde oomblik,” het die geskokte bestuurder van die bus op die toneel aan die Gazette gesê. Vyf leerders (20, 21, 18 en twee van 15 jaar oud) is na die Robertson-hospitaal geneem vir ligte beserings. Hulle is almal van Bonnievale en leerders aan die Ashton Sekondêre Skool. Die hoof van die skool, Peter Buis, sê die nuus van die ongeluk was ’n geweldige skok. “Ek het net gehoop niemand het seergekry nie.” Al die kinders wat op die bus was het direk
na die voorval berading by die skool gekry. Buis het bevestig dat die bus aan al die vervoerbepalings van die Wes-Kaapse departement van onderwys voldoen. Hy wou egter nie verdere kommentaar op die voorval lewer nie. Daar was 33 kinders in die bus toe die botsing plaasgevind het. Dit is in dié stadium onduidelik wat tot die ongeluk gelei het. Volgens ao. Sylvester Joseph, woordvoerder van die Ashton-polisie, word ’n saak van strafbare manslag ondersoek. Die naam van die oorledene kon teen druktyd nog nie bekendgemaak word nie aangesien sy naasbestaandes nog nie van sy dood in kennis gestel is nie.
’n Man is op slag dood toe hy gisteroggend onder ’n skoolbus wat 33 kinders vervoer het beland het. FOTO’S: HILDERINE SCHRÖDER