Swartland
LEES DIT, BELEEF DIT | READ IT LIVE IT
Year 13 • 10 February 2015 | Tel. 022 482 3817
nuus@swartlandgazette.com bolandgazette.co.za
Kind(3) sterf tragies in brand LIZETTE SMIT DARLING - “Ek kon hoor hoe hy ‘eina, eina’ skreeu,” het die buurman gesê wat tevergeefs probeer het om die driejarige Linwill Damon uit die brandende huis te red. Linwill Damon het in die nag van 31 Januarie en 1 Februarie doodgebrand ná ’n brand op tot dusver onverklaarbare manier in sy ouerhuis in Akkerboomlaan ontstaan het. ’n Roudiens is verlede Donderdagaand voor die uitgebrande huis gehou waar inwoners en familie bymekaar gekom het om mekaar te ondersteun. Juliet Williams (61) het saam met Samantha Damon (24) en haar vier kinders in die huis gebly. Williams is Samantha se tannie. Samantha het, na wat verneem word, die Saterdagaand net voor middernag na die naaste OTM gestap om geld te trek om onder meer sigarette vir haar tannie te koop. Met Samantha se terugkeer sowat ’n halfuur later, was die huis in ligte laaie. Williams het vertel hoe die oudste kind, Eaton (7), haar net voor twaalf wakker gemaak het en vertel het daar is ’n brand in die huis. Williams het vir Eaton en Eudeen (2) uitgeneem en teruggegaan om vir Geralda (7 maande) te gaan haal. Williams en ’n buurman, wat verkies om anoniem te bly, wou vir Linwill in die brandende huis gaan haal, maar die vlamme was teen dié tyd, volgens die buurman, die hoogte van ’n mens. Williams het teen dié tydstip reeds brandwonde op haar gesig en rug opgedoen. Williams het bevestig hoe hulle vir Linwill om hulp hoor skreeu het. Inwoners met wie gepraat is, het vir Linwill as lieflik beskryf en ’n kind wat in almal se harte ingekruip het. Williams en Samantha het gesê dat daar ten tye van die brand nie elektrisiteit in die huis beskikbaar was nie, en daar ook nie ’n kers gebrand het nie. Na Williams se mening lyk dit asof die
brand by die sitkamervenster ontstaan het waar sy gewoonlik geslaap het. Samantha het vertel sy en die pa van die kinders is nie meer saam nie. Hy het nie die roudiens bygewoon nie, maar bure noem hoe hy gereeld met sy hond in die straat verby die huis stap. Geralda is in die Rooikruis-kinderhospitaal opgeneem waar sy vir ernstige brandwonde behandel word. Eaton en Eudeen is ongeskonde. Die polisie het gister teen druktyd bevestig dat die oorsaak van die brand nog nie bekend is nie en ook niemand in hegtenis geneem is op enige klagte wat met die brand of die dood van Linwill verband hou nie.
Juliet Williams (links) het tevergeefs probeer om al die kinders uit die brandende huis te red. Langs haar is Samantha Damon, die ma van die seuntjie wat dood is.
Die kombersie lê op die plek in die uitgebrande huis waar klein Linwill gaan hurk het om van die vlamme weg te kom. FOTO’S: LIZETTE SMIT