Theewaterskloof gazette 21 01 2014

Page 1

Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier

Year 4 • Tuesday 21 January 2014 | Tel. 028 214 1294

www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi

Rooi is 2014 se wenkleur

Hoërskool Overberg se Kleuresportdag op Vrydag 18 Januarie het goeie verteenwoordiging van alle leerders geniet. Louis Kriel, sportorganiseerder, sê hulle oogmerk was massadeelname en alle items was vol ingeskryf. Die Rooispan (foto) het met 1 411 teenoor die 1 324 van die Blouspan gewen en die Blouspan het die Geesbeker gewen. FOTO: BEN CLAASSENS VAN BEN C PHOTOGRAPHY

OB kom dorp se water bekyk

ANNETTE THERON

Inwoners van Riviersonderend is steeds bekommerd oor die kwaliteit van hulle drinkwater. Omdat die Riviersonderend Belastingbetalersvereniging en Theewaterskloof-munisipaliteit nie tot ’n vergelyk kan kom oor die gehalte van die water nie, sal die kantoor van die Openbare Beskermer volgende maand inspeksie kom doen. Clive Sandenbergh, voorsitter van die Riviersonderend Belastingbetalersvereniging, het in Maart verlede jaar ’n klagte by die Menseregtekommissie (MRK) oor die gehalte van drinkwater in Riviersonderend ingedien, waarna die MRK die aangeleentheid na die openbare beskermer verwys het. Oupa Segalwe, woordvoerder van die Openbare Beskermer, het by navraag gesê ná ontvangs van die klagte by die MRK, is voorlopige navrae na sowel die klaer as die munisipaliteit gestuur. “Die twee partye verskil oor die meeste kwessies en in die lig hiervan, het die Openbare Beskermer ’n in-loco inspeksie geskeduleer vir volgende maand. Sowel die munisipaliteit as die Riviersonderend Be-

lastingbetalersvereniging sal genooi word om deel te neem en na aanleiding van hierdie stap sal die pad vorentoe bepaal word.” Sandenbergh sê inwoners van Riviersonderend het verlede jaar minstens vier keer drinkwater van swak gehalte deur hulle krane ontvang. “Die mense wat dit kan bekostig het H²O waterfiltreerders ten duurste aangeskaf. Elke keer dat die water so lyk [hier verwys hy na ’n foto], kos dit ’n verdere R650 vir ’n nuwe filter, aangesien die gemors wat ons as drinkwater ontvang die filters blokkeer.” Sandenberg sê mense wat onverhoeds gevang is met die vuil water, sal klere wat in die wasmasjien geplaas was nooit weer skoon kry nie. “’n Verdere probleem is dat die slik wat in die vuil water voorkom, in die warmwatersilinders afsak en mettertyd die element bedek. Dit veroorsaak dat meer krag gebruik word om die water te verhit, maar dit verkort ook die leeftyd van die silinder.” Sandenbergh meen met die swaar reën wat hulle onlangs ontvang het, is daar heelwat skade op die dorp aangerig. “’n Gedeelte van die ou asbes-pyplyn uit die berg uit, het van die krans afgeval waar dit by die nu-

Talle inwoners kla oor die vuil water in Riviersonderend wat vlekke op hul wasgoed veroorsaak.

Dit is hoe dié inwoner se badwater op 28 Desember gelyk het.

we herstelde pyplyn aansluit, maar die Theewaterskloof-munisipaliteit hou voet by stuk dat die ou pyplyn nog goed is. Tans word al ons water uit die Sonderendrivier gepomp totdat herstelwerk aan die pyplyn voltooi is. Weens die hoë vloei, is die besoedeling in die rivierwater redelik ‘verdun’. Die feit bly egter, dat as die hele pyplyn vervang is, soos ons oorspronklik gevra het, sou dit nie nou nodig wees om water uit die rivier te pomp nie.” Hy sê buiten die gemors met hulle water, kla hulle reeds die afgelope vyf jaar oor die onvoldoende stormwaterafvoerstelsel.

Stiffie Cronjé, mediawoordvoerder van Theewaterskloof-munisipaliteit, het by navraag gesê dit is inderdaad so dat die buitengewone vloedwaters skade aan die waterinfrastruktuur aangerig het. “Die skade is intussen herstel en die status rakende die water wat voorsien word bly soos dit tevore in diepte verduidelik is.” Cronjé sê die munisipaliteit sal nietemin die klagtes ondersoek en indien nodig dit deur munisipale prosesse van kommunikasie met die publiek met laasgenoemde opneem. Cronjé sê op dié stadium wag TWK om die vermelde besoek en die status

daarvan te bevestig, waarna die munisipaliteit kommentaar sal lewer. “Wat die algemene situasie van die water einde Desember 2013 betref, is die munisipaliteit besig om moontlike oorsake vir stand daarvan te ondersoek en sal daar later volledig daaroor verslag gedoen word.” Erika van Heerden, ’n inwoner van Riviersonderend, sê sy is bekommerd want nie almal is in die posisie om in ’n motor te klim en te gaan water koop nie. ’n Vriendin van haar se vyfjarige dogtertjie is aan die begin van Desember gehospitaliseer as gevolg van gastritis – “en ek skryf dit toe aan ons drinkwater”. Dr. Philippe du Preez en sy vrou, Hanna, is plaaslike mediese praktisyns op Riviersonderend. Hy het by navraag gesê hy is bewus daarvan dat inwoners bekommerd is oor die kleur van die water en afsaksels, en hy meen binne standaarde is die water veilig. “Gister en vandag [Donderdag 16 en Vrydag 17 Januarie] is die water weer skoon. Die onlangse wolkbreuk het ’n pyp laat bars, maar dit is intussen herstel en ons het weer skoon water.” Du Preez sê hul praktyk, asook die kliniek, toon nie ’n beduidende toename in gastroënteritis nie.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.