433 dié courant wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

16 Augustus 2017

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 433

16 Augustus 2017

•TOERUSTING VORT SAAM MET VOERTUIG

Koopman sien kuns opgesluit in hout •Jaomi Zeeman Die Wellingtonner Johnny Koopman is ‘n man van vele talente. Hierdie 75-jarige pensionaris van Van Wyksvlei sit allesbehalwe ledig rond elke dag. Hy is ‘n kunstenaar wat elke dag aan sy kunswerke uit hout werk. Stap ‘n mens by oom Johnny se hek in, is dit sy stewige handdruk en vriendelike oë wat jou begroet. Sy hande vertel die storie van baie werk, vasvat en aanhou. Oom Johnny is oorspronklik van Wupperthal, diep in die Cederberge. Wanneer hy sy oë op skrefies trek en oor die plek waar hy forel geskiet het praat, spoor sy mooi, unieke aksent terug Wupperthal toe. “Ek kom daar van Wuppertal se omtes af. Ek was eers ‘n plaaswerker daar, maar het in 1962 Boland toe gekom. Ek het op ‘n plaas in die Agter-Paarl begin werk. Daar het ek baie dinge geleer. Ek het geleer om met sement te werk, om te bou, om te bestuur. Dit is hoenderplase en ek het geleer van die verskillende groottes kuikens, die eiers en so meer,” vertel hy. Oom Johnny verduidelik dat hy altyd agter werk aan getrek het. Hy het ook bouwerk gedoen en sy laaste werk was om skoolkinders tussen Wellington en die Kaap te vervoer. “Ek moes altyd probeer dat ek ‘n huis kry waar ek werk en dat ek werk waar ek ‘n huis kan kry. Ek het baie werke gedoen. Die laaste een was ‘n taxi-drywer vir skoolkinders,” sê hy. Oom Johnny en sy vrou het vier kinders. Hy is nou ook die trotse oupa van vier kleinkinders. Hy vertel dat hy tot in 2000 gewerk het voordat hy afgetree het. “Ek het in my jare baie ondervinding opgedoen. Dit maak my gelukkig. Ek voel goed oor al die dinge wat ek geleer het. Ek het iets geleer op die skool van ‘die arbeidspad’. Dit het vir my baie beteken. Dit beteken dat jy niks in die lewe sonder harde werk kry nie. Ek glo daarin. Om ledig te wees, is ‘n totale slegte ding,” sê hy. Hoe het dit dan gekom dat hy kunswerke uit hout begin maak het? Dit is juis sy weersin in ledigheid wat hom laat besluit het om verskillende items uit hout te maak. “Ek dink ek is eintlik met die kunsding gebore. Ek het al toe ek nog by my ma gewees het die mes gevat, sommer so in die veld rond takkies gesny, kierietjies gemaak, ketties. Dan het my ma altyd gevra: ‘Wat loop en sukkel jy so? Jy besig bly met

jou mes en jou goedjies,’” vertel hy oor die ding wat al jare lank in hom brand. Na sy aftrede in 2000 het oom Johnny uiteindelik tyd gehad om hierdie liefde van hom uit te leef. “Die eerste goed wat ek uit hout gemaak het, is perdjies. Ek het aangegaan om kuns en goed uit hout te maak tot so twee jaar gelede,” sê hy. Oom Johnny en sy vrou is ongelukkig twee jaar gelede voor hul huis gekaap en die toerusting waarmee hy sy kuns beoefen het, is in sy motor se kattebak saam met die motor gesteel. “Alles is toe net so weg,” vertel oom Johnny hartseer. Sedertdien maak hy steeds beeldjies en ander items uit hout, maar met slegs ‘n knipmes, saag, beitel en ‘n hamer. Hy maak nog steeds perde. Hy maak ook perdekarre, waens, mensfigure en wilde diere. Hy maak selfs kitare en viole. “My broer in Wupperthal het een van my viole en kitare. Hy kan viool speel en kitaar. Dis mos

die wêreld van die riel. Oooo, as hý darem ‘n kitaar optel. Kyk, ek dans nie sommer vir enige musiek nie, maar as daai boetatjie die kitaar optel, dan wil ek net die riel dans. Dis daai ritme, ek kan dit nie help nie, al is my bene nou seer,” vertel oom Johnny met blink oë. Oom Johnny is nie kieskeurig oor hout nie. Hy gebruik sommer enige stuk hout waarop hy sy hande kan lê en gebruik soms selfs boomwortels. Hy vertel dat dit wat die hout “wil word” sommer so vanself kom. “Ek kan sien wat die hout moet word wanneer ek dit so in my hande hou. Ek weet wat dit gaan word voordat ek daaraan begin werk,” verduidelik hy. Oom Johnny het nooit enige opleiding of onderrig in houtwerk of kuns gehad nie. “Ek het nie ondervinding van hoe om dié goed te doen nie. Ek doen dit sommer net so uit die staanspoor uit. Ek het dit vir myself uitgewerk,” sê hy. Sy groot droom is om weer behoorlike toerusting te hê waarmee hy kan werk en om sy werk te verkoop. Party van sy kunswerke het selfs bewegende dele of ‘n “dieper boodskap”, soos die een wat hy ter bewusmaking van renosterstropery gemaak het. Hy vertel dat dit hom bykans ‘n maand neem om een mensfiguur te maak. “Dit vat nou so lank omdat ek natuurlik nie die regte gereedskap het nie,” verduidelik hy sy dilemma. Op sy viole is oom Johnny baie trots. “Ek het geen kennis opgedoen van musiek nie, maar ek ken musiek en ek kan viool en kitaar speel. Ons het mos maar sommer onsself geleer om dié goed te doen. Toe ek nog ‘n snuiter was, was my pa ‘n veewagter en ek was in die veld saam met hom. Ek het begin om my besig te hou en het ‘n blikkiesviool gemaak. Dis daai goed waarop die mense nou so saam met David Kramer speel,” vertel hy. Hy wys na ‘n viool en ‘n kitaar wat halfpad klaar is. “Omdat my tools nou almal weg is met die kaping, het die goed nou bly staan. Ek kan dit nou ongelukkig nie met die goedjies waarmee ek nou werk, klaarmaak nie,” sê hy. “Ek is gewoond besig wees. Kyk, ek kan nie stilsit nie, dan sal ek doodgaan. Hierdie goed hou my besig,” sê dié kunstenaar en rieldanser – een wie se viool- en kitaarklanke gereeld teen die hange van die Cederberg in Wupperthal weerklink. Vir meer inligting kan belangstellendes oom Johnny by 062 278 8112 kontak.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.
433 dié courant wellington by DieCourant - Issuu