Theewaterskloof Gazette 4 Dec 2012

Page 1

Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier

Year 2 • Tuesday 4 December 2012 | Tel. 028 214 1294

Stap teen geweld As deel van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vrouens en kinders het die Caledon ACVV in samewerking met BADISA, die Caledon-polisie, Tafelronde ACVV, Uitsig-creche en Sonskynkleuterskool, op Donderdag 29 November die strate van Caledon ingevaar onder leiding van die VG Kerk se basuinkoor. Jennilee Henn, gemeenskapsontwikkelingsbeampte van die ACVV, sê hulle het die gemeenskap van Caledon bewus gemaak van die geweld en misdaad teen vrouens en kinders deur pamflette uit te deel. “Ons sal wil sien dat vrouens nie enige vorm van mishandeling duld nie en dat kinders ook beskerm word.” FOTO: ANNETTE THERON

Protesaksie rus op mespunt

CHARLOTTE LESCH EN ANNETTE THERON

“Môre gaan alle hel losbars.” Dít was Samuel de Koker, visepresident van die Black Association for the Wine and Spirits Industry (Bawsi), se opsomming van die beplande staking en protesoptrede wat vir vandag (4 Desember) deur plaaswerkers beplan word. Hy het gister vanuit De Doorns gesê 80% van die Wes-Kaap sal vandag gebuk gaan onder protes. Villiersdorp en Grabouw sal na verwagting definitief geraak word. ’n Persverklaring is ook van Mario Wanza, woordvoerder van die Koalisie vir Plaaswerkers, ontvang waarin hy sê plaaswerkers in verskeie gemeenskappe sal plaaseienaars sover probeer kry om ’n ultimatum te aanvaar om hul werkers R150 per dag te betaal. Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, het op sy beurt gesê die aksie gaan moontlik net vir een dag duur, mits ’n vergelyk tussen werkers en werkgewers getref kan word. Volgens De Koker, Wanza en Ehrenreich

het hoëvlaksamesprekings tot dusver nie tot ’n oplossing gelei nie. Luidens ’n verklaring deur Cosatu het hy en die Koalisie vir Plaaswerkers, Agri SA tot Saterdag om 18:00 kans gegee om met ’n oplossing vir die arbeidsgeskil vorendag te kom en word daar tans steeds met boere in sekere gebiede onderhandel. Ehrenreich meen egter Agri SA is gekant teen hierdie onderhandelings en kruip agter die minister van arbeid, Mildred Oliphant, se sektorale vasstelling weg. Agri SA was nie teen druktyd beskikbaar vir kommentaar hierop nie. Ook volgens De Koker was daar glo landbouverteenwoordigers wat by Saterdag se vergadering tussen ministers, vakbonde en nie-regeringsorganisasies uitgeloop het omdat sekere boere bereid is om R150 te betaal. De Koker sê landbou gaan nooit weer dieselfde wees nie en meen die dae is verby dat boere oor plaaswerkers se regte loop. Ehrenreich wou hom nie uitlaat oor of die stakings polities van aard is nie, maar sê wel dit sal landwyd wees, “omdat die kwessies onder plaaswerkers in die landbousektor landwyd aangespreek moet word”. Hy het dit duidelik gestel dit is die plaas-

werkers is wat vandag se staking roep en nie Cosatu nie. Ehrenreich doen egter ’n beroep op werkers om dissipline te handhaaf en om protesaksies vreedsaam te laat verloop. Die Wes-Kaapse departement van rampbestuur sê hulle is tog op ’n gereedheidsgrondslag en monitor voortdurend die situasie. “Ons het 22 vliegtuie en vier helikopters wat gereed is om bystand te lewer en brande te blus,” het Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, gesê. Die departement resorteer onder sy portefeulje. Volgens die departement word veral De Doorns, Ashton, Montagu, Wolseley, Ceres, Riebeek-Kasteel, Grabouw en Villiersdorp fyn dopgehou. Deurlopende koördinering vind ook met plaaslike owerhede plaas. ’n Nodale punt is ook by Tygerberg-hospitaal opgestel waar akkurate inligting deurgegee kan word sodat dit ter voorbereiding aan belanghebbendes versprei kan word. ’n Tolvrynommer, 086 014 2142, is vir dié doel beskikbaar gestel. Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, het verlede week ’n beroep op die nasionale minister van verdediging, Nosiviwe Noluthando Mapisa-Nqakula, gedoen om die weer-

mag te ontplooi. Volgens die departementele woordvoerder, lt. Romeo Mabote, sal die weermag net ontplooi word indien die SAPD hul ondersteuning benodig. Intussen blyk dit dat nie alle verteenwoordigers van plaaswerker-organisasies om dieselfde vuur sit nie. Bawsi se De Koker het Wanza byvoorbeeld as ’n “kontroversiële” man afgemaak wat nié die plaaswerkers se stem verteenwoordig nie. Wanza, voorheen hoof van Proudly Manenberg, sê hy is as woordvoerder vir die Koalisie vir Plaaswerkers aangestel. Hy was voorheen hoof van die ANC-tak in Wynberg en was ’n onafhanklike kandidaat vir die Manenberg-area in die mees onlangse plaaslike verkiesings. Wanza was ook betrokke by diensleweringsbetogings in Grabouw in Maart vanjaar deur sy organisasie Communities for Change. Wanza sê hy is tans betrokke deur die herstigte United Democratic Front, wat ’n aktiewe tak in Villiersdorp het en nou met plaaswerkers in hul stryd saamwerk en dat dit nie net tot een area beperk is nie. “Ons (die UDF) sal bystaan waar ons kan.”


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.