courant
die Gratis • Free
swartland en weskus Uitgawe 255
Bekroon: Nommer 1-Streekkoerant
hugenotestraat 24, malmesbury
22 Januarie 2014
tel: 022 487 3221
Saam op skool in Piketberg Die De Waals van Piketberg se jongste, Juriaan, is ook vanjaar skool toe. Op die foto is Juriaan (Gr 1), Jana (Gr 4), Stiaan (Gr 5), Hanlie (Gr 7) en Egbert (Gr 8). Al vyf is leerders by die Piketberg Christian School, ‘n Engelsmedium privaatskool wat vier jaar gelede tot stand gekom het en tans met nagenoeg 50 leerders van graad R tot graad 12 pronk. Foto: Marietha Goosen
•plan vir ekonomiese inspuiting
Hupstoot vir streek
‘n Proses om die ekonomiese klimaat in die Swartland ‘n hupstoot te gee volgens die PACAbeginsels, het Maandag op Malmesbury begin. Dit behels ‘n reeks samesprekinge met mense uit die gemeenskappe van Darling, Malmesbury en die Riebeek-Vallei en word gefasiliteer deur ‘n ekonomiese ontwikkelingstrateeg, Colin Mitchell. Die doel van dié reeks samesprekinge is om eerstens die ekonomiese profiel van die streek te leer ken en ontleed, gesprekke en werkswinkels te hou en dan die sterk punte en ekonomiese geleenthede in die gemeenskap te ondersoek. “Die betrokkenheid van die plaaslike sakelui en meningsvormers is baie belangrik,” verduidelik Mitchell. “Ons gesprekke soek daarna om soveel as moontlik mense uit elke dorp te betrek, geleenthede te ondersoek en dan momentum daaraan te gee. Ons werk aksie-georiënteerd, ons soek vinnige resultate en ons is streng besigheids- en markgeoriënteerd.” Die wegspring-werkswinkels wat Maandag op Malmesbury begin het, is Dinsdagoggend op Darling en gistermiddag in die Wesbankgemeenskapsaal op Malmesbury opgevolg met samesprekinge met die informele handelaars van elke dorp. Vandag word die werkswinkels om 9:00 tot 11:30 in die Riebeek-Wes-stadsaal voortgesit,
“
Die kennis van die gemeenskap is altyd beter as die wysheid van die kenners van buite.
”
met klem op die kunstenaars van die omgewing. Môre word die finale werkswinkels oor die resultate van al die gesprekke in die Malmesbury banketsaal gehou en Vrydag vanaf 9:00 tot 12:30 word die finale resultate en die pad vorentoe bespreek in die Malmesbury Biblioteeksaal. “PACA werk op die beginsel dat geen inset uit die gemeenskap as reg of verkeerd beskou word nie. Die fasiliteringsproses probeer ook nie die uitkoms bepaal nie – die kennis van die plaaslike gemeenskap is altyd beter as die wysheid van die kenners van buite en dit vorm die basis van ons gesprekke tydens werkswinkels,” beklemtoon Mitchell. Die raadslid vir ekonomiese ontwikkeling vir die Swartland Munisipaliteit, Chris Hunsinger, sê ook dat hierdie week se werkswinkels
deel vorm van ‘n streekstrategie: “Ons doel is om ‘n streeksekonomie te leer ken en verstaan, want buurdorpe en –munisipaliteite beïnvloed mekaar beslis. Ons fokus dus op ‘n streeksbenadering en die PACA-beginsels gaan regdeur die vyf munisipaliteite van die Weskusdistriksmunisipaliteit gevolg word. Na hierdie week se werkswinkels gaan ons beslis nog opvolgaksies vir die streek hê.” Hunsinger het verwys na die voorbeeld dat opkomende boere en enterpreneurs dikwels sukkel om hul produkte op die mark verkoop te kry, terwyl informele handelaars ‘n stryd voer om hul ware teen billike pryse aan te koop. “As ons die hele waardeketting kan leer ken en benut, kan die verkoper en die aankoper byvoorbeeld bymekaar uitgebring word om so doendedie logiese voordele vir die hele streek te verseker.” • Hoewel 150 uitnodigings uitgestuur is vir die vergadering met sakelui Maandag, was die afwesigheid van dié leiers opvallend. • Die PACA-projek is ‘n loodsprojek van die Wes-Kaapse departement vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme (DEDAT) en strek reg oor die werksgebied van die WKDM, wat benewens die Swartland munisipaliteit, die munisipaliteite van Saldanha, Bergrivier, Cederberg en Matzikamma insluit.