Swartland
Year 10 • 17 Julie 2012 | Tel. 022 482 3817
Intog van stedelinge verwag David Engelbrecht MOORREESBURG – Die konstruksiereus Power Construction het met uitgrawings op dié dorp begin en as alles volgens die ontwikkelaar se planne verloop, sal die Paradyskloof-ontwikkeling teen die einde van 2014 voltooi wees.
Maar dié beplande reuse-ontwikkeling sal waarskynlik grootliks deur mense van elders bewoon word. Plaaslike ondernemings sal volgens huidige aanduidings dalk ook nie daar sake doen nie. Volgens die ontwikkelaar, Mynhard van der Westhuizen van Prospect Park Invest, het die uitvoerbaarheidstudie wat aanvanklik vir die ontwikkeling gedoen is aangedui dat plaaslike inwoners nie meer as 10% van die wooneenhede sal koop nie. Die ses erwe wat tot dusver verkoop is, is reeds aan kopers van buite Moorreesburg, wat hier wil kom aftree, verkoop. Hy sê afgesien van die huise, sal die woonstelle in Paradyskloof, wat op die webwerf bemark word as aftreeoord en die ideale plek vir mense wat die gejaag van die stad wil ontsnap, aan beleggers verkoop word. “Die woonstelle word met ’n terugverhuringskontrak verkoop vir vyf jaar, met die opsie vir ’n verdere vyf jaar. Ons wil graag die woonstelle gebruik vir afgetredenes wat nie ’n huis kan bekostig nie, maar wel ’n woonstel kan huur.” Volgens Van der Westhuizen is 80% van die winkelsentrum nou al
voorlopig verhuur, maar is al die huurders van buite Moorreesburg. “Ons het nog nie een plaaslike besigheid wat wil oorskuif nie.” Hy is van mening die rede is dat ondernemings nie hul huidige persele in die middedorp wil verlaat nie. Spar op Moorreesburg, een van die besighede wat vir Paradyskloof genader is, het dié sentiment bevestig deur te sê hulle besit die perseel waar hulle tans sake doen. “Ons wil nuwe besighede inbring,” sê Van der Westhuizen. “Ons wil nie hê besighede moet net oorskuif nie.Dan is dit nie groei vir die dorp nie. Dit is ’n geval waar jy dan net die bestaande besighede rondskuif en dan staan die dorp later leeg.” Belangstelling onder huurders van elders is glo baie groot. “Ons wys al navrae weg, want ons kan nie almal akkommodeer nie. In die sentrum kan ons net twee koffiewinkels en een restaurant akkommodeer. Hierdie winkels is reeds verhuur. Ons het al drie belangstellendes weggewys wat restaurante wou oopmaak.” Volgens Van der Westhuizen is onderhandelinge nog onafgehandel en sal dit eers einde Augustus bekend wees wie almal huurders in die winkelsentrum sal wees. Die voltooide ontwikkeling sal na verwagting bestaan uit 44 huise, 77 woonstelle, ’n mediese sentrum, ’n boetiekhotel met gesondheidspa en mineraalbron, en ’n winkelsentrum van 15 000 m² op twee vlakke, waarvan 5 705m² as winkels verhuur sal word en die res ontspanningsgeriewe sal wees. Lees nog ’n berig op bladsy 2.
Groot wenner: Jannie de Clerk van die Groote Post-landgoed buite Darling spog vanjaar met ’n rekordpunt vir sy blok Sauvignon Blanc. Hy is pas aangewys as wenner van VinPro en Winetech se wingerdblokkompetisie in die Swartland-streek en die beoordelaars het hom ’n ongekende 100,5% vir die blok toegeken. Lees die berig op bladsy 2. FOTO: VERSKAF
Lees binne Sandhope sal plek maak vir kinderspeelplek. BLADSY 3
Kyk wat jy dié week met die Gazette kan wen. BLADSY 7