430 dié courant wellington

Page 1

courant

1 Wellington

dié

26 Julie 2017

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 430

26 Julie 2017

•HISTORIESE GEBEURE GEBOEKSTAAF

Skatkis in plakboek opgesluit

•Jaomi Zeeman ‘n Mens ontdek soms ‘n skat op ‘n plek waar jy dit die minste verwag. In ‘n stil straat in ‘n rustige buurt in Wellington bly ‘n man met ‘n ongelooflike versameling plakboeke. Al die groot historiese gebeure, talle groot historiese figure en ‘n onnoembare aantal interessante plekke is presies, netjies en sistematies vir ewig geboekstaaf in die 90-jarige oom Chris Kleingeld se plakboeke. In sy kamer by sy seun se huis staan die plakboeke, lêers en ander inligtingstukke wat hy oor die jare versamel het, netjies in gelid. Hy kan sy hand dadelik op enige belangrike inligting lê en weet presies watter inligting waar in sy stelsel geboekstaaf is. Die plakstukke word afgewissel met dele wat hy self oor sekere aangeleenthede geskryf het. Wonder ‘n mens oor wat iemand inspireer om so iets te doen, is sy antwoord eenvoudig. “Mense sê wat se geplakkery is dit? Ek voel net ‘n mens lees ‘n koerant en jy gooi hom weg, dan gaan al die inligting verlore. As ‘n mens hierdie goed bewaar, dan het jy alles bymekaar,” verduidelik hy die rede vir sy presiese stelsel. Oom Chris, wat eers lank in die handel was en onder andere in meubelwinkels en klerewinkels gewerk het, het in 1970 by die Spoorweë ingeval. Hier is hy as vragkontroleur by Elandsfontein aangestel. In 1972 is hy as een van slegs twee persone in die land gekies om ‘n trein, wat 400 motorkarre vervoer en ‘n kilometer lank is, se voorman en nasiener te wees. In 1976 is hy as voorman by die grootste oorlaai-spoorwegdepot by Johannesburg in die Suidelike Halfrond aangestel. ‘n Jaar later is hy na Hugenoot-stasie oorgeplaas, waarna hy in Kraaifontein gaan woon het. Na sy aftrede in 1990 het hy vir 12 jaar in ‘n groot bottelstoor gaan werk waar hy verantwoordelik was vir die administrasie van al die leë bottels wat teruggebring is. Hier het hy die inruiling van meer as 2 miljoen bottels behartig. Deur al sy jare in die handel en Spoorweë het oom Chris inligting versamel en ou koerante bymekaargemaak. Hy het selfs fondsinsamelings vir ouetehuise en gemeentes met die herwinning van ou koerante, waarvan hy die inligting klaar uitgeknip het, gedoen. Oom Chris is ‘n boffin met datums. Hy kan die dag, datum en jaar van ontmoetings met sekere mense, hoogtepunte in sy lewe, dae waarop hy op plekke begin werk het of wat hy verhuis het, presies onthou en noem. Hierdie presisie word

ook in sy plakboeke weerspieël. Die inligting in elke plakboek is volgens ‘n sekere tema gegroepeer. Daar is boeke oor die wêreldoorloë, bekende Suid-Afrikaanse persoonlikhede en verskeie streke in ons land. Hy het hom egter, toe hy na sy aftrede na ‘n woonstel getrek en nie meer kon tuinmaak of gereeld werk in en om die huis doen nie, meer op die versameling en plak van belangrike inligting begin toespits. Die 70ste herdenking van die Tweede Wêreldoorlog in 2015 en die gepaardgaande koerantartikels oor hierdie onderwerp, het oom Chris nóg meer aangespoor om sy plakboeke hieroor by te hou. “Kyk, ek het in die tyd van die oorlog geleef. Die dinge wat tydens daardie oorlog gebeur het, mag mos nie vergeet word nie. Ek het nog ou koerantknipsels wat ek gehou het van 1945 af – ek was toe in matriek. Ek het ook self stukke geskryf oor wat tydens die oorlog gebeur het,” vertel hy terwyl hy die boek vol uitgebreide inligting met plakstukke en inligting wat hy self versamel het, wys. Die onlangse fokus op Sailor Malan, die navorsing wat oor hom gedoen is en die praatjie wat ‘n paar weke gelede by die plaaslike museum oor hom gehou is, was vir oom Chris geen nuwe inligting nie. “Ek het as kind op Noupoort al van Sailor Malan geweet en ek was gefassineer deur hierdie Suid-Afrikaner wat ‘n vegvlieënier en held in die

oorlog was,” vertel hy terwyl hy flink na ‘n hele afdeling oor Sailor Malan in sy plakboeke blaai en ‘n gedeelte oor hierdie held voorlees. Oom Chris blaai na plakstukke van nog ‘n Suid-Afrikaanse oorlogsheld. “Hierdie is nog een van ons onbesonge oorlogshelde, Dan Pienaar. Hy het saam met Montgomery van Brittanje ‘n groot veldslag gewen. Voor die Duitsers hulle oë kon uitvee toe sit die Suid-Afrikaners onder hulle neuse binne-in Italië,” sê hy terwyl hy met sy vinger op ‘n foto van ‘n knipsel van Dan Pienaar druk. Oom Chris, wat Hitler se grootste drie foute mét bewyse uit sy bronne self kan analiseer, se kennis van die geskiedenis, ons land en sy mense is verstommend. Sy plakboeke is ‘n getuienis van presisie, toewyding en ‘n ongelooflike nuuskierigheid oor en belangstelling in die wêreld. Sy boekrak is ‘n skatkis van inligting wat hy self oor die jare versamel het en eintlik iewers in ‘n museum of die argiewe hoort. In ‘n stil straat in ‘n rustige buurt in ons dorp is daar, soos seker in vele ander plaaslike strate en buurte, ‘n skatkis van inligting en bewyse van hoe ons tot hier gekom het. Wanneer die kuberruim miskien eendag ineenstort kan ‘n mens jou maar op oom Chris Kleingeld se databasis begewe. Terwyl die lewe sy loop neem, hou hy noukeurig boek van dié dinge wat die geskiedenis vorm.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
430 dié courant wellington by DieCourant - Issuu