Swartland
LEES DIT, BELEEF DIT | READ IT LIVE IT
nuus@swartlandgazette.com bolandgazette.co.za
Year 13 • 24 February 2015 | Tel. 022 482 3817
Rugby vir Dahlia Groot rugby het hom die afgelope naweek op Wesbank-rugbyklub se tuisveld afgespeel met die afskopwedstryd van die 2015 Cell C Gemeenskapsbekertoernooi. Wesbank-rugbyklub het ’n wentelling van 32-13 teen Ferros-rugbyklub van Witbank aangeteken. ’n Tjek van R10 000 is kort voor die wedstryd aan Huis Dahlia-sorgsentrum oorhandig. Van links staan Jacques Malan van OK Minimark, Wesbank RVK se hoofborg, Fahieka Nackerdien, ambassadeur vir Huis Dahlia-sorgsentrum en die klub se voorsitter, Etienne Lategan. FOTO: CHARLOTTE LESCH
‘Niemand is die wenner nie’ LIZETTE SMIT
MALMESBURY - Die voorsitter en die skoolhoof se onenigheid wat ’n populêre dagblad gehaal het, het die afgelope paar dae behoorlik inwoners aan die praat met min mense wat nié ’n opinie oor die aangeleentheid het nie. Volgens berigte in die media gaan die debakel oor erekleure – iets wat mense in gesprek in die verbygaan in ’n plaaslike supermark, as kinderagtig beskryf het. ’n Persverklaring wat verlede Woensdag deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie aan die media uitgereik is, het bevestig dat ’n beskermingsbevel deur die skoolhoof van Hoërskool Swartland teen die voorsitter van die beheerliggaam bekom is. Die voorsitter is Joggie Scholtz en die bevel verhoed hom om met Dirk Ma-
rais, die skoolhoof, in verbinding te tree, finansiële vergoeding te weerhou of vals inligting te versprei. Scholtz het by navraag gesê hy kan weens die beperkinge van die interim bevel, of hy daarvan hou of nie, nie kommentaar oor die aangeleentheid gee nie en gesê, “ek weet dat ek later die geleentheid sal kry om my kant van die saak te stel, wat op feite gegrond sal wees.” Hy het egter bygevoeg dit is jammer dat ’n leerder van die skool by die aangeleentheid betrek word, terwyl dit eintlik niks met dié kind of enige kind se erekleure te doen het nie. “Die gebeure wat nou plaasvind is tot niemand se voordeel nie, want daar kan nie ’n wenner wees nie en dis beslis nie in belang van Hoërskool Swartland, die dorp of die streek nie. Ek wil baie graag reageer op die aantygings en die verkeerde beriggewing in Die Burger, maar ek kan ongelukkig nie
weens die feit dat die saak sub judice is.” Marais het gister gesê hy is oortuig dit is ’n persoonlike vendetta wat Scholtz in sy eie hoedanigheid teen hom voer en bevestig dat dit wel 29 Augustus verlede jaar met ’n erekleure-kwessie begin het. Hy sê dit was nie sy bedoeling dat die debakel by die media uitkom nie en hoe hy moeg baklei is. Marais het met die grootste lof van Scholtz se dogter gepraat. Marais sê dat hy wel verskillende kwessies wat nou ter sprake is met Scholtz bespreek het, maar hy (Marais) soms vinnig besluite moet neem en daar nie altyd tyd is om die regte prosedures te volg soos deur die beheerliggaam voorgeskryf word en wat boonop tydsaam kan wees nie. “Hy (Scholtz) slaan my met goed wat bespreek is,” het Marais gesê. Marais sê hy was genoodsaak om sy vakbond te nader na sy vrou en kind
ook geïmpliseer is in klagtes van nepotisme. ’n Klag van finansiële wanbesteding is deur die WKOD teen Marais ondersoek, maar die voorlopige verslag is nog nie beskikbaar gestel nie. Een van die skool se erekleure-komiteelede, wat verkies om anoniem te bly, het ook gesê die kwessie gaan nie oor Scholtz se dogter se erekleure nie. Scholtz, as voorsitter van die beheerliggaam wat vir die bestuur, beheer of leiding van die skool se sake verantwoordelik is, het glo die erekleurekomitee daarop gewys dat hulle buite hul bevoegdheid opgetree het ná hulle die erekleurebeleid gewysig het. Volgens ’n besorgde ouer het leerders wat in 2013 Boland-hokkie gehaal het, erekleure gekry, maar om ’n onverklaarbare rede die volgende jaar slegs halwe erekleure gekry toe hulle weer die Boland-hokkiespan gehaal
het. Die bron sê verder dat baie kinders benadeel sou word met die aangepaste erekleurebeleid en het sy haar gevolglik tot Scholtz en die beheerliggaam gewend vir hulp. Nog ’n inwoner wat verkies om nie sy naam genoem te hê nie en teenwoordig was by die vergadering waar daar glo byna ’n vuisgeveg uitgebreek het, sê dat hy die verskil in opinie nie so interpreteer het nie. Jeanne Steyn is van mening dit is onregverdig om ’n leerder by die debakel in te sleep. Sy het die versekering gegee dat die twispunt nooit oor Scholtz se dogter se erekleure was nie, maar oor ander swemmers en Scholtz se dogter elk van hulle erekleurebalkies verdien. Marais het gesê hy hoop die kwessie kan vreedsaam opgelos word. Scholtz moet 30 Maart in die plaaslike landdroshof verskyn.