Swartland
Year 11 • 3 December 2013 | Tel. 022 482 3817
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Eerste afskeid vir matrieks EERSTE MATRIEKAFSKEID: Riebeeck Vallei Spesiale Skool op RiebeekWes het verlede week die eerste matriekafskeid in die skool se bestaan gehou. Hier maak die spoggerig en kreatief-geklede matriekgroep geskiedenis. FOTO: CHENAY ADONIS
Gesinsgeweld: ‘wette kortwiek polisie’
VERSLAGSPAN
MALMESBURY – Word daar genoeg gedoen om die slagoffers van geweld te help ten opsigte van veiligheid en geregtigheid? Dit was die vraag wat die groepsbedieningsleier van die Swartlandstreek, brig. Aneeqha Jordaan met die afskop van vanjaar se 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders op 25 November gevra het. Sy meen baie mense word aan gesinsgeweld blootgestel, maar die voorvalle word nie noodwendig by die polisie aangemeld nie uit vrees vir intimidasie. Polisiewoordvoerder, konst. Hennie du Rand, het bevestig die gevalle van gesinsgeweld wat aangemeld word weerspieël nie die ware prentjie van die voorkoms daarvan nie. Konst. Johnatan Filander, die polisiewoordvoerder op Darling, het gesê die 16 dae van aktivisme is goed
vir bewusmaking van die probleem van geweld teen vroue en kinders, maar dat daar verskeie probleemareas is. Eerstens is daar volgens hom nie genoegsame plekke van veiligheid waarheen vroue en kinders geneem kan word waar hulle in veiligheid en gemak berading na traumatiese gebeure kan ontvang nie. Tweedens maak die talle wette en die Kinderwet dit soms moeiliker vir die polisie om mense na veiligheid te neem. Hy noem die voorbeeld van ’n minderjarige meisie wat deur haar pa gemolesteer is en hoe problematies dit was om haar van haar huis en familie na veiligheid te neem. Hy is van mening dat wetlike prosesse dalk te lank vat vir polisie en maatskaplike werkers om hul werk doeltreffend te kan doen. Elroy Machelm van die Legal Aidkantoor op Malmesbury, sê die stelsel word dikwels misbruik deur vroue wat sake maak om hul mans en mansvriende skrik te maak, vals
klagtes aflê en sake terugtrek wat bydra tot die oorvol hofrolle. Hy sê baie sake word teruggetrek en vermoed die redes is dikwels intimidasie of dat vroue finansieel afhanklik van die man is wat hulle aanrand of dalk in ’n bose kringloop van emosionele manipulasie vasgevang is. Machelm voeg by dat drank by al meer gevalle van gesinsgeweld betrokke is. Volgens hom is dit ook opvallend hoe daar gereeld in gevalle waar vroue vermoor is, sy reeds ’n interdik teen haar moordenaar gehad het. Grondwetkenner, prof. Marinus Wiechers, meen daar is so baie wette om gesinsgeweld te help bekamp, maar dat die probleem nie verdwyn nie. “Daarom is dit nie ’n grondwetlike probleem nie, maar eerder die toepassing van daardie wette.” Wiechers stem saam dat die wette die polisie se werk baie moeilik maak om veral minderjariges te beskerm.
“Die apparaat om vroue en kinders te beskerm moet eerder opgeknap word. Gebruik vandag se tegnologie. Satellietopsporing is byvoorbeeld nodig om te fokus op huise waar geweld reeds aangemeld is en dit te mo-
nitor.” Plekke van veiligheid moet beskikbaar gestel word om slagoffers te beskerm as die beskuldigde slegs ’n korttermynvonnis opgelê word weens oorvol tronke.
Polisielede het voorverlede Sondag (24 November) deur die strate van Illingelethu gestap, pamflette uitgedeel en met inwoners oor gesinsgeweld gepraat ter bewusmaking van die begin van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.