Stellenbosch Gazette 27 Nov 2012

Page 1

Stellenbosch | Franschhoek | Pniel | Kylemore

Year 14 • Tuesday 27 November 2012 | Tel. 021 887 2840

Rolspelers van Groot-Drakenstein SAPD wat Maandag hul opgeknapte trauma-kamer amptelik heropen het.

FOTO: ELBÉ VAN HEERDEN

Polisie heropen trauma­kamer ELBÉ VAN HEERDEN Die Groot-Drakenstein polisie het Maandag hul trauma-kamer heropen ná noodsaaklike opknappings gedoen is. Met die hulp van Simondium Kaap Agri het die trauma-kamer nou ’n splinternuwe baadjie aangetrek en kan die polisie en vrywilligers die noodsaaklike diens aan die gemeenskap van Groot Drakenstein lewer. Hanneline Pekeur, een van die vrywilligers wat reeds sedert 2000 betrokke is by die program, het haar dank uitgespreek. “Dit is deesdae baie moeilik om borgskappe te kry vir projekte soos dié. Ek voel steeds dat die opening van die trauma-kamer in die area een van die beste besluite vir die gemeenskap

was. “Die trauma-kamer is nie net daar vir vroue wat slagoffers van verkragting of aanranding was nie, maar ook vir slagoffers van ander misdaad soos huisbrake. Ons is dus baie dankbaar vir die hulp wat ons ontvang.” Jacky Cyster het Simondium Kaap Agri by die opening verteenwoordig. “Ek het altyd hier verbygery en nooit besef dat die polisie dié diens lewer nie. Dit was wonderlik vir ons as Kaap Agri om te kan help. “Ek het besef dat dit nie net ’n polisiekantoor is nie, maar my polisiekantoor. Julle is almal deel van ons gemeenskap en ons hoop om in die toekoms ’n breër pad saam te kan loop,” het sy gesê. Die kluster-bevelvoerder, brig. Dirk Mentoor, het ook die opening en die bekendstelling

van die begin van die 16 Dae van Aktivisme teen geweld teen vroue en kinders bygewoon. “Die 16 dae van aktivisme het Sondag wêreldwyd afgeskop. In die Wes-Kaap het ons ’n oproep gedoen aan alle mans om deel te word van die beweging en sodoende misdaad teen vroue en kinders te bekamp. “Ons wil hê hulle moet self verantwoordelikheid vat. Veral die mans in die polisie word gevra om in hierdie tydperk nie net meer aandag te gee aan hoe hulle teenoor hul vroue en kinders optree nie, maar ook om ’n voorbeeld te wees vir ander in hul gemeenskap. “Geweldadige gedrag van mans in die polisie teenoor hul vrouens en kinders word baie sterk veroordeel en gedissiplineer. Dit is ons rol om ’n voorbeeld te wees vir ander. “Praat met jou maatjies om die boodskap uit

te dra van die 16 dae van aktivisme. Dink voor jy in woede reageer. Ons dissiplineer nie ons kinders in woede nie.” Oor die trauma-kamer het Mentoor gesê: “Slagoffers van geweld het ’n plek nodig buite die aanklagkantoor waar hulle kan besin oor wat gebeur het. Dit het begin om wit olifante te raak. Ons wil die traumakamer-projek uitbrei om die diens aan die gemeenskap te verbeter.” Groot-Drakenstein se trauma-kamer is beskikbaar vir enige slagoffers van geweld. Vrywilligers is ook beskikbaar om slagoffers by te staan. Vir meer inligting oor die trauma-kamer en sy vrywilligers, of indien jy die dienste van die Groot Drakenstein SAPD benodig, bel hulle gerus by 021 874 1040.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.