5 minute read
Sensitief teenoor virusse
Met die huidige globale fokus op die Covid-19-pandemie, virusse, strategieë en beperkings wat ingestel word, kan voedselprodusente inderdaad ook hieruit iets leer en dit selfs op die plaas toepas. Oor die algemeen is opgemerk dat sekere gebiede meer deur die pandemie geraak is as ander. Mense verskil ook ten opsigte van hulle blootstelling en sensitiwiteit teenoor virusse.
Hierdie toestande is nie ‘n nuwe begrip vir die tamatie- of groenteboer nie, want virusse word reeds baie jare op die plase bestuur. Die uitdaging vir die tamatieboer is egter dat daar nie slegs een virus is om te bekamp nie en dat die verskillende maniere waarop die virusse oorgedra kan word ook die verspreiding van die virusse kan bepaal. Soos eerstehands met die huidige pandemie waargeneem is, kan inperkings en sanitasie die virus tot ‘n mate beperk – dieselfde is ook waar vir die tamatieprodusent. Deur sanitasieprotokol toe te pas kan die tamatie-oes doeltreffend beskerm word.
In die verlede het produsente hoofsaaklik die virusse wat op tamaties voorkom bestuur deur op die tamatietelers staat te maak om variëteite met weerstand te teel. Dit raak egter nou belangriker om kennis op te doen en maatreëls in te stel om die verspreiding van virusse te bestuur en te beperk. Dit kan gedoen word deur strategieë ‘n spesifieke gebied in te stel binne of op die plaas as ‘n geheel tussen lande en aanplantings. Die beste strategie om virusse te beheer bly steeds om te verhoed dat ‘n virus vir die eerste keer in ‘n gebied inkom.
Virusse se verspreiding verskil, omdat sekere virusse slegs deur insekte wat op die plante voed oorgedra kan word, terwyl ander deur meganiese aanraking of met saad versprei kan word. Strategieë is veral belangrik waar daar nie weerstand bestaan vir ‘n spesifieke virus in die gewas nie – komkommermosaïekvirus in tamaties is een só ‘n voorbeeld.
Wêreldwyd is daar nog verskeie “nuwe” virusse wat nie in Suid-Afrika voorkom nie en vir baie daarvan bestaan daar nie weerstandsbronne nie. Hierdie situasie kan baie groot ekonomiese verliese vir produsente meebring, omdat gewasse se opbrengspotensiaal en kwaliteit verlaag kan word. In die meeste gevalle word die situasie nog verder bemoeilik omdat ontledings in ‘n laboratorium gedoen moet word om die korrekte virus te identifiseer.
Virusinfeksies in tamaties kan ‘n groot invloed hê op die groei en verkleuring van die plante met ‘n vergeling of mosaïekpatroon wat in die meeste gevalle sigbaar is en selfs nekrotiese dele wat kan voorkom. Ander simptome verwys na ‘n verdwerging of vervorming van die blare en stamme – dit kan egter verwar word met die toediening van sekere onkruiddoders, selfs wanneer die toediening indirek in ‘n area was. Identifikasie van virussimptome kan verder verwar word met tekorte van voedingselemente, aangesien die simptome baie kan ooreenstem.
“Tomato curly stunt”-virus op ‘n tamatieplant. Dit is die ras van “Tomato yellow leaf curl” virus wat in Suid-Afrika geïdentifiseer is.
Die produsent kan in ‘n situasie beland waar verskillende virusse een plant kan infekteer sodat die simptome nie tipies vertoon vir ‘n identifikasie nie. Deeglike diagnostiese ontledings is dus van kardinale belang om virusse te identifiseer.
Komkommer-mosaïekvirus
Hierdie virus word gewoonlik waargeneem in meer gematigde klimaatstreke, maar kom wêreldwyd voor. Dit kom tans meer op
NA BLADSY 18
Sensitief teenoor virusse
VANAF BLADSY 17
rissies voor maar kan ook tamaties infekteer. Die virus veroorsaak ‘n tipiese vervorming van die blare (wat bekend staan as die “shoe string” effek) sodat die blare nie ontvou nie en dun bly. Oor die algemeen word chlorotiese vergeling waargeneem en die plante is verdwerg. Geïnfekteerde plante se vrugte is kleiner en kan mosaïekpatrone met bruin kolle vertoon. Komkommer-mosaïekvirus het ‘n baie wye gasheerreeks, wat verskeie onkruide insluit. Dit word deur verskeie plantluisspesies oorgedra wat op geïnfekteerde plante voed en die virus na gesonde plante versprei. Die plantluise kan binne ‘n paar minute die virus inkry en verspei.
Hierdie virus word nie deur saad oorgedra nie en dit is ook moeilik om dit deur werkers in die lande oor te dra. Daar is tans geen kommersiële variëteite wat weerstand bied teen die virus nie, gevolglik is die beste strategie om te verhoed dat geïnfekteerde plantluise na ander lande versprei. Die waarneming van insekgetalle is dus baie belangrik en dit kan ook raadsaam wees om soveel onkruid as moontlik in die nabye omgewing te verwyder.
Aartappelvirus Y (PVY)
Hierdie virus kom wêreldwyd voor, maar anders as komkommer-mosaïekvirus het dit ‘n meer beperkte gasheerreeks, veral in die solanacea-familie. Daar is verskeie rasse van PVY en die simptome is verskillend. Die virusse word meer gereeld in rissies waargeneem as in tamaties. Die simptome kan verskil op grond van wanneer die plant geïnfekteer is en omgewingsfaktore speel ‘n rol.
Plantluise dra hierdie virus oor deur van die plantsap tydens voeding in te neem en dit na gesonde plante oor te dra. Die PVY-virus kan egter deur werkers van plant na plant oorgedra word. Weerstandsgene teen PVY is al geïdentifiseer, maar geen kommersiële variëteite is in die mark vrygestel nie omdat verskillende rasse teenwoordig is.
Die algemene simptome is mosaïekpatrone op die blare en donker, nekrotiese dele kan op die blare voorkom. Die blaarpunte kan terugsterf en die vrugte vertoon mosaïekpatrone, oneweredige rypwording en algemene vermindering in grootte.
Sommige van die ander virusse wat algemeen in Suid-Afrika voorkom is tabak-mosaïekvirus, tamatie-mosaïekvirus, tamatiekromnekvirus en “Tomato yellow leaf curl”-virus. Hierdie virusse word oorgedra deur meganiese aanraking, insekte soos blaaspootjies in die geval van tamatie-kromnekvirus en witvlieë, meer spesifiek Bermicia tabaci in die geval van “Tomato yellow leaf curl”-virus.
Vir al hierdie virusse is daar weerstandbiedende variëteite beskikbaar wat kan help met die verbouing van tamaties. Dit verminder egter nie die risiko of beheerstrategie wat gepaard moet gaan met tamatieverbouing nie. Behoorlike sanitasie en insekbeheer is deurslaggewend om suksesvolle verbouing te ondersteun.
VRYWARING: Hierdie inligting is op Sakata Seed se waarnemings en/of inligting vanaf ander bronne gebaseer. Aangesien gewasprestasie afhang van die interaksie tussen die genetiese potensiaal van die saad, die fisiolo-
Aartappelvirus Y (PVY) vorm donker, nekrotiese dele op die tamatieblare.
Simptome van tamatie-kromnekvirus kan duidelik op hierdie tamatievrugte en -blare gesien word.
giese eienskappe daarvan en die omgewing, insluitend bestuurspraktyke, gee Sakata Seed geen uitdruklike waarborg of deur implikasie vir die prestasie van gewasse relatief tot die gegewe inligting nie. Sakata Seed aanvaar nie enige aanspreeklikheid vir enige verlies, direk of as gevolg daarvan, wat te wyte aan enige oorsaak mag ontstaan nie. Lees asseblief Sakata Seed Southern Africa (Pty) Ltd se verkoopsvoorwaardes voordat saad bestel word.