417 dié courant wellington

Page 1

courant

1 Wellington

dié

26 April 2017

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 417

26 April 2017

•THALI NEEM KOMBUIS OP HORINGS

Kok kook ‘n storm los op die kassie •Jaomi Zeeman

Skuif opsy, Gordon Ramsay en Jamie Oliver! Die 12-jarige Thali Hugo (foto regs) is besig om haar messe te slyp, haar kookvernuf te laat prut en die harte van televisiekykers regoor die land te verower. Hierdie plaaslike leerder van Hugo Rust Laerskool is een van die 10 jong kokke wat elke Woensdagaand in die gewilde KykNet-reeks, Kokkedoortjie, vir groot opwinding sorg. Volgens Thali het sy die advertensie vir die kompetisie een aand op televisie gesien. “Ek het dadelik vir my ma gesê ek wil inskryf. Ek hou van uitdagings,” sê sy. Sy het reeds, na afloop van die landswye oudisies, in 2016 gehoor dat sy ‘n finalis vir die kompetisie is, maar moes die geheim vir ‘n baie lang ruk bewaar. “Dit was ‘n baie lang tyd om die geheim te hou, ons mag vir niemand gesê het tot hulle die top 10 aangekondig het nie,” vertel Thali. “Ek het slegs die laaste twee dae van die derde kwartaal verlede jaar gemis. "Die reeks is tydens die Oktobervakansie van 2016 geskiet,” sê sy. Elke kind kon een ouer vir ondersteuning saamneem en Thali het besluit dat haar ma, Aletha, aan haar sy moes wees tydens die verfilming. “Aangesien my ma elke dag met kos werk, het ek besluit om haar saam te neem,” verduidelik sy. Thali verklap dat sy voor die verfilming haar kunsies in die kombuis met ‘n paar oefenlopies in sekere geregte probeer verfyn het. “Ek en my ma het ‘n lysie gemaak van ‘n paar basiese dinge wat ek wou oefen by die huis. "My gesin was baie bly, want hulle was die proefkonyne! "‘n Paar dae voor die kompetisie het ek net probeer kalm bly en rustig wees saam met my pa en susters, want ons mag hulle nie gesien het tydens die kompetisie nie,” vertel sy.

Kykers kon in onlangse episodes sien hoe Thali sing terwyl sy kosmaak. Sy vertel dat die opnames aanvanklik nogal senutergend was. “Daar was omtrent 60 mense wat op die stel gewerk het vir ons 10 kinders en ouers, so die kameras en mense het my nogal op my senuwees gemaak. "Maar later raak jy gewoond daaraan. Ek

het net heeltyd vir myself gesê om te fokus en een ding op ‘n slag te doen,” sê sy. Haar vriende en familie is baie opgewonde oor haar deelname aan Kokkedoortjie. “Hulle dink dis baie cool! My maats is net so bly vir my onthalwe. Sommige het saam met my by ons huis die eerste episode kom kyk. Tot my tannie wat in London bly, volg dit elke Woensdagaand,” vertel Thali. Daar is sowaar al vreemde mense wat haar op straat herken het ook. “Ons was vir die Paasnaweek op Langebaan en ‘n meisie van ongeveer my ouderdom het my herken. "Ons het so bietjie met mekaar gesels. Dit voel baie vreemd as mense wat jou nie ken nie jou sommer groet!” lag sy. Volgens Thali was die hoogtepunt van haar deelname aan Kokkedoortjie die vriende wat sy daar gemaak het. “Daar was geen kompetisie tussen ons nie. Ons het groot vriende geraak en is nou nog in kontak met mekaar. "Dit was een groot avontuur saam met hulle. As ons nie op stel was nie, het ons gespeel,” vertel sy. “My grootste uitdaging was om by die tyd te hou en binne die bepaalde tyd klaar te maak. Dis baie moeliker as wat dit lyk.” Vir hierdie plat-op-die-aarde kosliefhebber voel dit nog steeds onwerklik om haarself nou elke week op televisie te sien. Dit was ‘n ondervinding waar sy ongelooflike dinge geleer het. “My grootste les wat ek geleer het, is om respek te hê vir my bestanddele en ook dat dit net so belangrik is dat kos mooi moet lyk as wat dit lekker proe,” sê Thali. Oor hoe ver sy in die kompetisie gevorder het, is sy egter baie geheimsinnig. “Julle sal maar elke week moet kyk om uit te vind,” glimlag sy.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
417 dié courant wellington by DieCourant - Issuu