courant
1 Wellington
dié
19 Julie 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 429
19 Julie 2017
•VASVATTER WOEKER EN WOEL MET TALENTE
Goue Ouma ploeg terug in mense •Jaomi Zeeman Haar kinders en kleinkinders noem haar ‘n “Goue Ouma”, maar die boervrou Elsabe du Plessis is allesbehalwe ‘n tipiese ouma. Haar energie en die dinge waarmee sy haar besig hou en aanpak, sal heel moontlik enige jongmens uitasem laat. Hierdie vasvatter is nie net ‘n boervrou en ouma nie, maar ook ‘n bobaas-kok, entrepreneur, werkskepper, spreker, kultuurmens en ‘n integrale deel van Wellington se gemeenskapslewe. Elsabe het ‘n lang verbintenis met Wellington. Sy het na haar matriekjaar in Upington in die Kaap kom studeer. “Ek het een aand saam met my suster, Anna, wat toe aan die destydse WOK studeer het, na ‘n partytjie gegaan waar ek my man, Niel, ontmoet het. Ons is in 1970 getroud en die res is, soos hulle sê, geskiedenis,” vertel sy. Elsabe en haar man het vyf kinders en 10 kleinkinders. “Al vyf is getroud en bly sommer so rondom ons,” sê sy. “Ons probeer gereeld saamkuier – al 22 van ons – en dan sê Niel altyd dat hy ‘n ‘sound extractor’ wil laat installeer omdat ons soos ‘n klomp kwêvoëls klink wat losgelaat is,” lag sy. Haar kleinkinders sien gereeld uit na die avonture wat hulle saam met hierdie energieke ouma beleef. Die innoverende Elsabe dink kortkort aan nuwe uitstappies wat sy saam met haar kleinkinders kan onderneem. “Ek het hulle al met die trein Kimberley toe geneem vir ‘n naweek. Elkeen kry dan ‘n onderwerp waaroor hulle meer moet uitvind oor die area – die boerdery, geskiedenis, produkte, ens. Dan kry elkeen ‘n beurt om voor die hele groep te staan en hulle inligting wat hulself moes versamel, met ons te deel. Ek glo dit gee hulle selfvertroue, leer hulle om navorsing te doen en les bes gee dit hulle meer kennis oor die plek waarheen ons gaan. Ons het ook al uitstappies na die Grootte Kerk, Kasteel, Tafelberg, Kleinplasie, die leeu- en slangpark en Butterfly World onderneem. Dit is groot pret,” vertel sy. Oor haar sukses as ‘n besigheidsvrou en entrepreneur is Elsabe baie nederig. Sy vertel dat sy vir baie jare olywe ingelê en verkoop het. Toe haar seun en skoondogter op die plaas kom help boer, het sy meer tyd tot haar beskikking gehad en met ander produkte begin eksperimenteer. “Ek het my eendag terwyl hulle Pinotage druiwe pars, staan en verwonder aan die pragtige korreltjies en die ongelooflike pers sap. Ek het net
daar en dan besluit dat as jy van enige ander vrug konfyt kan kook, hoekom nie van Pinotage, ons enigste Suid-Afrikaanse druiwe, ook nie,” sê sy. Haar eerste poging het 60 flesse Pinotage konfyt opgelewer en sy het die bekende kosghoeroe, David Higgs, daaraan laat proe. Sy opgewondenheid oor dié heerlike konfyt het Elsabe aangespoor die volgende jaar meer hiervan te kook, maar sommer ook konfyt van die Merlot, Cabernet en Shiraz druiwe te kook. Dit was die geboorte van haar wye reeks konfyte en ingemaakte produkte. “Ek was mal van opgewondenheid, want ek het waarde toegevoeg tot ons bedryf en ek het werk geskep vir die dames op die plaas wat nie meer kon pars nie,” vertel sy. Sy noem die span wat haar help haar “hospitaalspan”. “Ek kry die siekes, oues en luies om te help kook, want die res pars. Glo my, die ander is lekker jaloers op ons, want ons luister musiek, praat oor onderwerpe soos dwelmmisbruik, gesondheid, gee raad, ruil resepte en plantjies uit en almal is ewe belangrik en lewer nog ‘n goeie dag se arbeid. Party is al in hul sewentigs, maar hulle was en korrel die druiwe en voel só dat hulle nog ‘n nut het,” vertel sy oor die kameraderie onder
haar span. Elsabe glo ook daarin om in haar gemeenskap terug te ploeg en in haar plaasmense te belê. Haar “Jêm Stoor” het al vir die verdere studies van jongmense op die plaas betaal en haar konfyte is al aan voedingsprogramme geskenk, het al op vele basaartafels diens gedoen, is deel van talle geskenkpakke en fondsinsamelings. Sy skenk ook gereeld produkte aan kultuurinisiatiewe op die dorp. Buiten haar eie reeks produkte, moes sy ook al vir verskeie wynlandgoedere in die omgewing spesiale konfyte op versoek ontwikkel. Hierdie entrepreneur kook nie net konfyt nie, maar speel ook graag toneel, skryf haar eie toneelstukke, tree gereeld as motiveringspreker en seremoniemeester op en lewer kosdemonstrasies. Sy is ook deel van die Dameskring en VLV. Wanneer ‘n mens wonder waar sy die tyd en energie kry om al hierdie dinge te doen, is haar antwoord eenvoudig: “Almal vra hoe doen ek alles. Hier is die resep: `n dag het 24 uur – 8 uur om te slaap, 8 uur om te werk en 8 uur om te speel. Slaap `n bietjie minder, werk `n bietjie minder en dan is daar meer tyd om te speel en dit te doen waarvan jy hou.”
NUUS • NEWS