Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 3 • Tuesday 28 May 2013 | Tel. 028 214 1294
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Meester braaiers van die toekoms Britney van Riet (voor) van Laerskool Overberg en Olivia Lewies (tweede van voor) van Swartberg Primêr het deelgeneem aan die Junior Braai Master-kampioenskap wat Sondag deel gevorm het van Pick n Pay se familie-pretdag. Die wenner van die kompetisie was Nicholas van Rensburg en sy ma, Tossie, albei van Caledon. Sien nog familiedag-foto’s, en nuus van die nuwe Victoria Mall, op bladsy 9 en 11. FOTO: ANNETTE THERON
Finale aftel vir Mall begin . . . ANNETTE THERON Daar is groot opgewondenheid in Caledon oor die Victoria Mall wat oormôre (Donderdag 30 Mei) amptelik open. Daar is altesaam 21 huurders in die sentrum en inwoners gaan by verskeie nasionale kettingwinkels vir die eerste keer kan koop sonder om na ’n ander dorp te reis, afgesien van bestaande en nuwe plaaslike besighede wat daar sal sake doen. Raadsheer Chris Punt, uitvoerende burgemeester van die TWK-munisipaliteit, sê dit is deel van “wonderlike ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede” die afgelope jaar in Caledon. “Ek verwys veral na die vestiging van Foschini se produksieaanleg, die teer van die Hemel-enAarde-pad, die windplaas en andere. Boonop is landbou, as gevolg van puik oesjare, kerngesond.”
Hy meen ’n mens kan aflei dat meer geld as ooit in Caledon en omgewing in omloop is. “My wens is dat die geld plaaslik spandeer word. Voorheen het mense onvoldoende fasiliteite aangevoer vir die feit dat hulle elders koop. Met die nuwe Victoria Mall is die tekort bygelê en is daar genoegsame besighede, van ’n diverse aard, om in plaaslike behoeftes te voorsien. “Ek wil u aanmoedig om plaaslik te koop om sodoende geleenthede vir verdere ontwikkeling en welvaart uit te bou. Ek wens ons sakesektor en spesifiek die Victoria Mall alles van die beste toe.” Gert Koegelenberg, voorsitter van Caledon Sakekamer, wens almal betrokke by die vestiging van die sentrum geluk en bedank Harry Viljoen vir sy voortgesette ondersteuning van plaaslike besighede en kontrakteurs. “Die Caledon Sakekamer is verheug oor al die nuwe besighede wat vertroue het om in Caledon te be-
lê. Ons wens hulle alle sukses toe.” Adriaan Hanekom, voorsitter van die Veldblommegenootskap, sê die genootskap is verheug oor die sentrum. “Ek was ’n paar maande gelede ontsteld omdat daar aangevoer is dat die Veldblommegenootskap teen die ontwikkeling gekant is. Ek was absoluut geskok gewees – hoe kan enigiemand so onder die invloed van dwarstrekkers wees om sulke aantygings te maak? Ons het by meer as een geleentheid dit duidelik in die pers gestel waar ons ondersteuning lê, en dit is meer as wat sekere andere jeens ons kan sê. Ons het nog altyd en sal in die toekoms sinvolle ontwikkeling in hierdie dorp ondersteun; ons het dit immers nodig, anders gaan ons dorp aan die spreekwoordelike agterspeen suig, iets wat tog te maklik gebeur.” Hanekom sê hulle gun elke Caledonner die reg om ’n “oor die berg”-ervaring plaaslik te onder-
vind, veral mense wat nooit die voorreg gehad het nie. “Ons glo en vertrou dat hulle nie teleurgestel sal wees nie, want daar gaan so baie wees om van te kus en te keur.” Hy glo huidige besighede moenie moed verloor nie. “Hierdie nuweling gaan ’n impak op ons hê, maar hopelik sal hy binne ’n paar maande uitgesorteer wees en sal daar hopelik ’n gesonde balans gehandhaaf kan word. Kom, laat ons hierdie nuwe ervaring geniet, maar laat ons onthou wie ons in die afgelope jare tot diens was.” Martie Koegelenberg, raadslid van Caledon, sê die dorp begin weer ontwaak. “Dis asof die riviere begin afkom en ons wêreld lewe kry. Ek weet van mense wat ’n punt daarvan maak om elke dag by die nuwe sentrum verby te ry. Dalk is dit om ’n ogie te hou dat alles volgens plan loop, dalk is dit soos ’n nuwe verjaardagpresent wat net gekyk moet word of dalk is dit net
om hulleself te oortuig dat dit toe nie te goed was om waar te wees nie.” Sy meen net die beleggingsvertroue wat geskep is, is reeds van onskatbare waarde en presies wat die dorp nodig het. “Die Skone Slaapster is voorwaar besig om wakker te word, en almal gaan daar wees om haar welkom te heet. Caledon was en sal altyd die hoofdorp van die Overberg bly en ek is verskriklik trots om deel te wees van hierdie stukkie geskiedenis.” Danie Viljoen, besturende direkteur van Harry Viljoen Eiendomme, die ontwikkelaar, het bevestig dat 90% van die sentrum uitverhuur is. Afgesien van nuwe kettingwinkels, sal vyf bestaande winkels uit die middedorp daarheen verskuif, en enkele kleiner eetplekke of koffiewinkels hul deure open. Verskeie aktiwiteite en gelukstrekkings word Donderdag van 08:30 af vir kopers beplan.