Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 3 • Tuesday 23 July 2013 | Tel. 028 214 1294
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
’n Diep bedroefde Cathleen Kruger sit langs haar man, Cyril, in die Riviersonderend-gemeenskapsentrum tydens die begrafnisdiens. Kenan se boetie, klein Cyril jr., sit op sy pa se skoot. In die foto langsaan word die kis van Antonio uit die voertuig gehaal deur (voor van links) Elaine Oersen en haar seun Raymar-lon. Agter staan Gavin Kiewitz, operasionele bestuurder van Anré Begrafnisdienste en Smittie Oerson, Antonio se pa. FOTO: ANNETTE THERON
Gemeenskap rou saam ANNETTE THERON
I
nwoners van Riviersonderend het Saterdag soos een man hul steun gewys aan die families van twee seuns wat ’n week tevore tragies verdrink het. Die gemeenskapsaal was stampvol en leerlinge en inwoners moes buite staan om na past. Ensel Miles van die Pinkster Protestante Kerk te luister. Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om saam te staan, nie net in dié tyd van droefheid nie, maar daagliks, en om uit te kyk vir mekaar. Inwoners is in rou gedompel ná die verdrinking van Kenan Pitcher (12) en Antonio Oerson (9) op Vrydag 12 Julie, toe hulle saam met twee maats in die Sonderendrivier op ’n vlot gespeel het. Antonio se pa, Smittie, en twee broers, Raymorlon (15) en Glenton (12), het Vrydagmiddag bekom-
merd begin raak toe hulle Antonio nêrens kon kry nie. Trevor Hermanus, die programbestuurder van die Community Safety Workers-program (CSW), sê hy is Vrydag omstreeks 20:30 deur die polisie in kennis gestel om te help soek na die kinders. “Ons het langs die rivier begin soek, agter die munisipale stortingsterrein, waar die kinders gewoonlik swem.” Een van die seuns wat saam met die slagoffers was, het Hermanus se vrou, Roeline, ’n gemeenskapsontwikkelaar by Badisa, in sy vertroue geneem en gewys waar die twee seuns geswem het. Hy het gesien hoe Kenan en Antonio hul hande in die lug gooi en skree vir hulp, maar hulle het onder die water verdwyn. Antonio het glo ingespring om Kenan, wat eerste ingespring het, te help. Die soektog was die Vrydagaand onsuksesvol en polisieduikers kon
weens die donkerte eers die volgende dag voortgaan. “Die liggaampies is Saterdag, so skuins voor 17:00, net voor die harde reën geval het, gevind. My vrou het saam met die ouers die lykies gaan uitken en help tans albei families met trauma-berading,” sê Hermanus. Volgens Hermanus gaan CSWwerkers voortaan oor naweke en vakansies die rivier patrolleer sodat geen minderjarige kinders sonder ouertoesig die rivier gebruik nie. Die seun wat die swemplek uitgewys het, het juis aanvanklik stilgebly omdat die seuns geweet het hulle swem sonder toestemming. Die polisie het die slagoffers se klere op die vlot gevind. Kenan en Antonio het in dieselfde straat in Oostergloed, slegs twee huise van mekaar, gebly. Saterdag was die atmosfeer in Lelieweg somber, met twee voertuie van begrafnisondernemers voor die
onderskeie huise geparkeer. Cathleen Kruger, Kenan se ma, moes deur haar man, Cyril, ondersteun word om staande te bly toe die klein kiste die huise in gedra is. Kenan se boetie, Cyril jr. (3), het tydens die roudiens in die Riviersonderend-gemeenskapsaal doodstil op sy pa se skoot gesit. Antonio se ma, Elaine, se skouers het geruk terwyl sy in ’n onderhoud vertel het dat hy lief was vir stoei en baie gelag het. “Dit was op 11 Junie Antonio se verjaardag.” Romeo Coert, ’n familievriend van albei gesinne, is dankbaar vir die hulp van inwoners om by te dra tot die begrafnis. “Die tragedie het ons almal laat regop sit en ons laat besin om te alle tye bewus te wees van jou kind se doen en late, of dit dag of nag is, ongeag die ouderdom. Mens moet altyd weet waar jou kind is.” Hy, asook die ouers, wil alle lede
van die gemeenskap bedank vir hulle ondersteuning. Jacob Kroukamp, voorsitter van Riviersonderend Primêr se beheerliggaam, sê die gemeenskap is diep geskok en geruk deur die dood van dié twee seuns. “Ons het nog nooit so ’n groot tragedie beleef nie en die opkoms by die begrafnis straal ’n geweldige sterk boodskap uit – ons moet die tendens begin aanneem ‘jou kind is my kind’.” Jerome Duminy, skoolhoof, sê albei seuns was rustige kinders wat alle reëls gehoorsaam het en volgens hul klasonderwysers altyd ’n plesier was. “Dit is jammer dat dit ons skool getref het en ons wil alle kinders waarsku om by veilige plekke te speel en uit die dorp te bly waar motors oor die N2 ry.” Ao. Koos Pieters het by navraag gesê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.