Theewaterskloof |Bredasdorp | Napier
Year 3 • Tuesday 17 December 2013 | Tel. 028 214 1294
www.bolandgazette.co.za bolandgazette.mobi
Krismis kersies
GESEËNDE KERSFEES: Die kinders en ouers van die Fair Start Opvoedkundige sentrum in Greyton het op Donderdag 5 Desember hul jaarlikse Kerspartytjie gevier by die Sunningdale-gastehuis. Die doel van Fair Start is om ouers aan te moedig om meer betrokke te raak by die opvoedkundige program wat fokus op die verstandelike sowel as fisiese ontwikkeling van kinders tussen die ouderdomme van twee en vyf. Van links is Lyle Fielies, Tatum Volschenk, Will Maasdorp, Romano Lewis en Ashlyn Joemat. FOTO: JUDITH BALIE
TWK smaak soet en suur in 2013 ANNETTE THERON ’n Jaar van hoogte- en laagtepunte is hoe 2013 in Theewaterskloof beskryf kan word. Die jaar het op ’n kommerwekkende noot begin met die voortdurende plaaswerkerstakings en die nag van groot skade vir Botrivier toe ’n groep oproeriges die OK Minimark en drankwinkel probeer afbrand het. Dit was ook ’n jaar van uiterstes met die moord en verkragting van Anene Booysen in Bredasdorp, wat wêreldwyd opslae gemaak het. Hier is ’n terugblik op van die gebeure wat lank onthou sal word. Die wrede aanval op een van Bredasdorp se tienermeisies het die dorp en wêreld geruk. Sowat 1 000 roubeklaers en mense wat hul misnoeë oor seksuele misdrywe te kenne wou gee, het op 9 Februarie Anene Booysen se begrafnis in Bredasdorp bygewoon. In Mei vanjaar het konstruksie by die heel eerste windplaas in die Overberg begin. Nege turbines by Dassiesklip is opgerig en sal na verwagting in Februarie aanstaande jaar
kommersieel begin krag opwek. Die Victoria-inkopiesentrum in Caledon is 30 Mei amptelik geopen en huisves altesaam 24 huurders. Inwoners kan nou by verskeie nasionale kettingwinkels koop sonder om na ’n ander dorp te reis. Afgesien van nuwe kettingwinkels het vyf bestaande winkels uit die middedorp geskuif. Theewaterskloof-munisipaliteit is deur die graderingsagentskap Ratings Africa as die finansieel mees onstabiele munisipaliteit in die provinsie aangewys. TWK se punt was 20 uit 100, vergeleke met die gemiddelde van 45 wat die 226 munisipaliteite landwyd gekry het, en die 32 punte wat TWK in 2012 ontvang het. Inwoners en werknemers wat daagliks van die R320 gebruik maak, was almal verlig toe Shaw’s Pas tussen Caledon en Hermanus aan die einde van Mei heropen het. Dié opgradering vorm deel van die teer van die Hemel-en-Aarde pad. Die pas was vir meer as ’n jaar gesluit en padgebruikers moes ’n 40 km-ompad ry. Klein Ovies vertrek op ’n musiektoer na Singapoer om aan ’n musiek-
blyspel deel te neem en Suid-Afrika te verteenwoordig. ’n Perlemoenbroeiplaas van R31 m wat vir die Overstrand beplan was, word in Julie aan die Kaap Agulhasmunisipaliteit (KAM) toegeken. KAM is verheug en sien die projek as ’n welkome ekonomiese hupstoot vir Kaap Agulhas en sy mense. Op die landboufront was boere in Junie verheug oor die toetrede van Ladismith Kaas tot die melkmark, omdat boere in die omgewing reeds jare lank nie markgerigte melkpryse ontvang nie. Die nasionale staking van petroljoggies in September het sekere besighede in Theewaterskloof geraak. Die nasionale misdaadstatistiek word in September bekend gemaak en dui aan dat huisbraak toegeneem het in Theewaterskloof en Bredasdorp. Op 1 November word Johannes Kana twee lewenslange vonnisse opgelê in die Swellendam-hof vir die moord en verkragting van Anene Booysen. Dan was daar die verliese: In Januarie het die voortgesette plaaswerkerstakings in Villiersdorp
duisende rande se skade veroorsaak. Sake-eienaars het hul deure gesluit gehou ná gerugte die ronde gedoen het dat betogers groot besighede wil teiken. Dele van twee winkels en ’n park op Botrivier is aan die begin van Februarie aan die brand gesteek. Die dorp se kragtoevoer is onderbreek en talle huiswinkels is geplunder in ’n voorval waarvoor niemand werklik enige verduideliking kon bied nie. Groot graanverliese en die verlies van tientalle lammers was die nalatenskap van die groot reënvloed en snerpende koue in Augustus. Stormsterkwinde en hewige reënbuie eis die lewe van een man en talle mense word afgesny van die buitewêreld en die boere se oes word in die weegskaal geplaas in November. Nelson Mandela se dood op Donderdag 5 Desember dompel ’n nasie in rou en TWK huldig Madiba se nalatenskap met verskeie aksies. Die jaar het ook sy kwota misdaad en tragiese lewensverlies opgelewer: Manie Damon se dood op Sondag 9 Junie aan hartversaking dompel die inwoners van Grabouw in rou.
Damon het diep spore in die plaaslike politiek getrap en was streeksverteenwoordiger van die ANC in die Wes-Kaap en lid van die Wes-Kaapse uitvoerende komitee. Inwoners van Riviersonderend het in Julie soos een man die families bygestaan van twee seuns wat tragies verdrink het. Kenan Pitcher (12) en Antonio Oerson (9) het Vrydag 12 Julie in die Sonderendrivier op ’n vlot gespeel. Hulle het nie huis toe gekom nie en ná ’n lang soektog is hul liggame Saterdag 13 Julie gevind. Twee maatjies Shaney May (8) en Delmaine Arries (5) verdrink in ’n plaasdam in Tesselaarsdal. Die twee seuntjies se klere word netjies opgevou op die rand van die dam gevind. Daar word vermoed hulle wou afkoel omdat dit so ’n warm dag was. Die dam se wal loop skuins en hulle het vermoedelik gegly. Inwoners van die groter Kaap Agulhas-streek word in September gemaan om veiligheidsmaatreëls te verskerp. Dit volg ná gevalle van roof en diefstal asook huisbrake in Bredasdorp, Napier sowel as Arniston drasties toegeneem het.