Theewaterskloof gazette 27 aug 2013

Page 1

Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier

Year 3 • Tuesday 27 August 2013 | Tel. 028 214 1294

www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi

By die graf vol water staan van links Carmen September met Jaydene (baba), Andries en Henry Sateria en Angelique Tarentaal. ’n Ander graf is aan die familie toegeken en die begrafnis het volgens Henry heel goed afgeloop. FOTO: ANNETTETHERON

Graf propvol water ANNETTE THERON “Ons kan mos nie modder bo-op die graf gooi nie?” So het ’n bewoë Angelique Tarentaal Vrydag gesê terwyl sy langs die oop graf vol water van haar skoonma, Mina Sateria, gestaan het. “Dit maak my seer. Hoe kan ek my skoonma in ’n poel water begrawe?” Henry Sateria, Mina se seun, sê hulle het Uitkyk Diggers gebruik om die gat te grawe want hulle het nie geweet daar is ’n ander opsie beskikbaar nie. “Die vrou by die munisipaliteit het gesê hul delwer is stukkend en ons moet self die gat laat grawe.” Sateria (61) is ná ’n siekbed van twee maande oorlede en is Sondag om 10:00 in die Chavonnesweg-begraafplaas in Uitsig begrawe. Haar gesin was ontevrede oor die gat wat aan hulle toegeken is deur die Theewaterskloof-munisipaliteit wat as gevolg van die swaar reëns die afgelope tyd vol water was. Omdat die gat vol water was, het TWK ingestem om ’n ander gat in ’n droër gedeelte van die begraafplaas te grawe vir die gesin. Een grafgrawer op die toneel het gesê hy meen dis sigwater wat van Uitsig afloop terwyl nog ’n munisipale

werker dit toegeskryf het aan die versadigde watertafel en die propvol damme. Charles Hendricks, ’n inwoner van Caledon, het sy oom George Hendricks, wat op 5 Julie begrawe is, se graf besoek. “Dit lyk asof hy al twee jaar hier lê, want die graf het binne ’n kwessie van twee maande as gevolg van die water ingesak.” Gavin Kiewitz, operasionele bestuurder van Anré Begrafnisdienste wat die gesin se begrafnisreëlings hanteer het, sê die sigwater in dié begraafplaas is jare lank reeds ’n probleem. Grabouw se gemeenskap betaal R1 500 en dan grawe die munisipaliteit die gat vir die graf. Hy wonder waarom dieselfde nie in Caledon gedoen word nie. “Ons mense moet R560 betaal om ’n delwer te huur om die gat te grawe en ’n verdere R1 060 vir die koop van die gat.” Stiffie Cronjé, mediawoordvoerder van Theewaterskloof-munisipaliteit, sê hulle het pas ’n waarskuwing van die nasionale weerkantoor ontvang wat bevestig het dat die grond versadig is, dat die watertafels in verskeie gebiede baie hoog is, dat damme reeds oorvol is en dat verdere reën tot oorstromings kan lei. “Reën en erge wind word vir later dié week voorspel. Die gat van die graf wat uitgewys is, was wel vol

water – sigwater as gevolg van die hoë watertafel – en ons het ’n ander graf uitgewys vir die familie en op ons koste oopgemaak.” Wat die koste vir die grawe van die gat betref ,het Cronjé gesê daar is twee tariewe om gate uit te wys. “Die eerste tarief is net vir die uitwys van ’n gat en die persoon grawe self die gat. Dit is R1 060, insluitend BTW. Die tweede tarief is waar ons die gat uitwys en ook die gat grawe vir R1 562, BTW ingesluit.” Wanneer die huishouding egter ’n geregistreerde deernisgeval by die munisipaliteit is en oor geen begrafnisdekking beskik nie, kan hulle aansoek doen vir 50% afslag op die gat. “Dieselfde geld vir pensioenarisse met ’n inkomste minder as twee keer die staatspensioen.” Cronjé sê hul slootgrawer was onklaar en dus het hulle mense aanbeveel om van ’n ander verskaffer gebruik te maak. “Albei opsies is wel gegee. Ons beskik net oor een slootgrawer vir Caledon en kan ons nie help indien dit stukkend is nie. Met die gat wat ons aan die familie beskikbaar gestel het, moes ons iemand op die jaartender huur om die gat te grawe wat ekstra kostes vir TWK ingehou het. Ten spyte daarvan het ons nog steeds die familie gehelp.”

Hier kan duidelik vanuit die lug gesien word hoe ruig die gebied in Tesselaarsdal is. Hierdie foto is verlede Maandag omstreeks 12:30 geneem. FOTO: TJOMMIE ROUX

Lugvleuel help misdadigers soek ANNETTE THERON Op Sondag 18 Augustus is ’n huisbraak- en diefstalsaak by die Caledonpolisie aangemeld waarin ’n aantal vuurwapens gesteel is. Kapt. Tjommie Roux van die Caledon-polisie sê die voorval het op De Meulplaas in die Tesselaarsdal-omgewing plaasgevind. “Daar is ’n aantal vuurwapens gesteel en ná verdere ondersoek is daar twee verdagtes se name genoem, waarna ’n soektog op Maandag 19 Augustus begin is na die twee verdagtes.” Die speurders en sigbare polisiëringslede het begin soek na die verdagtes waar hulle laas gesien is in ’n beboste gebied bo Tesselaarsdal. Die honde-eenheid, spoorsnyers en lugvleu-

el van die Suid-Afrikaanse polisie is ook ingeroep om met die soektog te help. Ná ’n soektog van vier ure, is een verdagte in hegtenis geneem. Nog ’n verdagte word steeds gesoek. Die lugvleuel is ingeroep weens die bergagtige en beboste omgewing. “’n Soektog uit die lug is baie meer doeltreffend,” verduidelik kapt. Roux, “omdat dit moeilik is om verdagtes te voet tussen die beboste en bergagtige gebied te soek.” Die vuurwapens is egter nog nie opgespoor nie. Enige iemand met inligting kan kapt. Helgaard Blom by 028 214 3916 bel. Lede van die Tesselaarsdalgemeenskap het die polisie bedank vir hul professionele optrede tydens die soektog.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.