Breederivier Gazette 20150303

Page 1

Breederivier

X1PTPQKH-BZ030315

Year 19 • 3 Maart 2015 | Tel. 023 626 5212

www.bolandgazette.co.za

Beste pizzamaker in die land op pad na Australië HILDERINE SCHRÖDER Het Colin du Plessis destyds toegegee aan daardie begeerte om ’n reuse pizzakompetisie vroeg te verlaat om die stadsverkeer te mis, het hy waarskynlik die grootste nuus in sy loopbaan as sjef gemis. In Lord’s Guest House se tuin met sy panoramiese uitsig oor die McGregor-streek, skud Du Plessis laggend sy kop as hy dié dag herroep. Valleiers wat ’n voorliefde het vir pizza kan maar gerus by Du Plessis ’n draai maak. Hy hou immers tans die kroon as die beste pizzamaker in die land. Dít na hy verlede jaar as die Suid-Afrikaanse wenner van die Global Pizza Challenge aangewys is. Sy titel as pizzakoning gaan hy ook later vanjaar in Australië moet verdedig wanneer hy in die wêreldkampioenskap gaan meeding teen die wenners van die kompetisie van ander lande. Hy het nie vir ’n oomblik gedink hy gaan die Suid-Afrikaanse been van die kompetisie wen nie, vertel Du Plessis. Onder sy mededingers was sjefs wat hulle slegs op pizza toespits. “Dis mense met baie jare se ondervinding. Mense wat al diep spore in die bedryf getrap het.” Met slegs ’n jaar en ’n half se pizza-ondervinding agter die blad, en ’n werkstasie wat tydens die kompetisie maar by tye effe chaoties was, het Du Plessis gereken sy kanse om te wen is maar yl. Hy moes vier pizzas maak: een vir die beoordelaars en drie vir die gehoor. Sy vegetariese pizza, Mary Queen of Scots, het duidelik almal se goedkeuring weggedra. Toe die onderskeie wenners se name uitgelees is, het Du Plessis al begin vroetel na sy karsleutels. “Ek het nie gedink ek staan ’n kans nie.” En toe kom daardie oomblik wat hy nooit sal vergeet nie. “Toe hulle my naam roep het ek heeltemal in skok gegaan. Ek kon dit nie glo nie!” vertel hy. Du Plessis sal as wenner van verlede jaar se kompetisie nou ook vir dié jaar se kompetisie wat eersdaags in Johannesburg gehou word, die hoed van beoordelaar moet dra. “Ek sal darem nie te streng wees nie,” spot hy. Intussen slyp hy sy tande vir die wêreldbyeenkoms in Australië waar hy weer sy Mary Queen of Scots moet gaan voorsit. “Ek dink nie ek sal weer so op my senuwees wees nie. Ek weet dié keer wat om te verwag,” sê hy. Dis net daai Mystery Box wat hom effe bekommer. Wat daarin gaan wees, weet nugter, maar hopelik is dit nie iets té verregaande nie.

Colin du Plessis, die wenner van die Suid-Afrikaanse been van die Global Pizza Challenge, gaan binnekort meeding om die wêreldtitel in Australië. FOTO: HILDERINE SCHRÖDER


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.