Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 3 • Tuesday 30 July 2013 | Tel. 028 214 1294
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Botrivier plaasmark skop dawerend af
Die Trollop-gesin het Saterdag al die pad van Riviersonderend by die heel eerste Botrivier Plaasmark kom inloer. Voor is klein Maya (2) op mamma Marie-Louise se skoot. Pa Ivor, het gesê hy het veral die bier en agtergrondmusiek geniet. Albei was baie beïndruk met die goeie produkte en Marie-Louise sê die kinderskoentjies wat sy vir klein Maya gekoop het is pragtig.
Arniston kry perlemoenplaas ANNETTE THERON EN JANINE VAN DER RIET ’n Perlemoenbroeifasiliteitsprojek van R31 miljoen wat vir die Overstrand beplan was, is nou aan die Kaap Agulhas-munisipaliteit (KAM) toegeken. Dit volg ná die minister van landbou, bosbou en visserye, Tina Joemat-Pettersson, net voor die munisipale verkiesing in 2011 aan ’n juigende skare op Gansbaai verkondig het dat sy van hulle “perlemoenboere” gaan maak. Inwoners het destyds elk ’n ete en ’n boompie ná die vergadering ontvang. Omega Bezuidenhout, media-
woordvoerder van KAM, sê die perlemoenbroeifasiliteitsprojek by Arniston is ’n groot opgewondenheid en mense glo dit sal baie geleenthede vir veral die vissersgemeenskap van Kassiesbaai bied. “Die totale omvang van die projek is nog nie bekend nie, maar die eerste deel van die geld wat daarvoor bewillig is, is reeds ontvang.” Bezuidenhout sê voorts alle relevante navorsingswerk sal in die volgende drie maande onderneem word om die uiteindelike uitwerking van die projek te bepaal. Na afloop daarvan sal bepaal word of daar met die projek van R31 miljoen voortgegaan sal word. “Tegniese kundiges in dié veld sal
uit die aard van die saak gekontrakteer moet word, maar die werk self sal deur die plaaslike inwoners van Kassiesbaai verrig word.” Terwyl die KAM verheug is en die projek beskou as ’n welkome ekonomiese belegging vir Kaap Agulhas en sy mense, het die Gansbaai Sakekamer met groot ontsteltenis kennis geneem daarvan dat die perlemoenplaas nie langer vir die Overstrand bestem is nie. Fanie Bothma, voorsitter van die sakekamer, sê met die aankondiging in Mei 2011 is daar groot verwagtinge by die gemeenskap geskep. “Op ’n agterbakse wyse is ons plaaslike strukture geïgnoreer en ANC-gesienes is op Gansbaai betrek by die aankondi-
ging deur Joemat-Pettersson. Noudat hierdie aksie nie die gewenste politieke oogmerke bereik het nie, word die besluit omgekeer om ’n bestaande ANC-gebied te bevoordeel.” Bothma sê verder dis ironies dat die nuwe beoogde gebied op Arniston nie geskik is vir die kweek van perlemoen nie. “Gansbaai het hom reeds bewys as die ideale plek daarvoor.” By navraag oor hoe die KAM voel oor beweringe dat die Overberg weens politieke agendas gekies is, en dat die projek nie lewensvatbaar op Arniston sal wees nie, het die KAM gesê deel van die projek is ’n lewensvatbaarheidstudie wat onderneem sal word. “Voorlopige aanduidings is dat dit
wel lewensvatbaar is. Kaap Agulhasmunisipaliteit gaan nie kommentaar lewer op politieke bespiegeling nie.” Carol Moses, mediawoordvoerder van die departement landbou, bosbou en visserye, het by navraag gesê die departement moes geskikte grond vind om die projek in werking te stel. “Openbare grond is op Arniston geïdentifiseer en goedkeuring vir die gebruik van hierdie grond is van KAM verkry.” Moses sê dis wesenlik ’n Overbergprojek en moenie beskou word as ’n geval van Arniston wat bo Gansbaai verkies is nie. Die projek sal voortgaan om die hele gemeenskap in die Overberg-streek te bevoordeel.