13 Februarie 2013 die courant 209

Page 1

courant

tel 022 487 3221

Uitgawe 209

die

swartland en weskus

13 Februarie 2013

hugenotestraat 24, malmesbury

Nuwe kliniek gister geopen: Die nuwe kliniek in Wesbank, Malmesbury, is gister amptelik geopen, hoewel dit reeds

sedert Julie 2012 operasioneel is en daagliks ongeveer 300 pasiënte hanteer. Die gesondheidspersoneel het die ys gebreek met 'n inspirerende liedjie 'Through it all'. Lees berig op bl. 3

• tendens van HUISPRYSE wissel na gelang van dorp

Dis ’n kopersmark! Swartlandse huispryse styg die afgelope tien jaar konstant in die Riebeek Vallei en op Malmesbury, maar op dorpe soos Moorreesburg en Yzerfontein het die prys die afgelope paar jaar ietwat gestagneer. Die courant het ondersoek ingestel na die neigings in huispryse in die streek oor die afgelope tien jaar. Vir die doel van ons navorsing gebruik ons die voorbeeld van ‘n tipiese drieslaapkamerhuis, met of sonder ‘n swembad, in ‘n gegoede buurt. Agente by Rawson Eiendomme op Yzerfontein het dit onomwonde gestel dat dit tans ‘n kopersmark is. Die eienaars van Makarios Eiendomme op Moorreesburg, Dries en Sharon van Zyl, sê oor die prys van só 'n drieslaapkamerhuis naby die skole op Moorreesburg, met ‘n swembad en motorhuis, die volgende: "So 'n huis het nege jaar gelede R730 000 gekos en ná die geweldige styging in huispryse in 2007, het dieselfde huis verkoop vir R1,2 miljoen. In die huidige omstandighede sal hierdie huis, sonder noemenswaardige veranderinge soos ‘n ekstra motorhuis of nog ‘n badkamer, teen R850 000 gekoop kan word. “Die huidige kredietwet maak nuwe huisverbande baie moeilik,” sê Sharon. “Sedert dié wet in werking getree het, word ongeveer 80% van alle nuwe aansoeke om huisverbande afgekeur. Die rimpel-effek hiervan vang nie net die voornemende huiskopers en eiendomsagente nie, maar ook die prokureurs wat spesialiseer in huisverbande, asook ander verwante beroepe." In die Riebeek-Vallei sê Gail Friedlander van Pam Golding Eiendomme dat 'n drieslaapkamerhuis in die

Vallei 10 jaar gelede R470 000 tot R500 000 gekos het. Met die geweldige styging in huispryse vyf jaar gelede, het só 'n huis se prys meer as verdubbel tot R1,1 miljoen tot R1,2 miljoen, sonder noemenswaardige verbeteringe. Vanjaar verkoop só 'n huis vir ongeveer R1,5 miljoen tot R1,6 miljoen, sê Friedlander. Sy skryf huidige probleme vir voornemende kopers toe aan die huiwerige benadering wat banke deesdae het wanneer hulle oor huislenings moet besluit. "Behalwe vir die ekonomiese situasie wêreldwyd, was elektrisiteit en water destyds relatief goedkoop - ons was onder die wêreld se goedkoopstes wat water en elek­trisiteit betref. Vandag is die prentjie anders, met Suid-Afrika een van die duurstes! Verder is die munisipale tariewe ook veel hoër as vroeër." Rawson Eiendomme op Yzerfontein se navorsing oor die verandering in huispryse in hulle omgewing dui daarop dat ‘n drieslaapkamerhuis in ‘n goeie en veilige buurt tien jaar gelede R475 000 sou kos, vyf jaar later (in 2007) meer as verdubbel het teen R1,4 miljoen en dat die prys nou stagneer teen R1,4 miljoen. Marijanne van Nieuwenhoven en Heleen Plaskitt skryf dié swak groei die afgelope vyf jaar toe aan die swak ekonomiese toestande waardeur ons is: "Banke staan nie meer so geredelik verbande toe nie en weens FICA–wetgewing, waarvolgens die koper se besteebare inkomste deeglik geëvalueer word om dit vir hom moontlik te maak om binne vermoë die paaiement op ‘n verband te kan betaal. Ons beleef op die oomblik ‘n kopersmark. Belangstelling in eiendomme het sta-

dig maar seker weer positief begin swaai. Navrae en verkope is die afgelope ses maande beter. “Probeer soveel moontlik spaar vir ‘n goeie deposito – ten minste 10% van die koopprys. Indien jy gebruik gaan maak van ‘n verband, sorg dat jy ‘n skoon kredietr­ekord het," beveel hulle aan. Top Eiendomme op Malmesbury se verkoopsyfers vir 'n drieslaapkamerhuis in die Bergzicht-area, met twee badkamers en 'n enkelgarage lyk só: R315 000 vir 2004; R650 000 in 2007 en R730 000 in 2011. "Vanjaar sal dié huis vir R800 000 kon verkoop," sê die prinsipaal, Derick van Zyl. Van Zyl reken egter dat daar nie nét slegte nuus vir huiskopers is nie: "Die rentekoerse is beslis nou op sy laagste. Ons weet nie hoe lank dit nog so laag gaan bly nie, maar van nou af kan dit net styg. Onthou net dat hoewel pryse altyd sal fluktueer; 'n belegging in eiendom nog steeds een van die beste beleggings bly! Die huismark in die R700 000 tot R1 miljoen-mark raak al besiger. Ons verkope op Malmesbury het teen die middel van 2012 begin verbeter - alles goeie tekens." Volgens Van Zyl is die beste raad vir voornemende huiskopers om aanvanklik te soek na kleiner eiendomme met potensiaal vir uitbreiding en verbete­rings, soos die bou van ‘n tweede garage. "Moenie as eerste koper jou visier te hoog stel, deur van die begin af in 'n droom-area te moet koop nie! Spaar vir 'n deposito en begin aanvanklik kleiner." Hy voorsien dat die pryse van eiendomme voortaan al hoe duurder sal raak.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
13 Februarie 2013 die courant 209 by DieCourant - Issuu