courant
1 Wellington
dié
12 April 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 416
19 April 2017
Krisante vir 101ste keer vereer
Die Wellington Krisante-vereniging sal vanjaar vir die 101ste maal dié blomsoort vereer in die jaarlikse krisante-uitstalling. Anthony Cavernelis, voorsitter van die Wellington Krisante-vereniging, het 'n passie vir krisante en spog breëbors met sy blomme. Lees die volledige berig op bladsy 4.
•105 JAAR: TITANIC SINK DAG VOOR HAAR KOMS
Sy lag, lees graag
•Jaomi Zeeman Die Wellingtonner tannie Margaretha Frederika Visagie se identiteitsdokument is ‘n getuienis wat die meeste mense se verstand te bowe sal gaan. Haar geboortedatum is 1912-04-16 – ‘n volle 105 jaar gelede. In haar leeftyd het tannie Margaretha, ‘n inwoner van Silwerkruin, al meer dinge beleef en gesien as wat enigeen van ons ons kan verbeel. Die beroemde Titanic-skip het presies ‘n dag voor haar geboorte gesink en die konstruksie aan die Panama-kanaal het in dieselfde tyd afgeskop. In haar geboortejaar is ‘n elektriese stoof vir die eerste keer uitgevind, ‘n hartaanval vir die eerste keer gediagnoseer en het die eerste valskermsprong uit ‘n vliegtuig plaasgevind. Sedertdien het baie dinge al verander, en vele dinge maar net dieselfde gebly. Tannie Margaretha het die uitvinding van dinge soos die nederige ritssluiter en die radio ervaar, aardskuddings, depressiejare en oorloë beleef, verskeie mode-, motor- en musiek-eras meegemaak en die ontwikkeling van tegnologie gade geslaan. Wanneer sy hardop wonder of sy baie telegramme op haar verjaardag gaan kry, besef ‘n mens hoe vol en vervleg haar lewenservarings moet wees. Sy lag as sy sê: “O, die mense gaan nou weer baie erg wees oor my met die groot verjaardag.” Volgens tannie Margaretha voel sy nog baie goed. “Ek het geen pyne nie en gaan nog goed aan. Ek is eintlik baie gesond,” sê sy.
Haar helder oë blink wanneer sy oor haar gevorderde jare praat. “Ek het nooit gedink ek sal so oud word nie.” Sy vertel dat sy “goeie kinderjare” in Pretoria gehad het. Sy is een van sewe kinders, van wie sy die enigste oorlewende is. Sy het een dogter, Christa Botha, wat tans in ‘n woonstel in Fyngoud bly. “Dis so lekker. My dogter kom kuier elke dag by my in Silwerkruin,”
sê tannie Margaretha. “My ma is nog so gesond. Sy drink baie minder pille as ek,” lag Christa. Volgens tannie Margaretha is die resep vir ‘n goeie, gesonde, lang lewe baie eenvoudig. “Ek is nie eintlik een vir speeches en prekies nie, maar ek sou sê jy moet baie lag, altyd bereid wees om ander te help, lief wees vir almal, veral lief wees vir kinders en nooit ophou speel nie,” deel sy haar raad. Haar kamermuur is versier met die foto’s van haar dogter, kleinkinders, agterkleinkinders en hul uitgebreide families. Op haar tafel lê haar tydskrifte en Bybel. “Ek lees graag,” sê sy. “En ek doen graag handwerkies. Ek is baie lief vir brei.” Pols ‘n mens haar oor of sy darem nog goed genoeg kan sien om te lees en te brei, antwoord sy: “Nee wat, ek dra nie ‘n bril nie. Ek het ‘n leesbril, maar ek kan goed lees sonder hom. Ek brei nie met ‘n bril nie. My oë is nog baie goed.” Haar versorgers beaam dit. Hulle noem ook dat sy altyd vol grappies is. 105 jaar is voorwaar ‘n besondere mylpaal – só besonders dat daar selfs ‘n groot ruiker blomme van Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein Munisipaliteit, by tannie Margaretha afgelewer is. Oor die feit dat sy iemand is wat die hele hedendaagse moderne geskiedenis gade geslaan het, ‘n vol lewe gelei het en ‘n skatkis van herinneringe met haar saamdra, blink haar oë. “Ek is baie dankbaar. Ek sê weer, ek het nooit gedink ek sal so oud word nie.”
NUUS • NEWS