Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 3 • Tuesday 18 June 2013 | Tel. 028 214 1294
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Gazette soek komberse teen die winterkoue
Inwoners van Tafelronde Herberg is Vrydagoggend bederf met ’n Vadersdag-ete by Sonskyn Kleuterskool en terselfdertyd het Elouise Fourie, ’n jeugwerker van NG Kerk-Wes, komberse aan die bejaardes en peuters oorhandig wat deur gemeentelede geskenk is. In die middel is Elouise met arms vol komberse en regs is Cathy Baadjies, skoolhoof van Sonskyn Kleuterskool. Lesers wat ekstra komberse of warm klere in die kas het en dit nie meer gebruik nie, kan dit tydens kantoorure by die Gazettekantoor kom aflewer. Ons sal dit op ons beurt aan liefdadigheidsorganisasies gee om te versprei. FOTO: ANNETTE THERON
Ja, vir Ladismith Kaas! ANNETTE THERON Suiwelboere in die Overberg is verheug oor die toetrede van Ladismith Kaas tot die melkmark. Renaldo Groenewald, uitvoerende hoof van Ladismith Kaas, sê hulle het tot die melkmark in Bredasdorp toegetree omdat die gebied nie te ver van hul produksiefasiliteit is nie en heel toeganklik en geskik is om ekstra volumes melk te bekom om by hul fabriek te benut. “Die area het groeipotensiaal en is ’n stabiele area vir melkproduksie.” Boere in die omgewing is opgewonde oor dié nuwe toetreder aangesien
melkaankope reeds jare lank nie markgerigte melkpryse ontvang nie. “Daar is ongeveer 60 melkboere van Botrivier tot Stormsvlei, wat die Strandveld insluit. In perspektief geplaas, was daar vier jaar gelede ongeveer 200 melkboere en 15 jaar terug 1 000,”sê Dèan Kleynhans, ’n melkboer van die omgewing. Volgens hom was daar nog altyd verskeie melkkopers. Hy sê Parmalat het sowat 80% van die melk aangekoop terwyl die ander melkkopers vir ’n spesifieke mark gekoop het, wat klein volumes is. Ladismith Kaas is in dieselfde mark as Parmalat, wat dus nou ’n nuwe dimensie verleen in terme van kompetisie.
Hy sê voorts Ladismith Kaas vervaardig kaas en fokus ook sterk op die vervaardiging van melkpoeier. “Ander melkkopers mag nou ook belangstelling toon in dié area, wat die optimale funksionering van die vryemark tot gevolg sal hê, iets wat vantevore nie plaasgevind het nie.” Op ’n vraag of ander aankopers nou hoër pryse sal aanbied, het Kleynhans geantwoord dit hang af van die volumes wat hulle gaan verloor. “Daarom is meer kopers noodsaaklik, sodat die werking van die vryemark tot sy reg kan kom.” Kleynhans sê met die verswakking van die rand het boere gesien dat ingevoerde produkte se pryse styg en
internasionale suiwelpryse het die hoogte ingeskiet weens die droogte wat in Queensland, Australië en in Nieu-Seeland voorgekom het. “Verbruik in Afrika het toegeneem en Suid-Afrikaanse produkte word uitgevoer na dié mark. Ons binnelandse produksie het gestagneer. Al hierdie faktore gee aanleiding daartoe dat daar druk in die waardeketting kom vir die melkkopers om hul melkbronne te beskerm.” Dit mag daartoe aanleiding gee dat opwaartse druk op produsentepryse ontstaan. “Verder is daar toenemende druk op produsente se insetkant met die verswakkende rand. Omtrent alle proteïene word ingevoer.
Dus is verhoogde voerpryse aan die produsente ’n gegewe, wat tot gevolg kan hê dat nog produsente die bedryf verlaat, nog werksgeleenthede daarmee heen gaan en voedselsekerheid ook in gedrang kom.” Parmalat is genader om kommentaar, maar die hoof van hul produksie-eenheid is tans op besoek aan Frankryk. Johannes Uys, ’n melkboer van die Bredasdorp-distrik, sê Ladismith Kaas se toetrede tot die mark beteken baie vir die boere. “Ons het vir jare met een koper gesit. As hulle nou inkom is dit kompetisie wat net tot voordeel van ons almal gaan wees.”