Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 3 • Tuesday 13 August 2013 | Tel. 028 214 1294
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Boere ly reënskade JAN GREYLING EN ORA LAUBSCHER
Die Karsrivier langs die Stormsrivierpad tussen Bredasdorp en die Protem-silo het sy walle sonder belemmering oorstroom ná verlede Woensdag se reusereënneerslae. FOTO: JAN GREYLING
Groot graanverliese en die verlies van tientalle lammers is die nalatenskap van verlede week se reënvloed en snerpende koue in die Overberg. Groot hoeveelhede wintergraan staan in diep water en brûe het oorspoel. Verskeie paaie is enkele dae lank vir verkeer gesluit en voertuie het in vloedwater onklaar geraak. Die volgende neerslae is volgens Johan Lusse, hoofbestuurder: graandienste by Overberg Agri, van Dinsdagnag af tot Donderdagoggend gemeet: Bredasdorp 102 mm, Klipdale 90 mm, Napier 89 mm, by die Protemsilo 91 mm, Vergenoeg 119 mm, Rietpoel 59 mm, Caledon 65 mm en Krige 72 mm. Om 06:30 Donderdagoggend is SMS-boodskappe deur Kaap Agulhas-munisipaliteit (KAM) uitgestuur wat bevestig het dat die toegangsroetes van Bredasdorp na Arniston, Struisbaai en Swellendam steeds gesluit is. Die Karsrivier wat oor die werf van die historiese plaas Nachtwacht vloei, het weer eens sy walle oorstroom weens die swaar reën wat sedert Woensdagoggend oor die gebied uitgesak het. Die Kaap Agulhas Sakekamer se bestuurder, Johannes de Villiers, sê KAM berig dat die informele nedersettings swaar getref is – veral Pollapark in Bredasdorp. Inwoners is terug na hul huise, maar die huise is nat. Daar is hulp versoek vir klere, komberse en sop om uit te deel in dié gebiede. In Napier se informele nedersetting was skade minimaal, met die meeste skade agter Jubileum- en Wesselsstraat. Sover vasgestel kon word, is die skade veroorsaak deur reënneerslae van 50 mm en meer binne ietwat meer as 24 uur sedert verlede Dinsdagnag tot Donderdagoggend toe. Sedert die eerste reën neergesif en dit by tye daarna herhaaldelik gestort-
reën het, is dele van die Overberg behoorlik deurweek. Stiffie Cronjé, mediawoordvoerder van Theewaterskloof-munisipaliteit, het by navraag gesê geen skade is in die Theewaterskloof-gebied aangemeld nie. Uit boeregeledere was daar meesal net breë glimlagte in die Overberg en omliggende gebiede te sien ná die nasionale weervoorspellingsdiens hierdie keer die kol behoorlik getref het. Tog sê Hanrie Human van Varslug by Riviersonderend dat hulle 22 merinolammers, wat sowat ’n week vantevore geskeer is, verloor het. Altesaam elf van die slagoffers was in een kamp op die plaas en elf in ’n ander. Die Sonderendberge was Donderdag onder ’n wit sneeujas bedek en daar
het moontlik meer lammers in die omliggende gebied weens die koue gevrek. Nadat Radio Overberg Donderdagoggend uitgesaai het dat Orton King van die Agri Mega Groep na die reënvalsyfers vra, het Pierre du Plessis van Napier-omgewing berig dat hy 115 mm gemeet het. “Die strome loop sterk, maar geen noemenswaardige struktuurskade is onmiddellik sigbaar nie. Ek het wel ’n beduidende hoeveelheid twee, drie dae oue lammers verloor. Ek wil tog glo dat die goeie reën op die ou end meer goed as kwaad gedoen het. Ons is baie dankbaar daaroor,” het Pierre gesê. “Hoewel die graan al ver ontwikkel het, sal dié reën ’n beduidende bydrae lewer tot ’n beter oes as wat ’n week vantevore die geval was – ook
in die oostelike dele wat droër was en die potensiaal nie baie goed is nie.” Graan in die laerliggende grond na Struisbaai en De Mond se kant toe, op plase van onder andere die Albertyns, Johannes Uys en Henk Aggenbach, staan onder water. Volgens Henk volg dit op ’n wolkbreuk in April vanjaar wat ook die vleilande vol water gemaak het. “Hier gaan talle hektare graan versuip. Dit lyk of die wortels nie gou genoeg sal kan afdroog vir herstel nie. Hoewel ons nie nou kan sien wat die skade is met graan wat reeds in die aar is nie, weet ons dat groot verliese te wagte kan wees.” “Die groter prentjie behels egter dat die oes gered is. ’n Bogemiddelde oes is beslis nou op die lande. Die re-
ën bring ook ander opsies vir boere, terwyl daar tydens droogte geen ander uitkomste is nie. Dit is deel van die pakket.” Boere van Bredasdorp af die binneland in blyk nou in ’n optimale oessituasie te wees, meen hy. Dit wil voorkom asof daar buiten ’n paar heinings en pale nie eintlik infrastruktuurskade in die omgewing van Struisbaai, De Mond en Waenhuiskrans gely is nie. By ’n Boeredag van Suid-Afrika se Voermol-skaapboer van die Jaar (Jan-Paul Kempen van Amerikalandgoed) Donderdag op Kleinplasie op die Stormsrivierpad was sowat 200 boere almal baie dankbaar oor die genadewater. Die Karsrivierbrug, van Swellendam na Bredasdorp, is deur ’n massa water oorstroom. Toegang per teerpad van daar af tot Bredasdorp is sedert Donderdagoggend afgesny. Die alternatiewe roete deur Malgas en van De Hoop af is ook weens die oorspoeling van die brug afgesny van die Bredasdorp-kant van die brug. Die pad is Vrydag oopgemaak en is weer bruikbaar. By Barry Pratt op Elandsvlei, naby De Hoop, blyk die potensiële graanverliese verreweg die grootste in die omgewing te wees. Hier is die hoop op tydige afdroog en herstel van graanaanplantings gering. Die verspoelings het vir die tydperk van die vloed oor die pad die normale toegang tussen Kosie en Boeta Wessels se plase weerskante van die pad afgesny. Met die rivier in volle vloed en hope afgespoelde riete en takke het dit gelyk asof ’n deel van die brug deels meegegee het. Die Karsrivier se vloei onder die Stormsrivierpad is nie belemmer nie. Die rivier het gemaklik oor sy oewers uitgesit en net hier en daar klein boompies in die loop van die rivier meegesleur. Anneleen Vorster, mediawoordvoerder van KAM, sê hulle verwelkom skenkings van seile, klere en komberse. Dit kan by die munisipale kantore afgelewer word. Bel Vorster by 028 425 5500 vir navrae.