Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 3 • Tuesday 21 May 2013 | Tel. 028 214 1294
WENSPAN: Die o.13 A-rugbyspan van Laerskool Overberg het Saterdag tydens die Wintersportdag altwee hul wedstryde gewen. Die eindtelling van die wedstryd teen Laerskool de Villiers Graaff was 10-0 en 41-0 teen Hoërskool Grabouw. Agter van links is Ruan Lamohr, Cameron Klopper, Ronaldo Mackenzie, Marcel Pheiffer, Rikus Brand, Johnnie Solms, Floors Brand, Gustav Minnaar, Daniel du Toit Gerrit de Kock, Jaco Conradie en Johan Kroes. In die middel is Van Zyl Strauss Jandré Roux, Jacques Vos, afrigter, Reemen Moore, Keanan Myburgh, Robin Hess, Vlam Matthee, afrigter. Voor aan weerskante van die vlag is van links Graighan Fenner en Lee-Handré Windvogel. FOTO: TIRSA FOURIE
Taxi was op pad ‘hel toe’ ANNETTE THERON EN ERIEKA ROUX “Ek het gedink ons ry hel toe.” So sê een van die 13 insittendes van ’n taxi waarmee hulle Saterdag (11 Mei) van Somerset-Wes na Caledon vervoer is. Hulle het ook hul ongelukkigheid oor die optrede van die Caledon-polisie uitgespreek. Die bestuurder van die taxi het glo na bewering erken dat hy vooraf “gekuier” het. Die insittendes van Caledon en Myddleton moes vreesbevange en hulpeloos ervaar hoe die bestuurder, wat klaarblyklik onder die invloed was, telkens heen en weer oor die pad in die rigting van Caledon gery het. Een van die insittendes het aan die Gazette vertel dat die be-
stuurder by Dassiesfontein byna in ’n paal vasgery het. Die Caledonners is opgelaai waar hulle ’n kursus bygewoon het vir die nuwe Pick n Pay wat op 29 Mei in Caledon open. Een van die insittendes, wat verkies om anoniem te bly, sê reeds met die inklim in die taxi het die bestuurder na drank geruik. Hulle het om 16:20 vertrek en kort daarna het sy ’n trui oor haar kop getrek en stilletjies die Caledon-polisie oor die toedrag van sake ingelig. By Grabouw, waar ’n insittende afgeklim het, het ’n ander vreesbevange Caledonner geweier om verder met die taxi te ry en ook afgeklim. “Toe ons in Myddleton kom, was die polisie daar en het hulle sy bestuurderslisensie en PDP gevra, maar hulle het toe met ligte gewys hy kan maar ry. Hy is toegelaat om
verder te bestuur terwyl die polisie die taxi gevolg het. Die vrou het ’n tweede oproep aan die polisie gemaak om die toedrag van sake te rapporteer en was teen daardie tyd so ontsteld dat sy gevloek het. Die polisievrou wat die oproep ontvang het, het haar glo berispe en die foon in haar oor neergesit. “Op pad terug Caledon toe, oorkant die nuwe Mall in Hoofstraat by die stopstraat, het die bestuurder met ’n vaart oor die stopstraat gery. Toe eers het die polisie hul ligte en alarms aangesit en hom gestop.” “Was dit nie dat die taxi-bestuurder by die Victoria Mall oor die stopstraat gery het nie, het hy sekerlik die polisie ontglip,” vertel sy. “Eers toe het die polisie hom gestop, maar steeds hulle nie gesteur aan klagtes van die insittendes nie. Navrae oor
stappe teen die bestuurder – soos ’n bloedalkoholtoets – het op dowe ore geval. Die vrou is na bewering meegedeel dat die polisiebeamptes, wat in uniform geklee was, se dienstydperk verstryk het en genoemde toetse hul minstens vier uur langer aan diens sou hou. “Een van die polisiebeamptes het egter die bestuurder gevra om agter in die taxi te klim terwyl hy self agter die stuurwiel ingeskuif het om Caledon se insittendes te gaan aflaai. Die bestuurder van die taxi is daarna weer toegelaat om self die taxi te bestuur.” Met hul tuiskoms en die aanhoor van hul nagmerrie-ondervinding het van die vroue se mans die polisie gebel om hulle oor die voorval in te lig. Na verneem word ry die kursusgangers gereeld met ’n taxi van Hermanus met ’n bestuurder vir wie hul
baie respek en waardering het, maar hy was ongelukkig nie op die betrokke dag beskikbaar nie. Die vrou sê dit kon noodlottige gevolge gehad het wat talle families kon geraak het. Nog ’n insittende sê: “Die polisie se optrede was egter uiters teleurstellend en ons sou graag antwoorde wou hê op ons vrae.” Kol. Gavin Brink van die Caledonpolisie het by navraag gesê die saak word tans ondersoek en stappe word teen vier polisiebeamptes geneem. Brink sê hulle betreur die voorval. Paul Hutton, bestuurder van Pick n Pay, het by navraag gesê dat dié aangeleentheid tans deur hulle ondersoek word en as bestuurder van Pick n Pay is hy ongelukkig oor die feit dat sy personeel aan die risikogedrag blootgestel is.