Swartland
Year 10 • 31 Julie 2012 | Tel. 022 482 3817
Waar is ons prysgeld?
Vreemde seevoëls
David Engelbrecht MALMESBURY – Al het die Swartland Munisipaliteit ’n hele paar jaar terug al die toekenning vir die skoonste dorp in Suid-Afrika ontvang, het hy steeds nie al sy prysgeld van die nasionale departement van omgewingsake gekry nie.
Hoeveel mense kan sê dat hulle al ’n volstruis uit die see sien stap het? Die visserspan van Johan Basson het verlede week verdwaas die twee swemmende voëls naby Yzerfontein opgemerk en hulle, soos ’n skaaphond dit sou doen, land se kant toe gejaag. Lees meer en sien nog foto’s op bladsy 3. FOTO: VERSKAF
Volgens Joggie Scholtz, munisipale bestuurder, het die munisipaliteit teen vandeesmaand net sowat ’n tiende van die R2 miljoen-prysgeld wat hy oor twee jaar gewen het, ontvang en die hewige stryd om die geld te kry, duur voort. Scholtz verduidelik dat hulle in die 2006-2007-boekjaar vir die eerste keer hierdie toekenning op nasionale vlak ontvang het. “Die prysgeld het in daardie stadium ongeveer R1 miljoen beloop,” sê hy. Hy sê sodra ’n munisipaliteit die toekenning ontvang, moet hy ’n besigheidsplan opstel oor hoe hy die geld in die munisipale area gaan spandeer. Scholtz vertel dat daar nie probleme was met die indiening van die eerste besigheidsplan nie. “Maar ’n jaar later, toe ons ondersoek instel oor hoekom daar nog nie betalings was nie, moes ons hoor dat hulle gerieflik van ons vergeet het.” Die volgende jaar het die muni-
sipaliteit wéér die toekenning gewen, maar dié keer het hy opdrag gekry om sy besigheidsplan uit te brei voor die twee betalings gesamentlik gedoen sou word. Dit is hier waar dinge volgens Scholtz begin skeefloop het met personeel by die departement wat voortdurend verwissel het en ’n string administratiewe vereistes wat gereeld aangepas is. Later is die munisipaliteit ook aangesê om ’n implementeringsagent aan te stel wat met dié tipe betalings sou werk, en die geld sou dan aan die munisipaliteit oorbetaal word soos dit nodig sou word. “Selfs ons agent het ook geweldige probleme ervaar.” Die munisipaliteit kon tot dusver slegs R288 000 terugeis. “Dit bly steeds ’n gesukkel en ’n gesloer om hierdie geld te kry.” Scholtz sê die geld sou ingespan word as verlengstuk tot die munisipaliteit se herwinningsprojek om nog herwinningshouers regoor die Swartland op te rig. Die Gazette kon nie teen druktyd kommentaar van die departement kry nie. Intussen het Scholtz gesê die munisipaliteit sal weer vir die kompetisie inskryf en dat hulle selfs entoesiasties is om weer met die louere weg te stap. Om ’n finalis te wees, moet die munisipaliteit eers die provinsiale ronde wen.
Lees binne Plaaslike skrywer slaan prys vir joernalistiek los. BLADSY 5
Wen nog pryse in ons nuwe aanlynkompetisies. BLADSY 8
Foto’s: Gewone mense word superhelde. BLADSY 11