courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
1 November 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 444
1 November 2017
•'SIEN DIE PRENTJIE WAT MET MY PRAAT RAAK'
Christene trap nie klei met kunswerke
•Jaomi Zeeman Christene Marais is ‘n vrou wat nie kleitrap of voete van klei het nie - hierdie kreatiewe mens maak die mooiste gebruiksartikels, wat elk ‘n kunswerk in eie reg is, vanuit klei. Christene, oorspronklik ‘n Karookind van Beaufort-Wes, haar man en vier kinders het tot 2011 in Pretoria gewoon, waarna hul na Wellington verhuis het. “Charl het altyd liefde vir die Kaap gehad en toe die geleentheid hom voordoen, het ons dit aangegryp. Hy is ‘n vlieënier en ons moes binne een uur ry-afstand vanaf die lughawe wees. Wellington was ons gunsteling plattelandse dorp,” vertel sy van hul pad tot op Wellington. In die bietjie meer as vyf jaar wat hulle in Wellington woon, het die dorp en omgewing hul harte gesteel. “Wellington en die platteland is meer as wat ons ingedagte gehad het. Ons geniet alles – die mense, die skole, omgewing en die betrokkenheid,” sê Christene. Haar pottebakkery en pragtige produkte het gou ‘n gunsteling in Wellington en die Wes-Kaap geword. Dit is egter ‘n kunsvorm wat sy al sedert 2002 beoefen en iets waarop sy haar unieke stempel afgedruk het. Volgens Christene het haar liefde vir pottebakkery begin toe hulle in Mooikloof, Pretoria, gewoon het. “Daar was vier vriendinne in my straat wat voor my met pottery begin het. ‘n Bekende pottebakker, Margot Rudolph, het ook in Mooikloof gewoon en klasse aangebied. Ek het toe pas my derde kind gehad en het onder my vriendinne se aanmoediging begin om pottery klasse te doen, bloot as afleiding en om bietjie uit die huis te kom,” vertel sy oor die begindae van haar kuns. Die sente wat sy vir daardie eerste klasse moes aftel, was egter deur en deur die moeite
werd. “Toe die gogga byt, kon ek letterlik nie wag vir die klasse nie. Ek het na so drie jaar se klasse vir die eerste keer my eie stel bekers gemaak. ‘n Vriendin het dit raakgesien en wou ook sulke bekers hê en so het die proses begin,” sê Christene oor haar eerste bestelling. Sy het haar eie wiel gekoop en al hoe meer onafhanklik begin werk. Uiteindelik het sy produkte aan verskeie markte in Pretoria verskaf en kon nie voorbly met al die bestellings wat ingestroom het nie. Christene se liefde vir blommetjies, kleur, polkakolle, detail en vrolikheid wat in haar produkte gestalte gekry het, was ‘n wenresep. “Ek dink die grootste motivering waarom
ek my eie goed wou maak, was omdat ek nie in die winkels kon kry wat ek half in my kop gehad het nie,” sê sy. Alhoewel sy nooit aanvanklik daaraan gedink het om enigiets meer as net vir haarself te maak nie, moes die vriendin wat haar eerste stel bekers bestel het vinnig vir Christene besigheidskaartjies vir haar vinnig-groeiende besigheid ontwerp. “Die belangstelling in my produkte het gegroei en namate mense my eie functional art gesien het, het dit maar net ontwikkel,” sê sy. In Wellington het Christene ook begin om werkswinkel in hierdie kunsvorm aan te bied. Volgens haar is hierdie inisiatief van geselligheid, saamkuier en kreatief wees ‘n wen-kombinasie. “Dis sommer asof mense se binnekante ook vars en vrolik word, terwyl hulle saamkuier en handvaardig is,” sê sy. Alhoewel Christene geen kunsopleiding of agtergrond het nie, is haar natuurlike aanvoeling vir mooi dinge, sowel as haar vaardigheid die boustene vir haar sukses. “Ek is ingestel op detail en as ek ‘n figuurtjie of prentjie sien wat met my praat, sal ek dit hou sodat ek moontlik rondom dit kan werk of dit kan inwerk op my pottery. Ek probeer nie regtig ‘n boodskap oordra met my werk nie. Ek weet dis lewendig en vars en anders - ek weet dis die Here wat dit vir my gee,” sê sy. Christene het gewoonlik voorraad van haar produkte by haar huis, maar dit word ook by koffiewinkels en kunsgalerye uitgestal. “Die oonde neem 12 ure om die regte temperatuur te bereik en 12 uur om weer af te koel. ‘n Glasuuroond neem tot 15 uur om warm te raak en net soveel tyd om af te koel. Elke koppie en piering word omtrent 15 keer hanteer voordat dit klaar is,” verduidelik sy hierdie langsame proses - een wat sy elke keer met baie entoesiame aanpak.
NUUS • NEWS