Swartland
LEES DIT, BELEEF DIT | READ IT LIVE IT
nuus@swartlandgazette.com bolandgazette.co.za
Year 13 • 17 February 2015 | Tel. 022 482 3817
Buite Ekspo weer groot pret Die kykNET Buite Ekspo, wat die afgelope naweek op die plaas Môreson gehou is, het vir groot opwinding gesorg met bekendes wat die terrein volgestaan het. Links staan Nadia Beukes, aanbieder van onder meer Boer soek ’n Vrou op kykNET. Sy het saam met André Venter, JAM-aanbieder (regs) aan die potjiekos-kompetisie by die Ekspo deelgeneem. By hulle staan Zanté Neethling en haar ma Rochelle van Malmesbury. Sien ook berig en meer foto’s binne op bladsy 4. FOTO: CHARLOTTE LESCH
Afknouery op skool in ernstige lig beskou
CHARLOTTE LESCH
MALMESBURY- Dit het die afgelope paar weke in sosiale kringe gegons oor kinders, veral in plaaslike laerskole, wat na bewering deur klasmaats geboelie word. Sommige ouers het drastiese stappe geneem en hul kinders uit die skole gehaal waar die kinders na bewering so deurloop en die ouers van mening is dat skole niks of te min doen om boelies te keer. Skoolhoofde in die Swartland is dit eens dat afknouery, beter bekend as boeliery, ’n realiteit is en in elke skool plaasvind. Deesdae gebeur dit glo ook nie net op skoolgronde nie, maar al hoe meer op sosiale netwerke waarvan ouers en onderwysers soms nie eers bewus is nie.
Die Gazette het ’n paar kenners op dié gebied genader oor hoe ouers én kinders afknouery moet hanteer, indien hulle daarmee gekonfronteer word. ’n Kliniese sielkundige van Darling, David Erasmus, sê boeliery dra by tot sowat een derde van stresverwante kwessies by skole én in sommige werksplekke. Daarom is dit belangrik om boeliery aan te spreek. Hy sê dit is baie belangrik dat ouers hul kinders moet glo wanneer hulle genader word, maak nie saak hoe klein die voorval is nie. “Dit moet by die skool aangemeld word. Dan behoort die leerder te weet dat die personeel ’n plan van aksie het om dit te hanteer. As die skool nie hulle ondersteuning gee nie, gaan dit nie opgelos word nie.” Hy meen in baie gevalle val die kind in ’n stres-reaksie siklus waar die liggaam oorwerk
word, wat kan lei tot groter probleme. Plaaslike skoolhoofde het ook hul raad gedeel en bevestig dat boeliery in ’n baie ernstige lig beskou word. Kallie Rautenbach, skoolhoof by Laerskool Swartland (LSS), sê ’n skool moet ’n besluit neem om boelievry te wees en toegewyd daartoe bly. ’n Skool moet bewus wees van sulke voorvalle en ’n plan van aksie instel hoe dit aangepak sal word. LSS het so ’n stelsel in plek, naamlik die Bully Busters. Van die senior leerders sal tydens pouses op die terrein rondloop en boeliery aanmeld. Leerders wat onder boeliery deurloop, moet dit by die bully busters aanmeld, wat dit op hul beurt by die personeel aan diens sal aanmeld. Rautenbach sê dit help nie om die skuldige uit die skool te sit nie. Hy meen gewoonlik het daardie kind
self hulp nodig. Daarom is dit belangrik om die boelie as mens aan te spreek, sy gesindheid om te draai en in ’n bully buster te verander. Hy sê albei partye se ouers moet ingelig word om die probleem te hanteer. Volgens hom moet ouers hul kinders die geleentheid bied om te praat en die kind se emosies aanhoor. Franscois Smit, skoolhoof van Laerskool Dirkie Uys op Moorreesburg, sê hulle poog om kinders se vertroue te wen sodat leerders hulle sal nader. “Ons stel medeleiers aan wat deur die leerders self gekies word. So vertrou hulle hul medeleiers en praat baie makliker met hulle.” Smit sê hulle filosofie is dat die probleem die beste aangespreek word in die beginstadium. Hy maan verder dat ouers bewus moet wees van die gevare wat sosiale netwerke inhou.
Janine Adonis, hoof van Liebenberg Primêr, sê ouers van altwee die leerders word ingeroep wanneer so ’n geval aangemeld word. “Ons beskou dit in ’n baie ernstige lig en volg die Suid-Afrikaanse Skolewet tot die reël,” sê Adonis. Sy sê indien die voorval herhaaldelik plaasvind, sal die skuldige deur ’n dissiplinêre verhoor gaan wat deur die dissiplinêre komitee op die beheerliggaam hanteer sal word. Die uitkoms kan selfs lei tot skorsing. Willie Taylor, skoolhoof van die Christelike Privaatskool Malmesbury, sê dit is vir hulle baie belangrik dat die personeel ingelig moet word om iets omtrent die situasie te doen. Taylor meen ’n skool moet nie skroom om ouers nader te trek nie. “So ’n kind wat afknou, het gewoonlik self hulp en aandag nodig. Die oplossing is nie om kinders te straf nie.”
X1PQVJUH-ST170215