Theewaterskloof gazette 12 aug 2014

Page 1

Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier

Year 4 • Tuesday 12 August 2014 | Tel. 028 214 1294

www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi

Overberg het sy lentejas aan

Die Overberg is oortrek met goudgeel canola en inwoners is dit eens dat die lente op pad is. Net buite Caledon staan die nege windturbines op aandag bo die kraakvars landskap. FOTO: ANNETTE THERON

Botrivier soek eie polisiestasie ERIEKA ROUX EN ANNETTE THERON Met ’n inwonertal van 8 223, wat ’n informele woongebied en nog huise in aanbou insluit, is dit vir talle Botrivierders onaanvaarbaar dat die Botrivier-polisiestasie nie 24 uur per dag oop is nie. Gerugte dat daar aansoek gedoen gaan word vir ’n satelliet-polisiekantoor word wyd verwelkom. Verskeie inwoners sê die heersende misdaadtendense in die land is vir hulle ’n bron van kommer, en hulle het ook op 22 Julie ’n gemeenskapspolisiëringsforum gestig. Raadslid Pearl Stanfliet, wat ook self onder ’n inbraak deurgeloop het, sê sy ondersteun die poging om ’n satelliet-polisiestasie in Botrivier gevestig te kry en het onderneem om die poging aan te beveel by die WesKaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Dan Plato. Maria Herbert, ’n gemeenskapsleier, sê ’n satelliet-polisiekantoor kan

alleenlik werk indien daar personeel aan diens sou wees. Volgens Herbert kan die polisie en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ’n groter rol speel in die bekamping van misdaad en veral met dwelms by kinders. “Hulle sal meer aandag kan skenk aan kinders wat op straat ronddrentel in plaas van op skool wees.” Herbert sê voorts dit is onaanvaarbaar dat mense by die huidige polisiestasie op die spoorwegstasie voor ’n geslote deur staan en dan ’n nommer moet skakel vir aandag. “Hierdie nommers kan nie gratis gebel word soos in die geval van 10111 nie en kan ook nie van ’n selfoon geskakel word nie. Indien ’n satellietpolisiestasie vir Botrivier realiseer sal dit beslis ’n stap vorentoe wees. Ek weet daar was jare gelede al sprake van ’n eie polisiestasie en grond was ook destyds geïdentifiseer as ek dit nie mis het nie. Daar het egter niks van gebeur nie en intussen het misdaad geëskaleer.” Herbert meen die huidige kantore en lede is ontoereikend en daar moet

dringend aandag gegee word aan die situasie. “Soms is die patrollievoertuig met personeel op ’n toneel en duur dit soms ’n baie lang tyd alvorens hulle by die kantoor opdaag of ’n klagte kan bywoon,” sê sy. Sy meen die huidige polisiestasie is nie sentraal geleë nie. Rachel Davids (65), ’n pensioenaris in Fonteinstraat, sê die nuus van ’n moontlike satelliet-polisiestasie is baie goeie nuus, maar sê ook dit moet sentraal geleë wees. “Indien dit op ’n ander plek nader aan die meerderheid inwoners sou wees, sal dit voorkom dat ’n mens deur die donker bos moet stap en ’n ver ent moet stap.” Sy het nog nie by ’n toe kantoor aangekom nie maar baie van haar vriende het wel al hieroor gekla. ’n Inwoner van fase twee wat anoniem wil bly, sê in haar omgewing word nie misdaad gepleeg nie, “en enigeen wat dit sou waag sal op sy herrie kry by dié gemeenskap.” Avril Young, ’n stigterslid van die Botrivier-buurtwag, sê pogings om ’n volwaardige of satelliet-polisiesta-

sie vir Botrivier te kry kom reeds etlike jare aan, onsuksesvol. “Die owerhede het nog altyd gesê misdaadsyfers vir Botrivier regverdig nie ’n volwaardige polisiestasie nie, al het die buurtwag pogings aangewend om die owerhede te oorreed”. Volgens Young kan dit ongeveer 12 jaar gelede wees sedert die eerste aansoek en sy verwag nie dat daar ’n verandering van opinie by die owerhede sal wees nie. Nog ’n inwoner sê mens moet die toenemende laekoste-huisbewoners en informele huisbewoners in gedagte hou wat die inwonertal van die dorp aansienlik vergroot het. Dié inwoner het ook sy kommer uitgespreek oor die toenemende dwelmprobleem. “Dit kan ook ’n faktor wees, die dorp is vervuil van tikkoppe en dis deesdae ook kinders wat by tik betrokke is.” Kapt. Gerrit Botes, woordvoerder van die Caledon-polisie, het by navraag gesê met die mannekrag tot hul beskikking probeer hulle na die beste van hul vermoëns voorsien in

die behoeftes van die gemeenskap. “Dis nie altyd vir ons haalbaar om ’n lid in die aanklagkantoor in Botrivier te plaas nie, veral gedurende die nag, want dis beter om liewer twee voertuie in die dorp te hou met sigbare polisiëring.” Botes sê oor die ligging van die polisiekantoor kan hulle niks doen nie. “Rakende die tolvrye nommer wat geskakel kan word het elke sellulêre netwerk ’n tolvrye nommer en ons kry gereeld oproepe via dié diens wat na ons deurkom van mense in nood of wat ons hulp nodig het, waarop ons dan reageer.” Botes sê die nommer om te skakel vir alle netwerke is 112. Botes sê as die mannekrag beskikbaar is sal hulle’n persoon in die aanklagkantoor (gemeenskapsdienssentrum) in Botrivier plaas. “Wat Caledon uniek maak is dat daar ook ’n gemeenskap in Tesselaarsdal en Myddleton is aan wie se behoeftes ons ook moet voldoen.” Hy sê hulle ondersteun die inisiatief om die minister te nader vir ’n permanente polisiekantoor op Botrivier.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.