Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 4 • Tuesday 26 August 2014 | Tel. 028 214 1294
Hoërskool Overberg se o. 19A-rugbyspan het Saterdag tydens die interskole teen Hoërskool Hermanus met 16-12 gewen. Hier word die skoolhoof, Eddie Labuschagne, vasgehou deur spelers in die span.
FOTO: MANIE THERON
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Die sewende jaarlikse interskole tussen die Akkedissies van Laerskool de Villiers Graaff en die Gansies van Laerskool Gansbaai het Saterdag plaasgevind. Na baie reën die afgelope week was dit Saterdag ’n heerlike sonskyndag. Hier is die o. 11A-rugbyspan wat Gansbaai met 12-5 geklop het.
Dwelms by skole skaars ANNETTE THERON
Die onlangse inhegtenisneming van ’n leerder van Hoërskool Overberg vir die besit van dwelms, blyk nie op ’n groot dwelmprobleem in die area te dui nie. Volgens plaaslike skoolhoofde is dwelmverwante voorvalle skaars, en volgens ’n beampte van die onderwysdistrikskantoor is daar bestaande maatreëls om te voorkom dat die probleem uitbrei. ’n Leerder van Hoërskool Overberg is op Donderdag 7 Augustus in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, maar vrygelaat met ’n boete en waarskuwing. Volgens kapt. Gerrit Botes, woordvoerder van die Caledon-polisie, het die hoof ’n klopjag versoek, en is ’n halwe stop dagga in ’n leerder se koshuiskamer gevind nadat aanvanklik geen dwelms by die skool self gevind is nie.
Eddie Labuschagne, skoolhoof, sê die klopjag is versoek in belang van hul leerders, en dat dit onderhewig aan die SA Skolewet uitgevoer is. “In die hedendaagse lewe is daar soveel euwels. Ons kan nooit seker wees dat dit wat ons doen om ons en ons jeug te beskerm, voldoende is nie.” Muller Retief, hoof van Hoërskool Bredasdorp, sê geen dwelms is al by dié skool by ’n leerder gevind nie. “’n Paar leerders is al wel getoets vir die gebruik daarvan.” Ook die hoofde van Laerskool Overberg, Swartberg Primêr en Kingsway Christelike Skool in Grabouw sê hulle het nog nie probleme ondervind nie. “Ons kinders word baie beskermd grootgemaak weens die klein getalle in ons klaskamers,” sê Kobus van Vuuren van Kingsway. “Ons leer ons kinders God se waardes, maar kinders moet eendag in die samelewing kan keuses maak en benodig dus al die kennis van wat tans in die wêreld gebeur.” Van Vuuren sê hulle maak
daarom van enige geleentheid gebruik om leerders in te lig oor die gevare van die wêreld. Marius Koekemoer van Laerskool Overberg sê in sy 12 jaar by die skool was daar een ongewenste persoon op die skoolterrein. “Maar dit was sewe jaar gelede en die persoon was van Kaapstad. Ons het intussen die skool omhein en iemand sal oor die heining moet klim om by die leerders uit te kom. En gelukkig is ek in ’n laerskool, kleintjies kom vertel dadelik as iets leliks gebeur!” Chris Delport, hoof by Kosie de Wet Primêr in Villiersdorp, sê hulle het ’n probleem met leerders wat gom snuif. “Dit gebeur nie tans op die skoolgronde nie, maar dit is leerders vanaf gr. 2 tot gr. 7 wat dit glo doen in beboste areas of by maatjies se huis waar die ouers laat huis toe kom. “Ons het nie klinkklare bewyse nie, maar nadat ons die leerders ingeroep het wat gom snuif, het van hulle
erken hulle het al met dagga geëksperimenteer en kan dit maklik koop vir ’n R1 of R2 per stop. “Ons het ’n vermoede maar geen bewys van een of twee leerders wat tik gebruik.” Delport sê hulle werk nou saam met die Overberg-onderwysdistrik, Badisa en die polisie om dwelmmisbruik te stuit, en roep ook leerders wat dwelms gebruik het se ouers in. “Ons doen alles in ons vermoë om bewusmaking te skep. By ’n onlangse oueraand het ons die ouers vertel van die insidente en hulle was geskok. Met die gemeenskap en ouers en polisie se samewerking hoop ons om die euwel te stuit.” Al die skole het na verneem word voorkomingsmaatreëls, soos die behandeling van dwelm- en ander gevare in die leerplan, en praatjies deur die polisie. Skole het ook protokol wat gevolg moet word as ’n probleem opduik. Bertram Loriston , direkteur van
die Overberg-onderwysdistrik, sê hulle verskaf opleiding vir veiligheidsbeamptes by al hul skole, soos oor die gebruik van dwelmtoetse volgens WKOD-voorskrifte. In samewerking met die polisie en ander gemeenskapleiers vergader die amptenare ook met skoolbeheerliggame om strategieë en programme in spesifieke areas te ontwikkel. Loriston sê individuele leerder-ondersteuning word gebied om verslawing teen te werk. “Die Overberg-onderwysdistrik het ook voorkomende en ondersteunende programme in plek wat op versoek by skole aangebied word. Skole word ook ondersteun om hul gedragskodes toe te pas wanneer sulke insidente voorkom.” Kapt. Botes waarsku kinders om nie dwelms te gebruik nie. “As hulle gevang word, bou hulle ’n misdaadrekord op en dit kan niks goed vir hul loopbaanrekord inhou nie.” Hy sê ook ongure karakters naby skole moet dadelik aangemeld word.